Hyundai se nuwe bus is hier

As jong laaities het ek en my stiefboetie gedink ons is bobaas-motorontwerpers. Ek onthou ʼn tyd toe ek net die ontwerp perfek wou hê en my stiefboetie altyd syne met die grootste gewere – uzzi’s en masjiengewere – geteken het.

Hyundai het nou wel nie sy H1-plaasvervanger met gewere toegerus nie, maar die ontwerp is fantasties. Ek is ʼn groot liefhebber van die H1. As mev. Staniforth en die kinders hul sin kry, staan daar al môre ʼn H1 in die oprit.

Die Staria, die H1 se plaasvervanger, gaan waarskynlik nog meer gewild wees. Die ontwerp is nie net puik aan die buitekant nie maar ook in die binneruim. Daar is nou ʼn uiters luukse model tot die reeks gevoeg wat meer met ʼn Mercedes-Benz V-klas meeding as die intreevlak-Kombi. Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar, Executive, Elite en Luxury. Die Executive is beskikbaar met twee sitpleksamestellings – nege of 11 sitplekke.

Die Staria word aangedryf deur ʼn puik 2.2-viersilinderturbodiesel met 130 kW en 430 Nm. Dié krag word deur Hyundai se puik 8-spoed-outo aan die voorwiele gestoot. Die grootste voordeel van dié enjin-en-ratkas-kombinasie met die voorwielaandrywing is die brandstofverbruik. Die Staria haal maklik 8 l/100 km en beter én kan 2.2 ton sleep.

Op die pad is die Staria voorwaar ʼn belewenis. Die ritgehalte is puik. Dit is verstommend hoe Hyundai dit kon regkry dat ʼn voertuig op sulke groot wiele só sag en soepel kan ry. Padhouvermoë is in die kol, veral vir ʼn bus. Die Staria voel egter eerder of mens ʼn motor bestuur en nie ʼn groot, lomp gesinswa nie.

Aan die veiligheidskant bied die Staria ʼn indrukwekkende spesifikasievlak. Die middelste sitplekke op die H1 het nie driepunt-gordels gehad nie, maar die Staria het wel nou. Daar is ook ses lugsakke en aktiewe veiligheidstelsels soos kruisverkeerwaarskuwing, blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing en dies meer op die luukser modelle.

Ek glo dat die intree-Executive-spesifikasievlak beslis die Staria se topverkoper sal wees. Die Elite is egter lieflik – om nie eens te praat van die Luxury nie. Die Luxury-model het self nege sitplekke, maar sy samestelling is 2, 2, 2 en 3. Die vierde ry sitplekke is amper in die kattebak en los min ruimte oor. Al die rye kan skuif, so mens sal kattebakplek kan maak, maar dan is beenruimte in die tweede, derde en vierde ry bitter min. Die tweede ry sitplekke in die Luxury-model kan omdraai sodat die tweede en derde rye vir mekaar kyk. Die Luxury-model is met ʼn fantastiese Bose-klankstelsel toegerus; ek sou dit egter in enige van die modelle as ʼn opsie wou kon kies.

Dit is bitter maklik om die Staria op te som. Dit is ʼn reusetree vooruit vir Hyundai. Die Staria Executive is ʼn lekkerder voertuig as wat die Elite H1 was, en dan het mens nog die Elite- en Luxury-modelle met verskeie opsies van sitpleksamestellings. Dit bus is nie uitermatig duur nie, en Hyundai is beslis bekend vir hul betroubaarheid. Die brandstofverbruik is ʼn bonus. Ons het met die bekendstelling die roete verkeerd gelees en moes toe inderhaas 130 km inhaal. Die Staria het bitter lang bene en sal mens beslis maklik in die tronk kan kry, maar die 130 km is in ʼn japtrap ingehaal.

Die reeks lyk só:

Hyundai Staria 2.2D Executive 9-sitplekR789 900
Hyundai Staria 2.2D Executive 11-sitplekR799 900
Hyundai Staria 2.2D Elite 9-sitplekR959 900
Hyundai Staria 2.2D Luxury 9-sitplekR1 099 900

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/200 000 km-waarborg. Die Executive- en Elite-modelle geniet ʼn 6 jaar/90 000 km-diensplan en die Luxury ʼn 7 jaar/105 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons gaan beslis weer tyd met die Staria deurbring en sal hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Belinda ·

sjoe dis n lelike ding…. wat skeep hulle die voorligte so af?
Dis oor die algemeen n baie goeie voertuig maar jis hy is glad nie mooi nie.

Michael ·

Sjoe saam die nuwe Quantum is hullle nou die lelikste bussies op die pad-dit lyk of die voorkant teen ‘n muur vasgejaag het-dit lyk net nie reg nie. Hyundai se ander voertuie se voorkante lyk darem stukke beter

Wielspore ·

Daar is hy nou, met ‘n ontwerp van “voor vandag se tye”. Sal ek hom koop, beslis ja, die yster lyk aantreklik en is voor sy tyd. Daar is ook ander realiteite om na te kyk, hierdie bakwerk het al heelwat kere verander in ‘n kort tyd waar VW eerder glo aan die behoud van ‘n ontwerp om die produk en sy onderdele volhoudbaar te maak. Dit is maar nou so dat mens lank wag vir onderdele op ingevoerde modelle. Lees mens die berig tot op die einde kom jy op die prys af wat gelykstaande is aan ‘n goeie huis op die platteland, dan besef jy dat jy ongelukkig nie in lyn staan vir die yster, tensy jy seker die Lotto wen. Hou aan droom oor mooi karre en Lotto wengeld, lekker ry.

Die Goodwoodianer ·

Die Ford Sierra van ’82 was ‘voor sy tyd’.

Hierdie is afskuwelik.

Vonkprop ·

Ek ry self ‘n Hyundai en is versot op Hyundai, maar nee hierdie werk nie vir my nie. As hy dalk meer lyne gehad het wat die eenvoud bietjie sou breek sou dit beter gewerk het, maar hierdie lyk soos ‘n gebruikte koekie seep met ‘n LED streep vooraan. Lyk seker beter in vlees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.