Hyundai se Palisade wys sy staal

Ek het onlangs die voorreg gehad om met die splinternuwe Hyundai Palisade te ry. Wat presies is dit? Die Palisade is Hyundai se vlagskipsportnutsvoertuig – ʼn enorme buks en pragtig ook.

Wie is sy mededingers? Waarskynlik voertuie soos Toyota se Prado of Ford se Everest Limited, maar albei daardie modelle is op bakkie-boeties geskoei. Ek dink die Palisade is eerder nader aan ʼn Volvo XC90 en BMW se X7… of selfs Mercedes-Benz se GLS!

Die ontwerp van die Palisade is werklik mooi, voor en agter. Dit lyk stylvol en elegant. Die binneruim is luuks, ja – maar beslis nie so weelderig soos die XC90, X7 of GLS nie – maar nie vir ʼn gebrek aan tegnologie nie, eerder die feit dat mens steeds kan voel dis ʼn Hyundai, en nie eerder ʼn luukser produk soos mens kan voel tussen ʼn Toyota en ʼn Lexus nie.

Die binneruim is gepeper met elke luuksheid, daar is leersitplekke (verhit of verkoel), radarbeheerde spoedkontrole, Apple CarPlay en Android Auto, ʼn panoramiese sondak en klimaatbeheer om net ʼn paar te noem. Die sitplekke is egter fantasties en ʼn mens is dadelik gemaklik. Die tweede ry is sulke pragtige kapteinstoele – armleunings en al.

Op die pad is waar die Palisade werklik sy staal begin wys. Daar is vierwielaandrywing en ʼn lieflike ritgehalte. Die 2.2 viersilinderturbodieselenjin en 8-spoed outomatiese ratkas is ʼn juweel. Die kragbron bied 142 kW en 440 Nm – maar dit is eerder die romerigheid wat ʼn mens sukkel om in ʼn diesel te vind, en die brandstofverbruik wat beïndruk. Die Palisade haal maklik 6,5 ℓ/100 km as jy sag met hom werk.

Die Palisade spog met ʼn magdom aktiewe en passiewe veiligheidstelsels. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer. Dit is egter die botsingwaarskuwing met noodremhulp wat die Palisade in die volgende liga plaas.

Dit is bitter maklik om die Palisade op te som. Dit is ʼn pragtige voertuig, met bruikbare luukshede vir billike geld (as mens na dié soort voertuie kyk). Hy ry soos ʼn droom, en gaan nie hoofbrekens gee elke keer as jy ʼn vulstasie besoek nie. Uiters puik, dink ek… en vroulief ook.

Die reeks lyk só:

Hyundai Palisade 2.2D 4WD Elite 7-sitplekR999 900
Hyundai Palisade 2.2D 4WD Elite 8-sitplekR999 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en ʼn sewe jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg sowel as ʼn sewe jaar/105 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Everest 2.0BiTurbo 4WD Limited157 kW/ 500 Nm7,6 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R833 500
Toyota Land Cruiser Prado 2.8GD VX-L150 kW/ 500 Nm7,9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 Dienste diensplan

R1 175 100
Volvo XC90 B5 AWD Inscription183 kW/ 350 Nm7,1 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg & omvattende instandhoudingsplanR1 283 500
BMW X7 xDrive 30d195 kW/ 620 Nm7 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 838 158
Mercedes-Benz GLS400d 4Matic243 kW/ 700 Nm7,9 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 913 766

Daar is verskeie mededingers – en nie een pas perfek teen die Palisade nie. Gaan toetsbestuur wel almal – dan sien jy hoe lekker die Palisade werklik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.