Hyundai se Tucson word fiks

Die Hyundai Tucson Sport. (Foto: Verskaf)

Hyundai het ʼn tydjie gelede ʼn spesiale Tucson aan ons bekendgestel. Dit was die 1.6-viersilinderturbopetrolenjin met ʼn handrat. Hy’t ʼn sierpakket op met groter wiele en het ʼn hond uit ʼn bos geloop. Hulle het sedertdien 516 van hulle verkoop.

Dis nou tyd vir ʼn opknapping en Hyundai het die slim besluit geneem om twee verskillende modelle bekend te stel. Die eerste een is steeds ʼn 1.6-viersilinderturbopetrolenjin met ʼn 7-spoed-dubbelkoppelaarratkas. Die 1.6 TGDI Sport DCT bied 150 kW en 300 Nm. Die tweede een is ʼn 2.0-viersilinderturbodiesel wat 150 kW en 460 Nm bied. Die 2.0-R-diesel maak gebruik van ʼn 8-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas.

Die raakskerm-inligtingstelsel in die Hyundai Tucson Sport. (Foto: Verskaf)

Die binneruim van albei modelle is gewone Tucson met ʼn 7″-raakskerm-inligtingstelsel wat CarPlay en Android Auto bied. Die sitplekke is elektries verstelbaar.

Daar is klimaat en spoedbeheer en ʼn pragtige panoramiese sondak. Die elektroniese handrem, blindekolwaarskuwing en selfverduisterende truspieëltjie werk puik en rond die ergonomiese kajuit mooi af.

Die buitekant is sportief opgeknap met die bakpakket en sierwiele. Die vier uitlaatpype wys vir dié wat agter jou is presies wat die Tucson se planne is. Op die pad is die Tucson Sport lekker gemaklik en die vering soepel sonder enige merkwaardige bakrol.

Die binneruim van die Hyundai Tucson Sport. (Foto: Verskaf)

Waar dinge vir my effe skeefloop, is met die instelling van die blikbrein. Die twee modelle was op ʼn fiksheidskamp en het met nuwe blikbreine teruggekom. Dís hoe hulle die kragsyfers gee wat hierbo staan. Die krag is lieflik – maar die kalibrasie van die versneller is nie reg nie. Die versneller gee vir mens ál die krag met bitter min inset op die pedaal, so dit maak nie saak wat mens wil doen in die verkeer nie – dié Tucson wil net hol en begin wiele spin.

Hyundai bied ʼn oplossing in die vorm van ʼn oorheerser in die paneelkissie wat mens kan inprop om die versneller terug te vat na sy oorspronklike stellings toe. Ek sou dit beslis gebruik, want soos die versnellerreaksie tans is, gaan mens die bande binne ʼn paar maande “opspin”.

Die Hyundai Tucson Sport. (Foto: Verskaf)

My tweede bekommernis oor die Tucson Sport is sy prys. Teen R654 900 vir die petrol en R664 900 vir die diesel is dit eenvoudig net te duur vir ʼn voorwielaangedrewe sportnutsvoertuig. Die Tucson het bitter sterk mededingers teen ʼn laer prys – almal van hulle met vierwielaandrywing wat baie beter werk maak van die krag wat hier beskikbaar is.

Die drie leiers in dié segment – Toyota se Rav4, Volkswagen se Tiguan en Mazda se CX-5 het almal ʼn vierwielaangedrewe vlagskip in die reeks. Dáái modelle gaan dit vir die Tucson steeds bitter moeilik maak.

Die Tucson Sport lyk só:

Tucson 1.6 TGDI Sport DCT150 kW/300 NmR654 900
Tucson R2.0 Sport outo150 kW/460 NmR664 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se 7 jaar/200 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Kia Sportage 2.0CRDI EX Plus131 kW/400 NmR567 995
Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera140 kW/450 NmR579 900
Toyota Rav4 2.5 AWD VX152 kW/243 NmR586 500
Volkswagen Tiguan 2.0 TSI 4Motion Highline162 kW/350 NmR592 100
BMW X1 xDrive20d outo140 kW/400 NmR635 165
Volvo XC60 D4 AWD Momentum140 kW/400 NmR687 100

Indien vierwielaandrywing nie vir jou belangrik is nie – en die Koreane vir jou aantreklik is – is die Kia Sportage ʼn winskoop. Die Tiguan TSI gebruik Volkswagen se GTI-enjin en loop soos ʼn windhond. In die prysklas waar die twee Tucsons loop, koop ek ʼn Tiguan TSI en gebruik die ekstra kleingeld om vir my ekstras op hom te sit soos die panoramiese dak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos ·

Brendon, ek stem saam met jou in hierdie geval. Ek glo ook die VW sal meer werd wees oor 3 jaar as die Hyundai. Om te dink hulle het die mark ingekom in 1992 as bekostigbare voertuie, nou het die Chinese die vaandel oorgeneem.
Ek persoonlik sal eerder twee Haval H2 Lux Outo’s koop en dan nog kleingeld oorhou. Bietjie minder krag, maar ook met alles wat oop en toe maak.

Chris Ws ·

Hyundai val uit die bus uit deesdae.Ek hou van die Koreane se voertuie.Het twee Hyundais gery.Puik waarde vir geld GEWEES daai tyd.Nou is dit nie meer waarde vir geld nie.Ander voertuie in hul segment is BAIE MEER bekostigbaar EN bied MEER.Sorry Hyundai julle is besig om die pot heeltemal mis te sit.Dan die’ nuwe Tucson : daai neus is afskuwelik !Nee dankie!

Tiger ·

Los maar Hyundai!As julle Tucsons verkoop is dit net aan die paar mense wat nie nugter dink en pryse van voertuie vergelyk nie.

Sarel ·

Die Mazda CX5 sal my keuse wees wees
Ek is mal oor Mazda se voorkoms, en die kragsyfers lyk heel goed genoeg.
Mmmmmm . . . . .

Johan ·

Fris Chris! 150kw / 460nm vir ‘n 2.0L dieselenjin is geweldig kragtig!!! (Die “diesel-GTI” Golf GTD moes maar met 130kw / 350nm klaarkom, en die nuwe BMW 320d beskik oor “slegs” 140kw / 400nm)

Dus kan ek net dink watse “gespin-en-spartel” dit gaan wees om op ‘n nat pad weg te trek sonder dat die kloukrag-beheer (traction control) jou absoluut mal maak… Wie-ookal hierdie projek by Hyundai oorsien het, het nie mooi gedink nie!!! Soos wat MM genoem het, hierde karre (veral die diesel) smeek vir 4WD om die krag op die pad te sit! (Dus wil fris-Chris gaan skrum met pantoffels aan…)

Theresa ·

Hyundai se koppe hak nou behoortlik uit. Goeie grond – daardie pryse!!!

Vic van Wyk ·

Nee wat. Ek ry self ‘n Tucson 2.0 Elite Auto. Min vervaardigers kan met Hyundai kompeteer as dit kom by herverkoop.

Dit het ek ook gesien met die Accent en i10.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.