In ʼn Raptor deur Lesotho: Reën, modder en die mooiste uitsig

Ons is vroeg wakker. Die son laat die tent al helder gloei. Ek het verbasend warm geslaap in die slaapsak. Ek dink dadelik aan hoe om die tent droog te kry voordat ʼn mens hom oprol om weg te pak. ʼn Mens kan darem ʼn klein koepeltent onderstebo tel, met sy pale in, en die bodem in die son laat staan.

Ons eet ontbyt en stel koers vir Semonkong. Vanaand slaap ons langs die Senqunayane-rivier. Eers is dit Thaba Tseka. Ek was al daar saam met vroulief in ʼn Hilux toe ons deur Lesotho gery het op pad na Margate. ʼn Ford Ranger Raptor sweef darem anders oor ʼn grondpad as ʼn Hilux.

Eers besoek ons die wal van die Katse-dam. Dis ʼn jammerte dat hy nie meer oorloop nie. As ons ʼn paar dae vroeër was, het ons dit gesien. Die forelplase om die dam lyk bitter gesond.

Op Thaba Tseka by die T-aansluiting draai ons dié keer regs. ʼn Pragtige stukkie teer wat soos ʼn lint tussen die berge lê strek voor ons uit. Die kontras tussen die pikswart teer en grasgroen berge en die water wat soos ʼn spieël reflekteer toor met my. Dit is een van die mooiste vistas wat ek nóg in my lewe gesien het. Later val daar weer ʼn bietjie reën.

Ons breek weg van die teerpad af en kort voor lank begin die sports. Die swart klei wat nat geword het, is net só glad soos ʼn koshuisgang wat met skottelgoedseep gesmeer en met water natgegooi is. Vir ʼn tydjie gedra die Raptor hom puik. Hy het darem lekker aggressiewe General Grabber-bande op.

Op ʼn draai so langs die mielielande begin ons Raptor sy boude uitswaai. My rymaat, Justin, begin ʼn bietjie in die teenoorgestelde rigting stuur, maar dis te min en té laat. Hy probeer ʼn bietjie vet gee en dis die laaste spyker in die doodskis. Ons Raptor skiet van die spoor af tussen die mielies in, boude eerste.

Asof dit nie genoeg is nie koop ek daar in die mielies ʼn plaas toe ek uitklim om die tou te kan vasmaak waarmee Gideo ons gaan uittrek. ʼn Stuk of 50 kindertjies gil dat hulle jammer is so tussen die skaterlag deur vir die vet ou lomp wit man wat sopas hard neergeploeg het. Een tou vas en ons probeer trek. Nee dis té min. Ons haak ʼn tweede Raptor en probeer weer. In ʼn japtrap is ons gered uit die landerye. As ons geweet het wat net om die draai op ons gewag het, het ons net daar in die mielies bly sit.

Ons bevind ons op ʼn fyn tweespoor aan die kant van ʼn redelike steil heuwel, met ʼn geringe hoek afdraande na ons regterkant. Die eerste Raptor maak dit nie sonder om uit die spoor te val nie. Die grond is só glad dat as ʼn mens teen die bakkie druk terwyl hy stil staan gly die bakkie teen die bult af. Gideo kry sy sandspore en so begin ons die bakkies een vir een deur die 400 m moddermoeras werk. Sodra daai spore vol klei gepak is raak hulle darem bitter swaar. Elke bakkie wat ons beter deur die spoor kry help ʼn lekkerder spoor trap. Willem het baie ervaring en is tweede laaste. Hy ry pragtig deur sonder om die spore nodig te kry.

Aan die ander kant van die moeras besluit ons dat die vier uur wat ons nou geswoeg en sweet het om die span deur te kry té veel tyd in beslag geneem het. Ons gaan nie die berg af nou aandurf nie. Dis donker en nat. Ons gaan hier iewers kamp opslaan en sal môre weer probeer.

Ons vra vir ʼn man van die omgewing of hy weet waar ons veilig ons tente kan opslaan uit die wind en weer. Hy sê dadelik: “Nee man, dis nat. Kom slaap hier in die skool vanaand – uit die wind en weer!” Die man is die skoolhoof en sy Engels is werklik indrukwekkend. Ons is té dankbaar en binne ʼn paar minute is almal se opvoubeddens verdeel tussen twee klaskamers. ʼn Vuur is aangesteek om water warm te maak, want ek smag na ʼn stort ná my indrukwekkende val in die turf. Ek stort eerste en ek is bitter dankbaar. Nét na my stort begin die wind met mening waai, maar ons neem skuiling in die klaskamers en kuier lekker.

Môre gaan ons verlore tyd moet opmaak. Af met die berg, deur die rivier en uit aan die ander kant. Môre slaap ons by Semonkong Lodge, en die laaste dag ry ons terug Pretoria toe. Wat ʼn belewenis.

Deel drie volg. Lees meer oor die vorige deel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.