In ʼn Raptor deur Lesotho

(Foto: Marlon du Toit)

Ek het verlede jaar vir Gideo Basson, Ford se meester wanneer dit kom by bekendstellings, avontuur en die langpad vat na nêrens, gevra: “Wanneer gaan ons ʼn ware, hardebaard 4×4-trip doen? Nie net grondpad ry nie, maar in tente slaap, self kos maak, geen lodges nie… amper soos ʼn kamp staaldraad vir die moderne motorjoernalis.

Gideo sê toe vir my dat hy al lank aan Ford karring vir só ʼn ekspedisie en kort voor lank word die reistog toe ʼn werklikheid – ons gaan Lesotho toe. Ons sou verlede jaar in die winter al gegaan het sodat ons in die sneeu kon speel, maar toe krap Covid ons planne deurmekaar.

(Foto: Mike Eloff/The Palm Tribe)

Ek’t al derduisende kilometer in ʼn Ford Raptor tydens bekendstellings, veldrenne en reistogte afgelê. Al daai ervarings het iets in gemeen gehad – hoë spoed op grondpaaie en lang afstande op teer. Ons weet mos reeds dat daar nie ʼn gemakliker bakkie op die mark is as ʼn Raptor nie. Dis te danke aan die Fox-skokbrekers en bitter slim vering wat onder hom sit.

Dié ervaring sou wel heeltemal anders wees. Vanaf die Ford-aanleg in Silverton tot in Bethlehem via Warden. Na ons gou ʼn burger op Fouriesburg verorber het, vat ons die pad na die Caledonspoort-grenspos. In ʼn japtrap is ons en die vloot Raptors deur die grens. In Butha-Buthe wil ek gou eers ʼn simkaart aanskaf aangesien vroulief benoud raak as ek vir dae en dae aaneen skoonveld is. R100 later het ek ʼn Econet-simkaart en ʼn paar GB se data. Nóú kan ons maar die pad vat.

Ons wys die Raptors in die rigting van Katsedam waar ons die aand langs die dam in die veld gekamp het. Tussen die grens, Butha-Buthe, die Mafika Lisiu-pas en Katsedam maak die hemel se sluise oop. “Lesotho is die plek op aarde waar reën gemaak word!” sê Gideo. Dit is ʼn asemrowende gesig om te aanskou. Hier, in Suid-Afrika toegevou, rus ʼn uiters pragtige plek.

(Foto: Mike Eloff/The Palm Tribe)

Iewers langs die pad kom ek af teen ʼn bult, en sien nie spoedbeperkingsbordjie nie. Dit is 50 km/h leer ek eers later toe die spietkop voor my in die pad spring. “77 km/h,” seg hy. Eish. Dit gaan ʼn skrikwekkende boete wees. Na ʼn halfuur se op en af tussen al die voertuie en ons beurt afwag, sê die vroueverkeersbeampte vir my R30 en ek moet binne sewe dae betaal. Sjoe. Teen daai prys gaan ek volgende week terug met ʼn Bugatti Veyron, want ongeag hoe vinnig, is die boete R30. Ek is sommer lus en gaan bly in Lesotho.

(Foto: Mike Eloff/The Palm Tribe)

Ons kom by ons kampplek vir die aand. ʼn Fantastiese uitkykpunt net anderkant die mielielande op ʼn oewer langs die Katsedam. So is elkeen se bakkie gepak met ʼn koelboks, twee tente, twee uitslaanbeddens, ʼn yskassie, twee slaapsakke en twee matrasse. O, en twee opvoukampstoele. Lekker man. Ek self is ʼn kampeerder en soos ek my tent oopvou, weet ek hy het harde diens gedoen op die soutpanne in Botswana, maar dis nie ʼn probleem nie. Ek skud hom uit, ryg sy pale in en siedaar, my huisie vir die aand. Ek wag eers vir die uitslaanbed om droog te word – hy’t watersopnat gereën in die bak agter.

Langs die vuur is die geselskap vol grappies. Ons is vier joernaliste, twee sosialemediaghoeroes wat met ʼn kamera kan toor, ons toergids Gideo, ʼn paramedikus en drie manne van Ford – Neale Hill, besturende direkteur, Conrad Groenewald, verkoop‑ en bemarkingsdirekteur, en Minesh Bhagaloo, kommunikasiedirekteur.

(Foto: Mike Eloff/The Palm Tribe)

Gideo en Bertus toor met ʼn reep beesvleis, biefstuk, slaaie en pap. Ná ek my trommeldik eet, smeek ek vir Gideo om die ketel aan te kry, dan is dit slaap. Dit was ʼn lang dag agter die stuur en dis al middernag.

Soos ek in die kooi klim dink ek… daar is geen, maar geen bakkie wat ʼn bergpas kan takel soos ʼn Raptor nie. Mens kan hom letterlik soos ʼn sportmotor jaag. Klim jy van die pad af en ry deur die klippe, grond, modder en gras, ploeter die Raptor ongedeerd voort.

Die volgende dag verlaat ons Katse in die rigting van Thaba-Tseka en dan Mantsonyane. Daar draai ons weg Semonkong toe en gaan langs die rivier slaap. Ek is kinderlik opgewonde.

Deel twee volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.