Is dié BMW beter as ʼn Golf GTI?

Volkswagen se Golf GTI is ʼn staatmaker warm luikrug. Volkswagen Suid-Afrika verkoop derduisende GTI’s elke jaar. Die vierde generasie het Suid-Afrikaners se liefdesverhouding met die GTI weer begin herstel. BMW het nou van ʼn afstand gekyk – en besluit, hoekom kan hulle nie ʼn stukkie van VW se koek steel nie?

Wat presies is die 128ti? Dit is ʼn vierwielaangedrewe luikrugmotor, geskoei op BMW se eie Mini Countryman-platform. Daar is ʼn 2.0 viersilinder-turbopetrolenjin wat goeie verrigting bied. Al die bestanddele is daar vir ʼn wenner, maar is die eindproduk meer as die som van sy dele?

Met die eerste oogopslag is die BMW se agterkant werklik pragtig. Die syaansig is netjies, maar die ligte en sierrooster voor is vir my nie baie mooi nie. Die binneruim is pure BMW. Die materiale is van ʼn puik gehalte en die bougehalte rateltaai. Die binneruim bied al die luukshede wat mens van ʼn BMW verwag. Daar is ʼn sterk klankstesel, raakskerminligtingstelsel met Android Auto en Apple CarPlay wat draadloos kan koppel – en jou selfoon laai ook sonder ʼn draad op die laaimatjie. Outomatiese ligte, ruitveërs en spoedkontrole hou dinge uiters luuks.

Onder die kap bied die 2.0 enjin 180 kW en 380 Nm. Hy kan met sy 8-spoed outomatiese ratkas die blitsbuksie versnel van stilstand tot 100 km/h in 6,3 sekondes en hy sal 243 km/h voluit hol. As ʼn mens nie soos ʼn jaagduiwel jou voet die heeltyd in die mat begrawe nie, kan die 128ti puik brandstofverbruik van 6,8 ℓ/100 km bied.

Dis op die pad waar die 128ti sy staal wys. Dit is werklik ʼn lekker produk, én veilig met ses lugsakke, vastrap en stabiliteitsbeheer, sluitweerremme met remkragverspreiding – die lot. Die ritgehalte is heel goed vir dié tipe voertuig – en die padhouvermoë in die kol. Daar is egter een vlieg in die 128ti se salf. Dit is die “run on flat”-bande. Runflats het ʼn baie harde wand. As ʼn mens hard versnel moet die bande reeds hard werk – en die rigiede wande laat die bande nie toe om enige onegalighede in die pad te absorbeer nie. Die resultaat is dat die stuur heeltyd in ʼn mens se hande trek soos die voorwiele oor hobbeltjies, voutjies en gaatjies in ʼn ondeunde pad probeer skarrel.

Dit is maklik om die BMW 128ti op te som. Dis ʼn fantastiese produk, veral vir iemand wat nié ʼn Golf GTI wil hê nie. Volkswagen is besig om hul agtste generasie GTI bekend te stel. Een van die Golf se sterkste eienskappe is sy veelsydigheid. Ek dink die BMW gaan moeilik die Golf onttroon.

Die 1-reeks lyk só:

BMW 118i103 kW/ 220 Nm5,9 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 8,5 sek

Topspoed 213 km/h

R553 220
BMW 118d110 kW/ 350 Nm4,8 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 8,4 sek

Topspoed 214 km/h

R644 178
BMW 128ti180 kW/ 380 Nm6,8 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 6,3 sek

Topspoed 243 km/h

R687 418
BMW M135i xDrive225 kW/ 450 Nm7,5 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 4,8 sek

Topspoed 250 km/h

R808 188

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Alfa Romeo Giulietta 1750TBi Veloce177 kW/ 340 Nm6,8 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 6 sek

Topspoed 244 km/h

3 jaar/ 100 000 km waarborg en diensplanR546 900
Toyota GR Yaris 1.6T GR-Four198 kW/ 360 Nm7,6 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 5,5 sek

Topspoed 230 km/h

3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R606 600
Volkswagen Golf GTI180 kW/ 370 Nm7 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 6,4 sek

Topspoed 250 km/h

3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R669 300
Honda Civic Type R228 kW/ 400 Nm8,4 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 5,8 sek

Topspoed 272 km/h

5 jaar/ 200 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R789 400

Tussen dié mededingers is die Yaris ʼn ware winskoop – ek kan nie wag om met een te ry nie. Die Alfa sal nou werklik oud wees, maar spesiaal op sy eie manier. Die GTI is die ou staatmaker, en die Honda is peperduur – maar ʼn kar wat my hart geheel en al gesteel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Van voor af lyk die 128ti soos ‘n BMW, van agter het die BMW karakter verlore gegaan, dit lyk soos ‘n algemene Koreaanse ontwerp. Die sitplekke lyk uitstekend, donker kleur met rooi stikwerk, die lugverkoeling aanwysings lyk of dit uit ‘n 1988 Audi 500e se paneel kom. Of hy beter as die GTI is, ek dink nie so, VW vervaardig motors gebasseer op die vorige modelle se sukses en daardie goue draad bly behoue. Na my mening sal die 128ti eerder aanklank vind by jong BMW ondersteuners en van die ouers BMW ondersteuners sal teleurgesteld wees. Nogtans glo ek dat die 128ti ‘n mark het maar nie van so ‘n aard dat dit voorblad nuus sal wees.
Lekker ry!

VaalDonkie ·

Ek sal omtrent enigiest behalwe ‘n GTI verkies. Nie omdat dit ‘n slegte kar is nie, maar dis die kar wat jy koop as jy nie kan besluit nie. Maar gee my maar eerder net ‘n tweedehandse Subaru STI vir om en by dieselfde prys.

Wielspore ·

Dit wil voorkom of VaalDonkie al meer as een keer ‘n goeie pak slae van ‘n GTi ervaar het.

koos10 ·

Die Yaris hoort nie in die geselskap nie, behalwe aan sy prys. Baie kleiner as die res. Ek sê nie dis ‘n slegte kar nie maar Hyundia i30N hoort eerder hier. En wat van die A klas?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.