Is dié BMW die lekkerste een in die reeks?

Foto: Verskaf

Motoriste kan deesdae kies en keur uit ʼn magdom opsies, spesifikasies en variante. ʼn Mens kan tot ʼn koepee met vier deure kry… én ʼn koepee sportnuts. Ja, ek verstaan ook nie. Gelukkig bied BMW steeds ʼn doodgewone 3-reeks. ʼn Vierdeur-sedan met sitplek vir vyf.

Die nuutste G20-weergawe is bitter mooi. Ek was by die bekendstelling effe teleurgestel in die feit dat daar net die twee 2.0-viersilinders was –  diesel en petrol in die vorm van die 320i en 320d. Albei puik voertuie – maar al só bekwaam dat hulle partykeer bietjie vervelig kan voel.

Ek het onlangs die M340i onder hande gehad, en hy kan ʼn dooie man se hart weer aan die klop skop.

Foto: Verskaf

So wat van die ou in die middel? Nie die wintie soos ek wat die M340i soek nie, maar die ou wat ʼn bekwame, redelike vinnige 3-reeks soek – sonder al die bohaai? Welkom aan die middelman. Die BMW 330i.

Hy was in die verlede altyd deur ʼn romerige, atmosferiese 3.0-inlynsessilinderenjin aangedryf. Deesdae maak hy gebruik van ʼn bitter sterk 2.0-viersilinderturbopetrolenjin wat ʼn indrukwekkende 190 kW en 400 Nm bied. Dis meer as sy sessilinder voorganger. Die toevoeging van die turbo-vier maak die 330i oop vir twee dinge.

Foto: Verskaf

Hy kan sy kouse oprol en hol as hy moet, maar op die oop pad, teen 120 km/h op die spoedkontrole, is hy bitter lig op brandstof – the best of both worlds ­soos die Ingelse sal sê. Die verrigtingsyfers beïndruk: 0 – 100 km/h neem slegs 5.8 sekondes, en hy is elektronies beperk tot 250 km/h. Vier dekades terug kon supermotors nie daai syfers bied nie. Gek.

Die binneruim van die BMW is lieflik. Alles is waar dit hoort en die materiaal is van ʼn fantastiese gehalte. ʼn BMW het my nog altyd soos ʼn handskoen gepas. Ek het wel een kwaal. Dit is die nuwe instrumente wat BMW gebruik. Ek is nie seker of dit veronderstel is om die kenmerkende niervormige sierrooster na te aap nie, maar ek is nie gek daarna nie.

Foto: Verskaf

Ons toetseenheid se spesifikasie was astronomies met elke denkbare speelding. ʼn Mens kan tot vir die BeeEm sê jy’s koud – dan stel dit die temperatuur warmer. Óf dat jy verveeld is – dan stel hy sportmodus voor. Slim.

Die ritgehalte en padhouvermoë van ʼn BMW is altyd puik. Nee wag, ek lieg. Die padhouvermoë is altyd puik, die ritgehalte kan hard raak – afhangend van die model. Die 330i is wel meer soepel as die M340i en die ander M’e. Hy toer lekker en daar dring baie min stampe en stote in die kajuit in.

Foto: Verskaf

Aan die veiligheidskant is elke truuk daar. Ses lugsakke, ABS, EBD, stabiliteit- en vastrapbeheer. Daar is ander aktiewe veiligheidstelsels soos blindekolwaarskuwing, baanbeheer, remhulp en so meer. Een ding wat baie pla op nuwe BMW’s is die baanhou-hulpstelsel. Ek sit dit dadelik af. Elke keer as mens naby ʼn wit streep kom, begin die motor aan die stuur trek en torring – ek wil mal raak.

Die opsomming van die 330i is vir my verbasend. Ek dink dit is die lekkerste model in die reeks. Nie té lig in die broek nie, maar ook nie ʼn vuurvreter nie. BMW bied jou die geleentheid om jou eie 3-reeks te verpersoonlik soos jy wil… teen ʼn prys natuurlik. Ek het verlede jaar ʼn C300 Mercedes-Benz gery en was baie beïndruk. Die 330i is sy direkte mededinger, en ek dink dit is moontlik ʼn nuwe wenresep.

Die reeks lyk só:

BMW 320i135 kW/300 Nm6,3 ℓ/100 kmR646 762
BMW 320i Sport Line135 kW/300 Nm6,3 ℓ/100 kmR670 362
BMW 320d140 kW/400 Nm4,6 ℓ/100 kmR684 416
BMW 330i190 kW/400 Nm6,4 ℓ/100 kmR687 176
BMW 320i M Sport135 kW/300 Nm6,3 ℓ/100 kmR692 162
BMW 320d Sport Line140 kW/400 Nm4,6 ℓ/100 kmR708 016
BMW 330i Sport Line190 kW/400 Nm6,4 ℓ/100 kmR710 776
BMW 320d M Sport140 kW/400 Nm4,6 ℓ/100 kmR729 816
BMW 330i M Sport190 kW/400 Nm6,4 ℓ/100 kmR734 576
BMW 330d M Sport195 kW/580 Nm5,5 ℓ/100 kmR819 300
BMW M340i xDrive285 kW/500 Nm7,7 ℓ/100 kmR1 006 316

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Lexus IS 300 EX180 kW/350 Nm7,5 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR747 800
Jaguar XE P250S184 kW/365 Nm6,3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR751 762
Mercedes-Benz C300 Avantgarde190 kW/370 Nm6,9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R823 200

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Vir R 734 576 kan jy ‘n Audi S3 TFSi quattro S tronic met 228 kw en met 4.6 0-100 km/h en topspoed van 250 koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.