Is dít die beste BMW M-motor beskikbaar?

(Foto: Verskaf)

Soos met die meeste motormense vloei daar brandstof in my are. Indien daar in jou are ook brandstof vloei, het jy waarskynlik ʼn voorkeur. As jy oor ʼn emmer geld val, stap jy reguit na ʼn sekere handelaar toe en koop vir jou dáái motor waaroor jy al dekades lank droom. Een van my honderde droommotors is ʼn M BMW.

Die liefdesverhaal het begin met die E36 M3. Die vierdeur spesifiek. ʼn Ou kollega van my het een gehad. ʼn Donkerbloue met grys bekleedsel. Dit was asemrowend mooi, én dit het die beter 3.2-sessilinderenjin gehad met 252 kW. Daai jare was dit regtig baie.

My eerste kar was ʼn E30 316 wat ek by my beste pel gekoop het vir R10 000. Dit was sy ma se kar van nuut af en hy’t bitter min kilo’s opgehad toe ek hom koop. Een van my ou base het net een keer saam met my gery, en nóóit weer nie. Hulle het gesê my BMW het net een spoed gehad. Flat out.

(Foto: Verskaf)

Toe kom die E46 M3. My hart het gesmelt elke keer as ek een gehoor het. Toe is ek bevoorreg genoeg om by ʼn handelaar ʼn E46 M3 CSL te ry. My wêreld was van toe af vir ʼn geruime tyd vernietig … eenvoudig omdat ek waarskynlik nóóit een sou besit nie.

Ek het tot vandag toe nog nie ʼn E90 V8 BMW gery nie, maar is baie lief vir die F80 M3 en M4 met hul nuwe turboaangejaagde inlyn-sessilinderenjins.

Dit bring ons netjies by een van BMW se nuutste M’e. Die BMW M2. Die M2 Competition om spesifiek te wees. Hy erf die groter M3 en M4 se enjin. In die M2 Competition bied hy 302 kW en 550 Nm. Dit, gepaard met BMW se fantastiese M-DCT-ratkas (M Dual Clutch Transmission) is ʼn resep vir legendariese dinge. ʼn Derde stuk van die legkaart is die klein volgens moderne standaarde 2-reeks-bakwerk.

Baie mense wat die oorspronklike E30 M3 gery het, sê die M2 Competition is die kar wat die naaste kom aan daai gevoel van die tagtigerjare. Ek kon toe nog nie bestuur nie – maar as dit soos die M2 Competition is, is dit hemel op aarde. BMW se kajuit, soos altyd – is om die bestuurder gefokus. Alles is ergonomies uitgelê met die drywer in gedagte.

(Foto: Verskaf)

Die M2 kan rustig toer as mens wil, maar wanneer die geleentheid hom bied – skakel mens die rymodus oor na Sport Plus, sit die vastrapbeheer in MDM (M Dynamic Mode) en begrawe jou regtervoet in die mat. Wat dán gebeur, is al wat elke petrolkop streef om te voel. Soos die omwentelinge bou na die 7 000 r/min-piek, kruip die hoendervleis op teen jou rug, oor jou skouers en in jou hare in sodat dit penregop staan. Mens trek die regterkantse ratwisselingspaan agter die stuur, die volgende rat skop met geweld in met ʼn klein tjirp van die agterwiele en dié keer voel jy hoe die glimlag oor jou gesig smelt. Dit, vir ʼn motormens, is hemel op aarde.

(Foto: Verskaf)

MDM vat dit ʼn treetjie verder. Jy wys nou al die hoendervleis en glimlag wat jy besit … Jy kom by ʼn paar kurwes in die pad wat jy baie goed ken. MDM is geprogrammeer om die BMW toe te laat om meer rond te beweeg en ʼn sekere hoeveelheid wieltol toe te laat. Die eerste keer dat jy bietjie die boude laat uithang sonder om ʼn reuse-ongeluk te veroorsaak is ʼn asemrowende gevoel. Ja, dit sou fantasties wees as mens dit kon doen sonder die hulp van die veiligheidstelsels, maar die M2 Competition se byt is groter as sy blaf – so ek los maar die veiligheidsnette daar.

Dit is baie maklik om die BMW M2 Competition op te som. Dit is bitter mooi. Die gehalte is puik. Die enjin is fantasties en die hantering asemrowend. Vir R1 miljoen glo ek nie mens gaan lekkerder jaag nie.

Die reeks lyk só:

BMW M2 Competition302 kW/550 Nm9.8 ℓ/100 km4.4 sek250 km/h (elektronies

beperk)

R972 030
BMW M2 Competition outo302 kW/550 Nm9.1 ℓ/100 km4.1 sek250 km/h

(elektronies beperk)

R1 026 506

Die reeks word gedek deur BMW se 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-  omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Mustang 5.0 GT Fastback331 kW/ 529 Nm12.1 ℓ/ 100 km4.3 sek250 km/h

(elektronies beperk)

4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R915 800
Porsche 718 Cayman GTS outo269 kW/ 430 Nm8.2 ℓ/ 100 km4.1 sek290 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 174 000

Totdat daar ʼn nuwe Mercedes-AMG CLA en Audi RS3 is, is daar nie ʼn direkte mededinger vir die M2 nie. Die Mustang en Porsche is die twee naaste mededingers in prys en verrigting, al verskil al drie wêrelde van mekaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lou ·

Brendon ek is nie ‘n groot BMW fan nie maar jou raakvat beskrywing van die ervaring om die BMW te bestuur laat my sommer lus kry vir ry. Hou so vol

Wiehan ·

En wat van die Alfa Guilia QV, 2.9L twin turbo.
Manjefiek!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.