Is dit SA se nuwe gewildste motor?

Toyota kraai gereeld koning wanneer dit kom by motorverkope en sy Hilux is uiters gewild en meestal die topverkoper.

Indien Toyota sy teiken – ʼn konserwatiewe teiken na my mening – haal, sal die nuwe Corolla Cross met Volkswagen se Polo kan meeding om die topverkoper-passasiersvoertuig in die land te word.

Wat is die Corolla Cross? Dit is ʼn C-segment-sportnutsvoertuig wat plaaslik vervaardig word. Hy gaan tussen die Urban Cruiser en Rav4 in die mark inpas.

Die Corolla Cross het sitplek vir vyf en ʼn lekker kattebak. Die ontwerp is heel mooi – mooier van voor vir my, maar die agterkant is beslis nie lelik nie.

Die binneruim voel bekend – pure Toyota. So gemaklik soos ʼn paar ou pantoffels wat net maklik inglip. Met die voertuig wat jy daagliks werk toe en winkels toe pendel, wil jy nie noodwendig ʼn aanslag op die sintuie hê nie – jy wil net rustig werk toe toer, met jou gunstelingmusiek aan en verfris by die kantoor opdaag elke dag … dís die Corolla Cross.

Daar is een enjin beskikbaar – ʼn 1.8-viersilinderpetrolenjin soos met die Corolla Quest. ʼn Lekker enjin met lineêre kraglewering en billike brandstofverbruik.

Dié enjin, gepaard met Toyota se palwisseltransmissie (CVT), stoot die krag na die voorwiele. Daar is egter twee dryfstelsels beskikbaar, een slegs binnebrand en die ander hibried. Hy maak gebruik van dieselfde 1.8-enjin én elektriese motors.

Hoekom hibried? Toyota het reuseteikens gestel vir “nuwe energie”-voertuie teen 2025. Sy teikens vir koolstofneutraliteit teen 2030 is skrikwekkend. Binne ʼn paar jaar sal Europese lande nie meer binnebrand-enjinaangedrewe voertuie aankoop nie, dan loop die fabriek hier in Suid-Afrika tot niet. Toyota rat homself nou vir dié verwisseling. Ons sien nou die eerste bekostigbare hibriede voertuie, en inprophibriede en battery-elektriese voertuie is beslis in Toyota se toekoms.

My keuse tussen die vyf modelle (1.8 Xi, 1.8 Xs, 1.8 Xs Hybrid, 1.8 XR en 1.8 XR Hybrid) is waarskynlik die Xs-middelslag- hibriede model. Aan die binneruim kry mens klimaatbeheer, spoedkontrole, raakskerminligtingstelsel met Android Auto en Apple CarPlay en WiFi. Die binneruim voel eerder luuks as eenvoudig.

Aan die veiligheidskant spog die reeks met vyf lugsakke op die Xi- en Xs-modelle. Die XR het sewe lugsakke én Toyota Safety Sense – ʼn pakket wat ʼn magdom aktiewe veiligheidstelsels soos baanhulp, blindekolwaarskuwing, aanpasbare spoedkontrole en botsingwaarskuwingstelsel insluit.

Op die pad toer die Corolla Cross soos ʼn droom. Die 17 duim-wiele op die Xi en Xs maak spasie vir ʼn behoorlike 60-profiel-band. Die XR loop op 18 duim-wiele en is 225 mm breed met ʼn 50 mm-wanddikte. Dit dra by tot die lekker soepel ritgehalte in die Corolla Cross. Dit is nie ʼn renmotor nie, maar vir die soort voertuig is die padhouvermoë in die kol. Die stuur is lekker akkuraat.

Is daar enige probleme? As ek regtig moet karring, kan ek twee dinge uitlig. Die parkeerrem werk met die voet wat nie fantasties is nie, maar ek is oortuig daarvan dat dit wel vinnig verander sal word. Die ander ding is die inligtingstelsel op die Xi-model wat nie ʼn raakskermtipe is nie. Ek dink daar is ook ruimte vir ʼn beter klankstelsel op dié model.

Ek kan die Corolla Cross maklik opsom. Hy gaan soos soetkoek verkoop. Die 1.8 Xi bied puik waarde, en die hibriede modelle is werklik fantasties op brandstof met ʼn lae 6 l/ 100 km terwyl die nie-hibriede model gemiddeld so 8 l/100 km tydens die bekendstelling behaal het. Om ekonomies te ry was beslis nie bó aan die prioriteitslys nie. Gaan toetsbestuur beslis een – jy sal aangenaam verras wees.

Die reeks lyk só:

Toyota Corolla Cross 1.8 Xi103 kW/173 Nm6,8 l/100 kmR349 900
Toyota Corolla Cross 1.8 Xs103 kW/173 Nm6,8 l/100 kmR390 100
Toyota Corolla Cross 1.8 XR103 kW/173 Nm6,8 l/100 kmR425 400
Toyota Corolla Cross 1.8 Hybrid Xs90 kW/142 + e Nm4,3 l/100 kmR413 000
Toyota Corolla Cross 1.8 Hybrid XR90 kW/142 + e Nm4,3 l/100 kmR448 300

Die reeks word gedek deur ʼn driejaar/100 000 km-waarborg en 6-dienste-diensplan. Die hibriede model dra ʼn agtjaar-waarborg op die battery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Waar kry mense die geld om soetkoek te koop, of is alles maar op skuld? Maar…..is daar iemand wat my R425 400 kan leen?

Karlahari ·

Die Corolla Cross lyk behoorlik “cross”. Daai hang lip ongelukkige vooraansig het al met die vorige RAV4 begin.
Ag nee Toyota. Gee ons asseblief n meer gelukkige gesig!!!!
3 jaar / 100.000 km waarborg? Wie bluf hulle? Dit is basies n drie jaar waarborg. Gemiddelde verbruiker doen 22.000km per jaar.
En prys gewys? Gewoonlik wys MM die pryse van die kompetisie. Dus…..doen jou huiswerk voor jy in die naam vaskyk.

Juan ·

Wat is die nuwe tendens van all vervaardigers om CVT ratkaste te gebruik. As ek sien n voertuig het n CVT in dan verloor ek dadelik interst.

Pieter ·

Oor die algemeen is Toyota se ritgehalte uiters swak met meeste SUV’s en hulle ry nie so lekker en glad soos bv. ‘n VW nie !!! Ek ry self nou my 4e Fortuner en sal nie weer Toyota koop nie. Die CVT opsie is dadelik : “stel nie belang nie”. Al ding met die Corolla Cross is die “goeie prys” en dit moet nooit die hoof opsie wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.