Is hierdie die lekkerste AMG?

Welkom aan die Mercedes-AMG E53 Coupé. (Foto: Verskaf)

Sommige mense was dalk effe verward deur AMG se veranderings oor die afgelope paar jaar.

Wanneer jy egter sien waar alles inpas, maak die veranderings heeltemal sin.

AMG was altyd ʼn model in Mercedes-Benz se reeks. Sodat die Benz-identiteit egter nie verlore gaan nie, stig AMG af en word ʼn handelsmerk op sy eie. Op hierdie manier word albei handelsmerke beskerm én hulle kry vlerke om selfs nuwe hoogtes te bereik.

Die aanvanklike verandering is vinnig gevolg deur ʼn tweede AMG-reeks. Aanvanklik was dit altyd net vuurvretende V8’s. Daar was nie ruimte vir ʼn AMG, al die stilering en die meeste van die karakter, sonder die uiters enorme krag nie.

Die binneruim is fantasties, soos bykans enige ander Merc in hierdie stadium maar is. (Foto: Verskaf)

Só is die 53-AMG-reeks gebore. Ses silinders, hibriede tegnologie en 75% van die verrigting van die volvet AMG.

Welkom aan die Mercedes-AMG E53 Coupé.

Ons almal ken ʼn E-klas – waarskynlik die gewildste Mercedes-Benz in die geskiedenis. My stiefpa het ʼn W123 280 gehad. ʼn Handrat en ʼn lieflike voertuig.

Daar is net twee deure, ʼn pragtige binneruim en stilering, vierwielaandrywing en vier uitlaatpype. (Foto: Verskaf)

Dié AMG is ietwat anders. Daar is net twee deure, ʼn pragtige binneruim en stilering, vierwielaandrywing en vier uitlaatpype.

Met die druk van die aanskakelknoppie is ʼn mens nie oortuig dat daar ʼn bomklapper onder die kap skuil nie. Daar is wel ʼn knoppie wat die uitlaatpype se kleppe oopmaak en dan klink hy behoorlik soos ʼn AMG.

Die inlyn-sessilinderenjin word aangehits met ʼn turbo én elektrisiteit. (Foto: Verskaf)

Indien jy die 53 ná die 63 ry, gaan die voertuig dalk nie jou asem wegslaan nie. Ek het dit egter ná ʼn 200 gery en dán beïndruk die krag wel.

Die binneruim is fantasties, soos bykans enige ander Merc in hierdie stadium maar is. Daar is twee pragtige, enorme skerms wat alles uitbeeld wat jy nodig het om te sien en jy kan die ontwerp daarvan verander tussen drie opsies.

Verder is alles elektries. Die sitplekke stel elektronies en is verhit. Dit is ʼn uiters luukse affêre.

Nadat ek my stoel gemaklik gestel kry, selekteer ek die Sport Plus-rymodus en stel die vastrapbeheer na “Dynamic”. Skielik lewe die AMG op die pad. Die uitlaatpyp brul eers, dán skreeu hy en wanneer ʼn mens rem en die ratwisselingspane agter die stuurwiel begin vra vir laer ratte, dan klap en skiet dit ʼn verskriklike simfonie.

Die inlyn-sessilinderenjin word aangehits met ʼn turbo én elektrisiteit. Daar is ʼn bietjie hibriede tegnologie hier betrokke wat gebruik word om gaatjies in die wringkragkromme te vul. Die stelsel werk voorwaar fantasties.

Die enjin bied 320 kW en 520 Nm, maar die hele stelsel 336e kW.

Van nul tot 100 km/h neem 4,4 sekondes en die 53 is beperk tot 250 km/h voluit.

Die 53 se padhouvermoë is uit die boonste rakke, nes jy sal verwag van ʼn vierwielaangedrewe AMG. (Foto: Verskaf)

Op die pad kan die AMG dalk bietjie hard ry. Dit ís egter ʼn AMG, so jy kan dit verwag. Die 53 se padhouvermoë is egter uit die boonste rakke, nes jy sal verwag van ʼn vierwielaangedrewe AMG.

Die Merc het elke luuksheid en veiligheidstelsel waarvoor ʼn motoris kan wens.

Dit is maklik om die Mercedes-AMG E53 Coupé 4Matic+ op te som. Dit is ʼn fantastiese voertuig en bied ʼn volledige AMG-ervaring met ʼn reusebesparing teenoor die 63-sedan.

Die Merc het elke luuksheid en veiligheidstelsel waarvoor ʼn motoris kan wens. (Foto: Verskaf)

Dit behoort vir die meeste mense ʼn aangename verrassing te wees. Gaan kyk gerus.

Die AMG E-klasreeks lyk só:

Mercedes-AMG E53 4MATIC+ koepee336e kW/520 Nm8,8 l/100 km0-100 km/h

4.4 sek.

250 km/h

R1 683 000
Mercedes-AMG E53 4MATIC+ afslaandak336e kW/520 Nm8,9 l/100 km0-100 km/h

4.5 sek.

250 km/h

R1 825 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.