Is nuwe KTM 890 SMT waardig om T in naam te dra?

(Foto: Brian Cheyne)

Daar is heelwat klasse van motorfietse wat duidelik gedefinieer is, en andere wat ietwat vaag is. Ons kan almal ’n avontuurfiets of selfs ’n toerfiets uitken. Maar wat van ’n sporttoerfiets? Nie so maklik nie, nè? Is dit nou ’n sportfiets met ’n meer gemaklike ryposisie, of is dit nou ’n toerfiets wat meer sportief gemaak is? Juis dít maak dat vervaardigers wyd uiteenlopende sporttoerfietse bemark. KTM het selfs al so ver gegaan om kanttasse op hulle Super Duke te sit en dit ’n Grand Tourer te noem. Nou het KTM egter ’n meer sinlike sporttoerfiets bekend gestel en selfs die ou SMT naam laat herleef met die KTM 890 SMT.

(Foto: KTM)

Die SMT-benaming was al gebruik op die KTM 990 SMT, maar produksie van hierdie model is tien jaar gelede al gestaak. Toe KTM die eerste keer ’n paar leidrade laat val het dat daar weer ’n SMT op pad is, was KTM‑entoesiaste hoopvol dat die nuwe fiets sou terugkeer na die V-twee‑enjin. Maar soos al hoe meer vervaardigers weg beweeg van die V-twee na parallel-twee‑enjins, was dit duidelik uit die 890‑benaming dat KTM ook hierdie roete sou volg.

Die SMT‑afkorting staan vir SuperMoto Touring, en omdat KTM nie ’n volwaardige sportfiets in hulle arsenaal het nie, moes hulle noodwendig hulle aandag vestig op die KTM 890 Adventure en die 890 Duke. Die SMT moes dus die lawwe streek van die Duke hê, met die gemak van die Adventure.

(Foto: Brian Cheyne)

Tydens die bekendstelling in Sardinië, het KTM duidelik getoon dat hy die SM‑gedeelte gestand doen deur hom hard te ry in die kronkellende bergpasse. Maar wat van die (T)oer-gedeelte? Om sy toervermoë behoorlik te toets, sou meer as ’n dag neem, en die bergpasse in Europa het gewink. Riaan Neveling, hoof van KTM se wêreldwye bemarking, het vir my ’n SMT aangebied om mee te ry. So het dit gekom dat ek sewe onvergeetlike dae in Europa deurgebring het met ’n volgelaaide SMT.

Die SMT is grotendeels gebaseer op die 890 Adventure, wat sal verseker dat die ryervaring heel gemaklik gaan wees. Die SMT het selfs die hoë voorste modderskerm van die Adventure geërf, alhoewel dit heel koddig lyk met die kleiner 17”‑voorwiel. Die fiets is toegerus met Michelin Power GP‑bande, maar ek sou iets minder aggressief verkies het. Hierdie bande werk uiters goed op die Duke en op ’n baan, maar dit pas nie vir my by die SMT se aanwending nie.

Om die fiets ’n smaller profiel te gee, het KTM die brandstoftenk kleiner gemaak en die bakpanele is baie meer vaartbelyn gemaak. Kyk, die SMT is nie ’n mooi fiets nie, maar tog het hy ’n unieke karakter en is onmiskenbaar ’n KTM. Hy het die kenmerkende KTM‑voorlig, en die SMT het ’n kort, swart windskermpie. Ek het my bedenkinge gehad daaroor, maar ek het ander prioriteite gehad om op te fokus: Hoe om sewe dae se bagasie in die twee kanttasse te kry. Gelukkig is die twee tasse baie ruim, selfs die een wat spasie inboet waar dit oor die uitlaatpyp gaan. Ek was aanvanklik bekommerd, want dit het gevoel of die tasse los is, maar ek is verseker dat dit so bedoel is. Die tasse rus op ’n raam wat ’n klein bietjie kan beweeg. Dit help blykbaar vir stabiliteit op hoë spoed. Hoë spoed is egter nie iets wat jy in Oostenryk of Switserland doen nie. Hier vat hulle jou gou vas. Met die KTM volgelaai, het ek uit Mattighofen vertrek na my eerste oornagplek.

Die ryposisie was net so gemaklik soos wat ek my voorgestel het. Net soos met die Adventure, sit jy baie neutraal en regop. Die windskermpie het verbasend goeie windbeskerming gebied. Die enjin is die bekende LC8c‑eenheid wat in die Duke en Adventure diens doen, maar is vir toerdoeleindes aangepas. Die enjin lewer 105 pk, en is meer as genoeg om lekker te toer. Die snelskakeling werk verbasend goed op laer toere, en die SMT het my uit die staanspoor beïndruk.

(Foto: Brian Cheyne)

Op die tweede dag van my toer het ek die skouspelagtige Grossglockner‑bergpas oorgesteek, en hier kon ek die SMT se dinamiese sy goed op die proef stel. Die stuur is akkuraat en ek kon baie gou my pas so ʼn klein bietjie opwaarts aanpas. Die fiets is toegerus met al die nuutste elektroniese hulpmiddels, wat jou gemoedsrus gee. Ek was verbaas hoe lig die fiets in draaie in kantel, sy bagasietasse ten spyt. Die kleiner voorwiel maak die wêreld se verskil.

Ek het my daaglikse afstande beperk tot onder 300 km, so die kleiner 15,8 liter‑brandstoftenk was meer as genoeg dat ek net een keer per dag moes volmaak. Teen R40 per liter was ek maar te dankbaar vir die KTM se lae brandstofverbruik. Oor die hele sewe dae was my gemiddelde brandstofverbruik slegs 3,8 ℓ/100 km. As dit nie vir die Stelvio-pas was nie, was my verbruik seker nog beter. Ek het my bagasie in my hotel in Bormio gelos en die SMT opgevat tot aan die bopunt van Stelvio. Die pas van Bormio se kant is ’n lieflike pad met lang, vloeiende kurwes en skerp haarnaaldboë. Die SMT het nie teleurgestel nie. Die remme is nou wel nie van Brembo nie, maar vir iemand met my vermoë was dit heeltemal genoeg. Stadiger verkeer kon ek met gemak verbysteek, want die enjin het oorgenoeg woema.

(Foto: Brian Cheyne)

Die pad terug na Mattighofen het my vir ’n kort stuk op die Duitse Autobahn gesit waar ek die krane heeltemal kon oopdraai en ek kan getuig van die fiets se stabiliteit op spoed. Na sewe dae was ek steeds nie moeg gesit op die SMT nie. Die saal was gemaklik, en omdat ek nie groot afstande gery het in ’n dag nie, was die rit uiters aangenaam. Die SMT slaag dus die T in sy benaming met lof, en hier is waar die fiets regtig uitblink. Die SMT is nou al plaaslik beskikbaar, en as jy ’n avontuurfiets soek vir teerpadgemak eerder as sy veldryvermoë, is die SMT dalk net die antwoord.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

KTM was nog altyd een van die vervaardigers wat uitgestaan het met hulle produk reeks en die 890 SMT gaan bydrae tot die tradisie. Die vervaardiger se motorfietse is aantreklik, betroubaar en behou hul waarde. Ek self herstel ouer motorfietse, verkieslik bekende vervaardigers maar Chinese modelle ook, die beskikbaarheid van onderdele vir ingevoerde Chinese modelle is ‘n probleem, jy moet behoorlik rondsoek. As ek een bekende Japanese vervaardiger se onderdele vanuit Gauteng tot op Nelspruit bestel, kry ek dit binne twee dae. Na my mening, koop maar eerder die bekende en betroubare motorfiets modelle. Lekker ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.