Is nuwe MU-X kompetisie vir Fortuner?

Daar is vier mededingers in die D-sportnutsvoertuigsegment. Spesifiek dié met ʼn leerraam-onderstel. Die markleier is Toyota se Fortuner, dán Ford se Everest en die laaste twee is Isuzu se MU-X en Mitsubishi se Pajero Sport.

Isuzu se MU-X, al was dit ʼn beter produk as die Chevrolet Trailblazer, kon steeds nie daarin slaag om Suid-Afrikaners se harte te steel nie. Die heel jongste MU-X is egter ʼn enorme verbetering op sy voorganger.

Wat bied die MU-X? Dit is ʼn sewesitplek-gesinsvoertuig met rateltaai sleepvermoë – 3,5 ton om presies te wees. Hy word aangedryf deur ʼn 3.0 viersilinderturbodiesel wat 140 kW en 450 Nm bied. Die enjin stoot sy krag deur ʼn 6-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas wat puik gekalibreer is.

Daar is twee dryfstelsels, 4×2 en 4×4, en drie spesifikasievlakke – almal met die 3.0 viersilinder en almal met ʼn outomatiese ratkas. Die intreemodel is die LS, beskikbaar in 4×2 en 4×4. Die middelslag is ʼn LSE, slegs 4×2 en die reeksleier is die Onyx, slegs 4×4.

Die kajuit is ietwat groter as dié van sy voorganger, en mooi uitgelê. Die veiligheidstelsels in die reeksleidende Onyx is voorwaar indrukwekkend met aktiewe veiligheidstelsels soos baanbeheer, blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing en noodremhulp – sowel as die passiewe stelsels soos lugsakke, sluitweerremme en elektroniese remkragverspreiding. Isuzu het ʼn nuutjie in die MU-X, naamlik ʼn middelste lugsak wat tussen die bestuurder en passasier uitskiet om te verhoed dat die voorste passasiers koppe stamp in ʼn groot sybotsing.

Op die pad beïndruk die MU-X se vering en ritgehalte met goeie padhouvermoë. Dít, gepaard met die fantastiese sleepvermoë en sewe sitplekke hoort die MU-X ʼn gunsteling te maak onder groot gesinne.

Is die MU-X dan perfek? Hy is goed, maar nie perfek nie. Ek het twee klein kwale met betrekking tot die binneruim. Daar is plastiek elemente in die boonste paneelkissie en in die middelkonsole wat van ʼn swakker gehalte is as die res van die kajuit en dit kan gewis verbeter. Die inligtingstelsel – 7 duim in die LS en 9 duim in die res – het ʼn goeie resolusie maar bied geen funksionaliteit indien ʼn mens nie gebruik maak van Apple CarPlay en Android Auto nie.

Nog iets wat pla is die terugvoer wat ʼn mens deur die stuurwiel kry oor sekere hobbels. Dit gebeur meer op vinnige grondpaaie en teerpaaie. Dit is beslis nie iets om oor te kommer nie, maar wel iets waaraan Isuzu kan werk. Die stuurwiel loop ʼn paar grade links en regs in mens se hande soos die voertuig oor die hobbels in die pad beweeg.

Ek sal twee sterkpunte uitlig wat vir my regtigwaar uitstaan. Die voorste sitplekke is werklik fantasties. Ek verkies die lapbekleedsel op die intreemodel bó leer maar dit is net persoonlike smaak. Die vorm en steun wat die sitplekke bied is puik. Die ander punt is hoe die voertuig voel op ʼn 4×4-hindernisbaan. Die artikulasie van die asse is puik en die MU-X voel werklik tuis in ernstige 4×4-situasies.

Ek sal die MU-X só opsom. Dit is ʼn goeie mededinger en ʼn indrukwekkende rigting vir Isuzu. Dit is hul eerste tree in die “leefstyl”-rigting soos hulle probeer om die “werkesel”-beeld af te skud. Ongelukkig is die MU-X ten volle ingevoer en dit doen geen gunste vir Isuzu in die pryskategorie nie. Ek dink Isuzu sou meer aggressief moes wees in terme van prys om die segmentleiers te probeer uitdaag vir ʼn markaandeel.

Die reeks lyk só:

Isuzu MU-X 3.0 LS outoR693 800
Isuzu MU-X 3.0 LS outo 4×4R771 600
Isuzu MU-X 3.0 LSE outoR763 300
Isuzu MU-X 3.0 Onyx 4×4R860 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 120 000 km waarborg. Diensplanne is opsioneel beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kirst ·

As dit nie vir die Isuzu kenteken op die sierrooster was nie het ek gedink dis ‘n Everest. Hoe meer karre verander hoe meer lyk almal dieselfde.

andre ·

As die bakkie op pad is kan hulle sekerlik hierdie model ook plaaslik vervaardig en pryse afbring .

SlinkseKoljander ·

Persoonlik dink ek die Haval is mooier en goedkoper.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.