Is Opel se Zafira die perfekte ‘toertuig’?

Die Opel Zafira. (Foto: Verskaf)

Daar is min dinge so angswekkend vir ʼn nuwe gesin as die eerste seevakansie, veral indien jou eie voertuig aan die knap kant is. Ons gesinnetjie van drie en my skoonouers het beplan aan ʼn welverdiende wegbreekkans na Balito – maar sou graag almal in een kar wou ry. Met ons EcoSport sou dit geensins moontlik gewees het nie, so ek het by ons motorman se kantoor aangeklop en die perfekte geleentheid gekry om die nuwe Opel Zafira uit te toets.

Dié motor het agt sitplekke – twee rye van drie agter en die twee heel voor.

Diegene van julle wat al met kinders onder twee jaar gereis het, weet hoe baie plek hulle én hul bagasie opneem. Die stootwaentjie, kampbedjie, stoeltjie én speelgoed, asook al die gewone bagasie, moet alles ʼn plek in die kattebak kry. Aanvanklik was ons bekommerd dat ons die waentjie sou moes haak, wat dan ander komplikasies soos parkering en bykomende petrolverbruik tot gevolg sou hê.

Die Opel Zafira se kattebak. (Foto: Verskaf)

My man was egter aangenaam verras toe hy die reusekattebak onder oë kry. Met dié dat die agterste ry sitplekke kan platslaan, was daar meer as genoeg plek vir al die bagasie én klein Ado se bybehore. Die twee rye sitplekke agter kan vorentoe en agtertoe skuif, én die rugleuning kan stel – so almal is in ʼn japtrap gemaklik. Daar was selfs plek vir ʼn doekesak en kosmandjie by ons voete.

Dit was boonop ʼn bonus dat skoonma saam met my vir Ado kon besig hou, terwyl die twee mans mekaar voor geselskap hou.

Die twee groot skuifdeure aan weerskante van die motor maak toegang maklik – mens moet net versigtig wees om die linkerkantse skuifdeur nie oop te maak terwyl jy laat petrol ingooi nie, want die pyp sal in die pad wees. Die enigste ander foefie is die agterste vensters wat nie oopmaak nie. Gelukkig is die klimaatbeheer binne die motor uitstekend, so almal in die kajuit is gemaklik. Die inligtingstelsel bied Android Auto en Apple CarPlay – lekker funksies as mens só toer – want dan is al die inligting tot jou beskikking en jou hande altyd op die stuur.

Onder die kap skuil ʼn 2.0-viersilinderturbodieselenjin, wat 110 kW en 370 Nm bied. Die enjin stuur sy krag deur ʼn 8-spoed- outomatiese ratkas aan die voorwiele. Dit was vir ons verbasend hoe sterk die kraglewering voel, ondanks die grootte van die bus. Opel beweer ʼn 6,3 ℓ/100 km-brandstofverbruik – maar ons het nader aan 8,2 ℓ/100 km bereik tydens ons reis. Dit is indrukwekkend indien jy in ag neem dat dit baie naby aan die kleiner Ford EcoSport se verbruik is.

Ons almal, én ons bagasie, het met gemak in die motor gepas. (Foto: Pieter Krige)

Op die pad is egter waar die Opel Zafira se grootste waarde lê. Dit toer uiters sag en gemaklik met goeie ritgehalte.  Nóg beter is die Zafira se skerp draaisirkel. Dit stel die motor in staat om op ʼn tiekie te draai – en dus baie maklik te parkeer en te skuif in klein gaatjies soos jy die perfekte stukkie strand soek.

Die Zafira is toegerus met vier lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, asook vastrap en stabiliteitsbeheer, alles wat mens benodig om veilig by jou eindbestemming uit te kom.

Ons sal die Zafira só opsom. Vir ʼn gesin is daar geen ander kar wat só lekker toer nie. Die ruimte is fantasties – en op die herinneringe wat mens in ʼn bussie saam met jou familie bymekaarmaak, kan daar geen prys geplaas word nie.

Die reeks lyk só:

Opel Zafira Life 2.0TD Edition110 kW/370 Nm6,3 ℓ/100 kmR749 900
Opel Zafira Life 2.0TD Elegance110 kW/370 Nm6,3 ℓ/100 kmR869 900

 

Die reeks gaan gepaard met ʼn vyfjaar/100 000 km-waarborg en diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.0SiT SWB Limited136 kW/415 Nm6,7 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km- waarborg

Diensplan opsioneel

R787 400
Hyundai Staria 2.2D Executive 9-sitplek130 kW/430 Nm8,7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg

6 jaar/90 000 km- diensplan

R794 900
Kia Carnival 2.2CRDi EX148 kW/440 Nm6,8 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/90 000 km- diensplan

R799 995
Volkswagen Transporter 2.0TDI 110 kW Kombi SWB Trendline110 kW/340 Nm6,6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/60 000 km- diensplan

R803 300

 

Tussen die mededingers is die Edition-model ʼn lekker winskoop. Indien jy die mark verken vir ʼn bussie – gaan toetsbestuur almal, elkeen is uniek en bied iets anders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.