Isuzu-nuweling is ʼn bakkie van formaat

(Foto: Verskaf)

Suid-Afrika word nie om dowe neute bakkie-wêreld genoem nie. Daar is opsies te kies en te keur en of jy nou na ʼn werkesel, alledaagse ryding of ware bosbreker soek, daar is gewis ʼn bakkie wat jou voorkeure (en sak) sal pas.

Isuzu het ook nou opnuut tot die stryd toegetree met die bekendstelling van die D-MAX Arctic AT35 en as avontuur in jou are vloei, is hierdie nuweling net die ding vir jou. Boonop sal dit net in beperkte getalle beskikbaar wees, dit is dus nie ʼn bakkie wat jy agter elke bos gaan uitskop soos wat die geval met van sy mededingers is nie.

Wat die AT35 selfs meer uniek maak, is die feit dat hy in Isuzu se fabriek in Struandale, Gqeberha, aanmekaar gesit word. Trouens, die plaaslike aanleg is die enigste Isuzu-fasiliteit ter wêreld wat deur Arctic Trucks geakkrediteer is om die D-MAX AT35 te bou.

Aangesien dit op die D-MAX V-Cross 4×4 gebaseer is, word die AT35 op dieselfde produksielyn as die standaardmodelle vervaardig. Daar is egter ʼn toegewyde Arctic Trucks-omskakelingsgebied waar kosmetiese en meganiese verbeteringe aangebring word.

(Foto: Verskaf)

Die D-MAX Arctic AT35 lyk sommer na ʼn katjie wat nie sonder handskoene gepak moet word nie en daar is heelparty ontwerpelemente en ekstras wat hom van die res van die D-MAX-reeks onderskei. Dit sluit uitgeboude wielboë, Arctic Trucks-modderflappe en breër sytrappe in. Boonop spog hy met 35 duim‑BF Goodrich-veldrybande en 17×10 duim‑AT- swart allooiwiele.

Soos reeds genoem is die verbeteringe egter nie net kosmeties van aard nie. Die AT35 spog ook met ʼn spesiaal ontwikkelde vering wat hierdie unieke model ʼn veldryer van formaat maak. Met ʼn grondvryhoogte van 266 mm, ʼn waaddiepte van 865 mm, ʼn naderingshoek van 33 grade, ʼn vertrekhoek van 23 grade en ʼn oorbrekingshoek van 34 grade, is daar min hindernisse waarvoor die Isuzu sal skrik. Die deeltydse vierwielaandrywingstelsel bied hoë- en laestrek en ʼn elektroniese agterste ewenaarslot, wat beteken dat jy op plekke sal kan ry waar ʼn bobbejaan met ʼn knopkierie sal sukkel om uit te kom.

Tydens die bekendstelling het Isuzu uit hulle pad gegaan om ons van die AT35 se 4×4-vaardighede te oortuig. Ons is teen berge op, in dale af en deur riviere, maar die Isuzu het nie ʼn voet verkeerd gesit nie. Hy was ewe behendig op teer en grondpad en klou soos die spreekwoordelike neet deur draaie.

Die AT35 word aangedryf deur Isuzu se betroubare 3.0 liter‑viersilinderdieselenjin, wat ’n piekkraglewering van 140 kW teen 3 600 r/min en 450 Nm se wringkrag tussen 1 800 r/min en 2 800 r/min lewer. ’n Sesgang‑ outomatiese ratkas is standaard.

Dit word as die topmodel in die D-MAX-reeks bemark en gevolglik spog dit met allerhande goeters en geite om hierdie status te beklemtoon. Afgesien van die AT35-logo op die sitplekke, ratskakelomhulsel en vloermatte, is die binneruim basies dieselfde as die V-Cross, wat beteken dit het deurgaans leerafwerking, elektriese verstelling en lumbale ondersteuning vir die bestuurdersitplek, ’n 9 duim‑inligting- en vermaakstelsel met agt luidsprekers, Android Auto en draadlose Apple CarPlay, asook ʼn draadlose laaivakkie vir ʼn slimfoon. Wat bestuurderbystandstelsels betref, beskik die AT35 oor so te sê alles wat ʼn mens in ʼn bakkie van hierdie gehalte sou verwag. Aktiewe stelsels sluit voorwaartse botsingswaarskuwing, aanpasbare spoedbeheer, noodremhulp en baandwaalwaarskuwing in. Aan die passiewe kant is daar sluitweerremme en ʼn magdom lugsakke.

Die D-MAX Arctic AT35 kos R1 120 620, wat hom aan die duur kant maak want vir so R60 000 meer kan jy ʼn Ford Ranger Raptor aanskaf. Anders as die Raptor is die AT35 egter nie ʼn verrigtingsmonster nie. Dis ʼn volwaardige 4×4 waarmee jy die taaiste roetes met selfvertroue kan aanpak. Dis moeilik om te glo dat so ʼn mooi bakkie so bekwaam kan wees. *Die AT35 word deur Isuzu se standaard vyf jaar/90 000 km‑diensplan, vyf jaar/120 000 km‑waarborg en vyf jaar/onbeperkte afstand‑roeswaarborg gedek. Diensintervalle is elke 15 000 km of 12 maande, wat ook al eerste voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos 100 ·

Teen net oor R1 000 000 het jy die top Hilux. Soos die berig meld is die Raptor ook in die prysklas. Wie wil dan die Isuzu koop, teen die prys? Die Hilux kan met so bietjie ekstras, soos wiele, in die Isuzu se prysklas kom, maar jy sal jou geld terug kry. En die Raptor, gaan bestuur hom eers voordat jy koop, dis ‘n opregte 4×4 met klomp extras en dan ‘n monster van’n ratkas en enjin.

Nommer 7 ·

Net jammer dat Ford net hul motors kan diens, maar kan nie (of wil nie) foute regmaak nie.

Gert ·

Sal definitief die Isuzu kies. Die Hilux het nie dieselfde vermoëns nie en is heelbo aan die skelms se lysie. Die Ford gaan breek……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.