Isuzu tooi sy D-Max op

Die Isuzu D-Max 250 dubbelkajuit 4×4 X-Rider lyk gereed vir aksie met sy nuwe sierplakkers. (Foto: Verskaf)

Die Isuzu-rivier, wat in die stad Ise in Japan ontstaan en uitmond, word as ʼn heilige rivier beskou en het deur die eeue die skepping van baie gedigte en liedere (en ʼn ongelooflike bakkie) geïnspireer.

Isuzu beteken “vyftig klokkies” en, weet plaaslike inwoners te vertel, jy kan klokkies hoor lui soos die water in die rivier vloei. Ek het onlangs na die kenmerkende geluid van die jongste Isuzu D-Max se luierende enjin geluister en het my vir ʼn oomblik verbeel ek het 50 klokkies hoor lui.

Maar op ʼn ernstiger noot, Isuzu is die grootste spesialis op, en vervaardiger van, dieselaangedrewe kragleweraars en is Japan se oudste voertuigvervaardiger.

Nog ʼn pluimpie vir Isuzu is dat hulle deur dik en dun by Suid-Afrikaanse boere staan. Hulle het die kans gevat om hul eerste bakkie, die Chevrolet LUV, in 1972 in Suid-Afrika bekend te stel, in ʼn tyd gekenmerk deur politieke onstuimighede toe ander motorvervaardigers uit die land pad gegee het.

Isuzu het onlangs besluit dat een van hul strydrosse, die D-Max 250 dubbelkajuit 4×4 X-Rider, aan die buitekant opgekikker moet word en ʼn bloedrooi intreemodel vir Maroela Media Landbou geleen om te besluit of boere dit sal waardeer.

Dié model word nog met ʼn sleuteldraai aangeskakel en jy kan jou kompakskywe onder die radio indruk om na die treffers van weleer te luister.

Op die dak is swart relings as standaard opgesit en die gewone kanttrappe is met die kenmerkende Hi Ride-weergawe vervang. As ʼn opsionele ekstra is 18 duim‑ volswart allooiwiele opgesit.

Isuzu se mooimaakspan het al die dekals, oftewel sierplakkers, afgepluk om vir hom ʼn nuwe jas aan te trek.

  • Die X-Rider-agterklapplakker is met ʼn groter X-Rider-plakker vervang.
  • Die grys Isuzu-plakker met die geborselde voorkoms, is met ʼn groot, swart Isuzu-plakker vervang,
  • ʼn Swart 4×4-plakker is op alle 4×4-modelle gesit.

Isuzu het vir hierdie D-Max 18 duim- volswart allooiwiele, swart dakrelings en Hi Ride kanttrappies opgesit. (Foto: Verskaf)

ʼn Nuwe baadjie of baard is nooit te versmaai nie en net so sal hierdie tooisels vir heelwat boere ʼn aangename verandering wees. Daar is ook niks fout om so ʼn bietjie voor die kerk of in die koöperasie se parkeerplek te pronk nie.

Aangesien die harde werk vir die voorman of bestuurder se langbak-enkelkajuit gelos word, is die kans dat die plakkers sal verweer of beskadig ook gering.

Op grond en teer gedra die Isuzu hom soos al die vorige modelle dit gedoen het – eenvoudig uitstekend. Jy gaan wel nie ʼn sagte, elegante rit ervaar nie, soos wat die neiging in die heel nuutste bakkies is om na die gemak en gerief van luukse voertuie te beweeg. Maar tussen die stof en gras en deur die erosieslote en oor die spoelwalle is dit dalk beter om op beproefde ontwerpe en tegnologie te vertrou wat gehardheid en taaiheid uitstraal.

Die D-Max sal maar altyd ‘n beeld van taaiheid uitstraal. (Foto: Verskaf)

Die spiksplinternuwe D-Max sal vroeg volgende jaar sy buiging maak. Boere het ʼn getroue werkesel nodig, so ons motorman, Brendon Staniforth, se raad is om eers die kat uit die boom te kyk. Voorraad is nie volop nie – indien jy eers wil wag en kyk wat die mark later kan bied, is die D-Max dalk intussen ʼn fantastiese kopie.

Net een waarskuwing: Die Mazda, wat op die nuwe D-Max geskoei is, se ritgehalte is heeltemal onaanvaarbaar en dan is daar die kwessie van die klein 1,9-dieselenjin.

Die modelreeks lyk só:

Isuzu D-Max 2,5 TD dubbelkajuit X-Rider handrat100 kW/320 Nm7,7 ℓ/100 kmR518 300
Isuzu D-Max 2,5 TD dubbelkajuit X-Rider outo100 kW/320 Nm8,1 ℓ/100 kmR538 000
Isuzu D-Max 2,5 TD dubbelkajuit X-Rider 4×4 handrat100 kW/320 Nm7,9 ℓ/100 kmR576 600
Isuzu D-Max 3,0 TD dubbelkajuit X-Rider outo130 kW/380 Nm7,5 ℓ/100 kmR590 300

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

 

Die nuwe, groter, swart naamplakker agter lyk net beter. (Foto: Verskaf)

Die mededingers lyk só:

Mahindra Pik up 2,2 CRDe dubbelkajuit 4×4 S11 Karoo103 kW/320 Nm8,1 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R433 999
GWM P-Series 2,0 TD dubbelkajuit LS 4×4120 kW/400 Nm9,4 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en -diensplanR489 900
Ford Ranger 2,2 TDCi dubbelkajuit 4×4 XL118 kW/385 Nm7,2 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R526 100
Nissan Navara 2,5 DDTi dubbelkajuit SE 4×4120 kW/403 Nm7,6 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R558 000
Toyota Hilux 2,4 GD-6 dubbelkajuit 4×4 Rider110 kW/400 Nm7,6 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste- diensplan

R611 400

Tussen dié mededingers is die Mahindra rateltaai én boonop ‘n outomatiese weergawe … só ook die GWM P-reeks. Die ou en getroue Ranger en Navara is effens goedkoper as die X-Rider, terwyl die Hilux weer duurder is.

Indien jy nie reeds jou besluit geneem het nie, gaan toetsbestuur beslis elkeen van hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Die D-Max is die enigste bakkie wat nie ‘n Hilux is nie wat ek sou koop met my eie geld om harde werk te doen. Veral noudat GM nie meer so baie met hulle te doen het nie.

Anoniem ·

Ry volgens my mening die gemaklikste van al die bakkies in sy klas.

VaalDonkie ·

Definitief. Die Hilux is meer “plaasbakkie” as die D-max.

Harley Davidson ·

Definitief die izusu hoef geensins terug te staan vir die hillux of die ranger nie.

Harley Davidson ·

Ek sien Suid-Afrika word afgeskeep met sy tweeling die mazda bt 50 wat in Suid-Afrika uitkom sonder leer sitplekke en ‘n paar ander nice to have items,hoop nie Izusu doen dieselfde nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.