Jaguar F-Pace SVR vs. BMW X4M Competition

Die afgelope twee dekades het enorme vordering in motortegnologie gesien, spesifiek as dit by vering en bande kom. Vervaardigers kan dit deesdae regkry om ʼn sportnutsvoertuig soos ʼn windhond te laat loop, maar ook soos ʼn neet te laat klou. Dis eintlik fantasties om hier supermotors op stelte te ervaar. ʼn Mens kan ʼn passasier onverwags laat gryp na die streshandvatsel.

Ons het onlangs by Maroela Media twee sulke super-sportnutsvoertuie onder hande gehad: Jaguar se F-Pace SVR en BMW se X4M Competition.

Kom ons kyk hoe vergelyk hulle.

Ontwerp:

BMW X4M CompetitionJaguar F-Pace SVR
4/54/5

Terwyl die F-Pace beslis meer elegant voorkom, is dit so dat wanneer jy só ʼn vuurvreter koop, jy beslis nie belang stel in elegant nie, maar eerder in ʼn meer sportiewe voorkoms. Ons X4M was so mengsel tussen lemmetjiegroen en giggelgeel. Darem het hy geloop soos hy gelyk het, maar die effens meer konserwatiewe F-Pace kon maklik verwar word met ʼn doodgewone F-Pace, totdat jy hom aanskakel en die vier uitlaatpype aan die brul spring.

Binneruim:

BMW X4M CompetitionJaguar F-Pace SVR
4/54,5/5

In dié afdeling loop die SVR vir my skrams voor. Die nuwe skerm, stuurwiel en rathefboompie in die Jag maak die wêreld se verskil. Die BMW voel presies soos enige ander BMW in dié stadium – en dis dalk hoekom hy ʼn bietjie minder spesiaal voel. Terwyl alles ergonomies uitgelê is, is die ontwerp van die skerms op die digitale instrumente nie baie mooi nie.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

BMW X4M CompetitionJaguar F-Pace SVR
5/55/5

Beide buksies sit met ʼn atoombom onder die enjinkap. Die BMW kry sy 375 kW en 650 Nm van ʼn 3.0 turboaangejaagde inlyn sessilinder petrolenjin. 0 – 100 km/h neem ʼn blitsige 3,8 sekondes en die X4 kan 285 km/h voluit haal. Die Jag maak gebruik van ʼn 5.0 superaangejaagde V8. Dié enjin bied een van die pragtigste klankbane in die wêreld, én 405 kW en 700 Nm. Al is hy sterker as die BMW is hy ʼn rapsie stadiger tot 100 km/h in 4 sekondes, maar 1 km/h vinniger voluit met 286 km/h. Albei voertuie maak gebruik van ʼn 8-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas en bied vierwielaandrywing. Die Jag is bietjie dorser met 12,2 ℓ/100 km teenoor die BMW se 10,6 ℓ/100 km. Ek sal bieg dat daai syfers slegs in ʼn laboratorium gehaal kan word op die WLTP toets – maar in die werklikheid baie naby aan 20 ℓ/100 km vir beide. As jy hom permanent hard trap – eerder hier by 40 ℓ/100 km.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

BMW X4M CompetitionJaguar F-Pace SVR
4,5/53,5/5

Die BMW loop op ʼn 21”-band. Die Jag was op die opsionele 22”-wiele. Beide ry hard, maar die SVR het beslis heelwat meer bakrol, al is sy rit hard. Die BMW het geen bakrol nie en fantastiese padhouvermoë – te danke aan sy harde rit. Beide voertuie het vol suites veiligheidstelsels. Waar die teer mooi is, en die banddruk so laag moontlik gestel is ry albei heel lekker, maar as die teer sleg is en die banddruk net bietjie hard is hulle albei onaangenaam.

Opsomming:

BMW X4M CompetitionJaguar F-Pace SVR
17,5/2017/20

Beide is fantastiese rygoed. Elkeen bied ʼn unieke ervaring en is asemrowend vinnig. Die F-Pace is heelwat ouer in sy leefsiklus as die BMW, en dís hoekom die X4 net-net voorloop.

Die twee vergelyk só:

 BMW X4M CompetitionJaguar F-Pace SVR
Enjin3.0 turbo-65.0 super-V8
Krag375 kW/ 650 Nm405 kW/ 700 Nm
Ratkas8-spoed outo8-spoed outo
0 – 100 km/h3,8 sek4 sek
Topspoed285 km/h286 km/h
Brandstofverbruik10,6 ℓ/100 km12,2 ℓ/100 km
Diensplan & waarborg2 jaar/onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

5 jaar/100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplan
PrysR2 122 618R1 991 869

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.