Jaguar verfris sy F-Pace-reeks

Nuwe Jaguar F-Pace2 (Foto: Verskaf)

Ons het onlangs geskryf oor die Jaguar F-Pace SVR, ʼn vuurvretende V8. Dit is inderdaad ʼn fantastiese motor, maar is die kroon van die reeks. ʼn Verskeidenheid van ander modelle is beskikbaar, waaronder twee diesel- en twee petrolenjins.

Een van die petrolenjins is met ʼn inprop- hibridiese dryfstelsel beskikbaar wat met ʼn elektriese reikafstand van 53 km spog. Nie te versmaai nie.

Die intreemodel is die Jaguar F-Pace D200. Hy word deur ʼn 147 kW-2.0-viersilinderturbodiesel aangedryf, wat 430 Nm wringkrag bied. Die tweede diesel is die D300-model. Hy word aangedryf deur ʼn 3.0-inlynsessilinderturbodieselenjin wat 221 kW en 700 Nm bied. Hy kan 100 km/h haal in net 6.4 sekondes.

Die eerste petrolweergawe is die P250. Hy het 184 kW en 365 Nm van sy 2.0-viersilinderturbo-enjin. Al is hy die intree-petrolmodel kan hy steeds 100 km/h in 7.3 sekondes haal. Die tweede petrolweergawe is ʼn P400. Hy word aangedryf deur ʼn 3.0-inlynsessilinderturbopetrolenjin wat 294 kW en 550 Nm bied. Ek’t dié enjin al in ʼn Land Rover Defender geproe – en hy sleep soos ʼn droom.

Die model wat my veral interesseer, is die P400, ʼn petrolaangedrewe model. Hy spog met ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin. Die enjin, saam met die elektriese motors, gee ʼn algehele kragsyfer van 297 kW en 640 Nm. Die 105 kW- elektriese motor maak ʼn reuseverskil aan die F-Pace se brandstofverbruiksyfer, te danke aan sy 17.1 kWh-battery. Die WLTP-brandstofverbruiksyfer vir die F-Pace P400e is ʼn fantastiese 2.2 l/100 km. Al is hy bitter lig op brandstof kan hy steeds 100 km/h in 5.3 sekondes haal te danke aan die oombliklike wringkrag van die elektriese motor.

Alle F-Pace-modelle geniet Jaguar se 8-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas met vierwielaandrywing.

Wat die binneruim betref, hou die F-Pace nog ʼn paar verrassings in. Die F-Pace is nou ʼn gekoppelde voertuig wat permanent ʼn internetverbinding het wat sagteware oor die lug op datum hou. Om by die allernuutste tegnologie te hou, het die F-Pace ook nou ʼn gebuigde skerm van 11.4″.

Ionisasie van die lug in die kajuit dra by tot die luuksheid van die binneruim. Die stelsel kan deeltjies tot PM 2.5 en slegte reuke verwyder. In tye soos dié dink ek dit is ʼn puik funksie.

Die F-Pace lyk nou voorwaar pragtig met sy treffende opknapping. Jaguar se enjins is puik, en die nuwe tegnologie indrukwekkend. Indien jy in die mark is vir ʼn groot, luukse sportnuts – loer gerus.

Die reeks lyk só:

Jaguar F-Pace D200 147 kW/430 Nm R1 122 500
Jaguar F-Pace P250 184 kW/365 Nm R1 214 500
Jaguar F-Pace D300 221 kW/700 Nm R1 233 200
Jaguar F-Pace P400 294 kW/550 Nm R1 239 400
Jaguar F-Pace P400e 297 kW/640 Nm R1 610 100
Jaguar F-Pace D200 R-Dynamic 147 kW/430 Nm R1 190 500
Jaguar F-Pace P250 R-Dynamic 184 kW/365 Nm R1 282 400
Jaguar F-Pace D300 R-Dynamic 221 kW/700 Nm R1 301 000
Jaguar F-Pace P400 R-Dynamic 294 kW/550 Nm R1 307 300
Jaguar F-Pace P400e R-Dynamic 297 kW/640 Nm R1 672 700
Jaguar F-Pace D200 R-Dynamic Black 147 kW/430 Nm R1 176 600
Jaguar F-Pace D300 R-Dynamic Black 221 kW/700 Nm R1 287 100
Jaguar F-Pace P250 R-Dynamic Black 184 kW/365 Nm R1 268 500

 

Alle pryse sluit CO2-belasting uit. Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan en waarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
andre

Mooi ,sterk enjins en duur. Sommige van ons sal meer padtoetse van motors minder as R250 000 waardeer.