Japanse gasvryheid, komplimente van die Lexus

Die Lexus LC500. (Foto: Verskaf)

Omotenashi: Gasvryheid sonder voorgee – uit die diepte van jou hart. Ek het al met verskeie Lexus-motors gery en as ʼn mens in hul heel luuksste modelle ʼn soort gevoel kry, maar nie jou vinger daarop kan plaas nie, is dit presies dit – omotenashi.

Die Lexus LC500 sit heel bo-aan die Lexus-troon as hul mooiste sportmodel. Ek het al ʼn paar keer een gesien en ʼn kenner wie se mening ek hoog ag het opgemerk dat dit een van die beste motors is waarmee hy nóg gery het. Ek het hom nie té ernstig opgeneem nie, weens sy bande met die einste maatskappy.

Ek het intussen self die splinternuwe Lexus LC500 afslaandak onder hande gehad. Daar is beslis vinniger voertuie daar buite, maar jy gaan sukkel om dié pragtige, luukse, vinnige koepee met ʼn afslaandak – wat boonop puik afgerond voel – te klop.

Heel voor, onder die kap van die asemrowende ontwerp van die LC500 is ʼn atmosferiese 5.0 V8. Twee voordele is, eerstens laat die verstommende geluid van die sonoriese V8 die hoendervleis teen jou rug opkruip. ʼn Mens kan natuurlik dié gebrul veral bewonder wanneer die dak afgeslaan is.

Die 5.0 V8 bied ʼn romerige 351 kW en 540 Nm. 0 – 100 km/h neem ʼn ratse 4,7 sekondes en die  LC 500 sal aanhou draf tot dit ʼn blitsige 270 km/h bereik.  Ja, die kenmerkende bakskud wat met ʼn afslaandak gepaardgaan is steeds daar weens die swak gehalte van ons land se kronkelpaaie, maar meer akkurate stuur sal jy nie kry nie. Dit is ook opvallend hoe fantasties die LC 500 se padhouvermoë is vir ʼn voertuig wat amper twee ton weeg.

Dit is egter eers wanneer jy agter die stuur inskuif, die dak afslaan en die pad vat, dat ʼn mens in jou binneste voel dat jou ervaring én welstand vir die takumi-vakmanne van kardinale belang was. Dit voel asof daar vir duisende ure oor elke fynere aspek gewonder en geskaaf is.

Op die pad, met die dak oop is die kajuit windstil te danke aan ʼn piepklein glasie wat hulle geïnstalleer het. Die Mark Levinson-klankstelsel is fantasties – as ʼn mens nie meer na die uitlaatpyp-orkes wil luister nie.

 

Ter afsluiting. Dit is bitter moeilik om só kar op te som. Dit is pragtig, uiters luuks met elke denkbare funksie, en die enjin is lekker sterk. Dit is egter die onaantasbaar wat dit spesiaal maak. Die bougehalte. Die materiale. Die nederige karakter wat die ingenieurs ingebou het, al weet hulle self dié produk is ongeëwenaar.

Die reeks lyk só:

Lexus LC 500 Coupé351 kW/ 540 Nm0 – 100 km/h

4,7 sek

Topspoed

270 km/h

11,6 ℓ/ 100 kmR2 158 200
Lexus LC 500 Convertible351 kW/ 540 Nm0 – 100 km/h

4,7 sek

Topspoed

270 km/h

12,7 ℓ/ 100 kmR2 345 500

Die reeks word gedek deur 7 jaar/ 105 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Bernard

Goeie opsomming en, met uitsondering van Porsche, duidelike bewys dat die Japanners die Duitsers nou vooruit is.