Jolion-hibried het baie wat in sy guns tel  

Die Chinese sit hul opmars in Suid-Afrika voort en tel deesdae gereeld onder die tien beste motorverkopers, veral in die afdeling vir gesinsmotors.

Ek het vir drie maande met Haval se hibriede Jolion, ʼn matige hibried, gery en dit is duidelik hoekom die Chinese ʼn ernstige aanspraakmaker in Suid-Afrika se motorbedryf word – baie motor vir minder prys.

Die Jolion-hibried pas dalk nie netjies in die uiters gewilde R300 000- tot R500 000-segment nie (hy is ʼn raps meer – R549 950 vir die Luxury-model en R579 950 vir die Super Luxury-model), maar vir daardie prys kry jy ʼn lekker groot sportnuts, met ʼn mooi voorkoms en ʼn moderne kajuit. Dan is daar ook ʼn magdom veiligheid- en dryfstelsels – die tipe tegnologie wat ʼn mens gewoonlik net in baie duurder sportnutsvoertuie gekry het.

Die Jolion-hibried, met sy LED-kopligte en diamantsierrooster, is regtig mooi en op die oog af ʼn luukse gesinsmotor. Die binneruim is lekker groot en baie gemaklike kunsleersitplekke bied ook goeie beenspasie. Karstoeltjies word in ʼn japtrap ingesit danksy die Isofix-monteringspunte wat maklik bekombaar is. Die bagasieruim sit egter redelik hoog en is nie van die grootste nie aangesien die battery hier gebêre word. Daar is dus ook nie plek vir ʼn spaarwiel nie. Die agterste sitplekke kan wel vorentoe platslaan om die bagasieruimte te vergroot.

Ander luukses sluit in ʼn draadlose foonlaaier, panoramiese sondak, aanpasbare spoedbeheer en baanhouhulp. ʼn Uitstekende kamerastelsel wat vir jou onder meer ʼn beeld van die voertuig van bo af gee maak korte mette van enige parkeerplek. Slim sleutellose toegang, ʼn aansitterknop, ʼn elektries verstelbare bestuurdersitplek, verhitte voorsitplekke, ʼn groot raakskerm bo-op die instrumentepaneel en leerinsetsels oral rond die prentjie mooi af.

Die Jolion se selflaai- hibriede stelsel behels ʼn 1,5-liter-petrolenjin wat aan ʼn elektriese motor gekoppel word om 140 kW en 375 Nm te bied vir flinke en moeitelose werkverrigting. Die petrolenjin en elektriese motor kan saam of onafhanklik loop en die skakeling tussen die verskillende tipes krag is soomloos. Teen lae snelhede is die Jolion HEV in effek ʼn elektriese voertuig, maar wanneer jy voet in die hoek begin sit sal die petrolenjin oorneem. Wanneer jy jou voet van die petrolpedaal afhaal, voel dit of hy liggies begin rem aanslaan en dit is dan wanneer daar gelaai word. Dit kan uiteraard tot indrukwekkende brandstofbesparings lei.

Die Jolion wys vir jou wanneer jy op die petrolenjin staatmaak en wanneer jy die elektriese motor gebruik. Daar is ook ná elke rit inligting beskikbaar om te sien vir watter gedeelte van die rit jy die petrolenjin gebruik het en watter gedeelte die elektriese motor. Daar is funksies vir ʼn vale maar dit kan nogal ʼn leerskool wees om dit alles onder die knie te probeer kry.

Van die veiligheidstelsels kan ook as effe oorywerig voorkom en dit is redelik irriterend as almal gelyk op jou begin skree – daar is gelukkig die opsie om dit af te skakel. Dit is egter ook nie die maklikste en vinnigste taak om die funksies op die raakskerm op te spoor nie. Daar is ook nie ʼn fisieke volumeknoppie vir die draadloos nie behalwe op die stuurwiel of op die raakskerm nie, en jy moet van die skerm gebruik maak om die lugversorging te stel.

Die Jolion HEV is nou nie spotgoedkoop nie, maar met soveel indrukwekkende bykomstighede en die moontlikheid vir lae brandstofverbruik is hy ʼn sterk mededinger in die prysklas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ekweetniks ·

sou nice gewees het as jy die 3 maande se brandstofsyfers ook bekend gemaak het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.