Juweel van Jaguar sportnuts-kroon

Die Jaguar F-Pace SVR. (Foto: Verskaf)

Wanneer ʼn mens deesdae SVR hoor, kom ʼn paar blitsige superluukse sportnutsvoertuie by jou op. Ons het al ʼn paar keer met ʼn Range Rover Sport SVR te doen gehad en die resultate is verstommend. Ons praat van twee ton, vierwielaangedrewe sportnuts-familievoertuie wat 100 km/h in vier sekondes kan haal en vêr verby 280 km/h kan snol.

Waarvoor staan SVR dan? Die SV is afkomstig van die afdeling waar met dié buksies getoor word – die SVO-afdeling (Special Vehicle Operations). Dis waar Jaguar en Land Rover se beste ingenieurs losgelaat word om met sekere produkte te toor, en uiters spesiale motors te vervaardig.

Wat dan van die Jaguar F-Pace SVR?

Die F-Pace SVR het as ʼn doodgewone Jaguar F-Pace begin. Die ingenieurs het dit goed gedink om hom met hul sterkste kragbron toe te rus – ʼn 5.0 V8 met ʼn superaanjaer. Dié masjien bied 405 kW en 700 Nm. Die ratkas is met die wringkragomsitter van die Project 8-sedanmotor opgegradeer sodat die ratkas sy man kan staan teen die verhoging in krag. Van 0‑100 km/h is 0,3 sekondes vinniger as die vorige F-Pace SVR se vier sekondes. Indrukwekkend. Voluit teen 286 km/h is fantasties in dié soort voertuig.

Met dié soort krag is remme altyd belangrik. Die F-Pace geniet beter terugvoer deur die rempedaal te danke aan 395 mm‑remskywe voor en 396 mm agter. Om dié soort krag en spoed stabiel te hou, is die F-Pace met intelligente, aanpasbare vering toegerus. ʼn Mens kan die vering stel vir gemak óf vir dinamiese hantering. In die dinamiese rymodus kan die bestuurder gebruik maak van ʼn horlosie, ʼn G-meter en ʼn grafiek wat wys hoeveel versneller of remme jy gebruik.

Die opknappings aan die ontwerp is nie nét vir die estetiese nie, maar verbeter verkoeling vir die remme en dryfstelsel – sowel as ʼn 35%‑vermindering in hefkrag. Vir die eerste keer is die F-Pace beskikbaar in ʼn Black Pack-weergawe. In plaas van satynswart-afrondings word glans-swart gebruik.

Die binneruim is heelwat verander van dié van sy voorganger. Daar word van beter materiale gebruik gemaak om die binneruim ʼn meer sportiewe gevoel te gee. Die nuwe 11.4” HD-raakskerm is nie plat nie. Dit bied die beste visuele resultate vir alle passasiers. Die nuwe F-Pace is ʼn gekoppelde motor wat permanent ʼn internetverbinding het om sagteware op datum te hou. Wanneer jy rustig toer, hou die aktiewe klankdodingstelsel dinge lieflik stil in die kajuit.

Die Jaguar F-Pace SVR is nou beskikbaar in Suid-Afrika met ʼn aanvangsprys van R1 835 700. Alle voertuie het ʼn vyf jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan en ‑waarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jou gewete ·

groot koste om n draai te gaan ry maar hulle loop lekker, dit is wel so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.