Kaalfiets met karakter

Die BMW R 1250 R. (Foto: Brian Cheyne)

Die R-reeks BMW-motorfietse bestaan uit die R, die RS, die RT en natuurlik die GS. Die meeste mense ken die GS, en hier en daar die RT, maar BMW se grootste verrassing is ’n fiets waarby die meeste seker sal verbyloop op pad na die GS-uitstalling toe: die R 1250 R.

Kyk jy na die R 1250 R, sien jy heel eerste die bokserenjin. In die toetsmodel was die raam afgewerk in wit, wat die enjin net meer aandag laat trek het. Ek het baie lank om en om die fiets geloop met my kamera in die hand en besef dat hierdie net ’n gewone fiets is met niks wat uitstaan as ’n ontwerpsfoefie nie.

Die BMW R 1250 R. (Foto: Brian Cheyne)

Voor is tradisionele vurke, onderstebo monteer en met goue afwerking. Die vellings voor en agter is net gewoon in swart. Die voorlig en instrumentepaneel vorm ’n eenheid met die R-embleem daarop aangebring en die handkontroles is die bekende BMW-eenhede. Niks aan die fiets trek jou aandag en laat jou twee keer kyk nie. Maar dit is presies wat my aantrek na die R 1250 R. Dit lyk na ’n “eerlike” fiets. ’n Fiets sonder fieterjasies.

Die enjin is die bewese 1245 cc-bokserenjin en lewer 100 kW teen 7 750 r.p.m. Die wringkragsyfer is 143 Nm en dit is beskikbaar teen 6 250 r.p.m. Ek was nog nooit ’n groot aanhanger van hierdie ontwerp nie.

Die BMW R 1250 R. (Foto: Brian Cheyne)

Die enjin word net elke keer groter en dit maak die fiets baie breed. Ek moet mooi korrel as ek die fiets verby my kar in die motorhuis moet kry. Ek het ook al ophou tel hoeveel keer ek my skeen teen daai silinderkoppe gestamp het. Aan die unieke karakter wat hierdie enjin aan die fiets verleen, is daar egter geen twyfel nie.

As jy op die fiets klim en jou skeen klaar gestamp het, begroet BMW se volkleur TFT-skerm jou. Die R het egter ’n klein verrassinkie weggesteek in die paneel, naamlik sy sportskerm. Aan die linkerkant is daar ’n aanduiding van hoeveel die tolbeheer inmeng tydens versnelling.

Die BMW R 1250 R. (Foto: Brian Cheyne)

Aan die regterkant wys dit hoe hard jy rem, maar onder die toereteller is daar ’n wyser wat jou leunhoek in ’n draai aandui. Die wonderlike is dat die maksimum waardes behou word tot jy die fiets afsluit. Jy hoef dus nie in ’n draai te probeer loer hoe ver jy leun nie. As jy deur die draai is, kan jy sien of jy jou vorige waarde oortref het of nie. Dit kan ’n uiters verslawende speletjie raak.

Op die pad is die R ’n plesier. Die hele fiets wikkel en beweeg saam met elke inset van die versneller en remme. Die ratkas is toegerus met snelskakeling wat steeds nie perfek is op die R-modelle nie.

Die BMW R 1250 R. (Foto: Brian Cheyne)

Die ratkas sukkel tussen eerste en tweede en selfs derde laat die fiets snaaks bokspring as jy hard ry. Ek het selfs met ’n harde remslag gevoel hoe die agterwiel sywaarts beweeg. En tog het die ryervaring my laat voel asof ek saam met ’n bekwame danser op ’n dansvloer is. Ek bly haar tone raak trap, maar sy vat net die leiding en laat my goed lyk.

Die R 1250 R is ’n ongelooflike lekker fiets om mee te ry en ek sal dag in en dag uit kan pendel met hom. Soos enige fiets is hy ook nie perfek nie, maar dit is een van daardie fietse waarmee jy sommer net, sonder rede, wil gaan ry vir die lekker daarvan.

Klik hier vir die produkblad.

Die feite:

Enjinkapasiteit1254 cc
Gewig (nat)239 kg
Kraglewering100 kW @ 7 750 r.p.m.
Wringkrag143 Nm @ 5 250 r.p.m.
Tenkkapasiteit18 ℓ
Saalhoogte820 mm
PrysVanaf R212 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.