Kawasaki Ninja 400 ’n aangename verrassing

(Foto: Brian Cheyne)

Wanneer ek ’n fiets vir ’n toets gaan haal, het ek vooropgestelde verwagtinge. As daar ’n 125 cc-fiets in my motorhuis staan, dan verwag ek nie vuurwerke nie. Jy weet jy gaan die enjintjie moet moor om by die spoedgrens uit te kom, as dit enigsins haalbaar is. Ek het ook ’n sagte plek vir kleiner fietse en is nou al gewoond aan die kraglewering van 310 cc-fietse. My verwagtinge was egter heeltemal oortref deur die Kawasaki Ninja 400. Hierdie fiets is nou al geruime tyd op die mark en ek het al vergeet hoeveel woema die klein 399 cc‑ tweesilinderenjin het.

(Foto: Brian Cheyne)

Kawasaki se liggewigsportfiets het oor die jare gegroei van ’n 250 cc tot ’n 300 cc en toe tot die 400 cc wat ons vandag ken. Die enjin ontwikkel omtrent 45 pk. teen ’n ongelooflike 10 000 r.p.m. Dan het die enjin nog so 2 000 r.p.m. om te gaan voordat jy eers die rooilyn bereik.

Kawasaki het die Ninja onlangs visueel opgeknap en hy lyk nou baie treffend. Dit bring die fiets se ontwerp in lyn met die ander Ninja-modelle. Daar is nuwe kleurskemas, maar ek weet nie wie sal iets anders wil hê as die Kawasaki Racing Team (KRT)-kleure nie. Die neus is nou langer en huisves twee hoofligte. Met hierdie kleurskema en die nuwe neus, sal jy die 400 tussen die ZX-10 en Ninja 650 kan parkeer en min mense sal hom kan onderskei van sy groter boeties.

Alhoewel die Ninja ’n kleinkapasiteitfiets is, is daar meer as genoeg ruimte op die fiets, selfs vir iemand so lank soos ek. Die ryposisie is baie gemaklik en nie sportief vooroor soos jy sou verwag nie. Die saal is egter hard en sal jou nie laat lus voel om lang afstande af te lê nie. Dit is nie ondraaglik hard nie, maar jy sal nie die volle reikafstand van die brandstoftenk kan oorleef nie. Die uitlaatpyp het ook heelwat krappe opgehad waar die verskillende ryers se hakke aan die pyp raak.

Dit is egter wanneer jy begin ry dat die Ninja 400 ver bo sy grootte presteer. Die koppelaar is veerlig en die fiets versnel rats. Jy kan ook die toere in elke rat laat klim, want die enjin sing gewillig saam. Op die snelweg was die spoedgrens glad nie ’n probleem vir die Kawasaki nie. Wat wel ’n probleem was, was om by die spoedgrens te hou. Kawasaki maak daarop aanspraak dat die Ninja 400 ’n topspoed van 200 km/h kan haal en ek glo hulle. As ek moet oordeel aan hoe gewillig die enjin die toere laat klim, klink hierdie aanspraak haalbaar.

Die Kawasaki Ninja 400 lyk soos ’n sportfiets en sy verrigting pas daarby. Trouens, die verrigting verskil nie veel van dié van baie groter fietse van so ʼn paar jaar gelede nie. Die hantering is nóg ’n pluspunt op die 400 se rapport en behoort ervare ryers ure se genot te verskaf. Dit behoort ook beginners baie selfvertroue te gee. Ek het nog net een versoek aan Kawasaki: wil julle nie asseblief hierdie enjin in die Kawasaki Versys sit nie? Man, dit sal nou ’n lekker avontuurbuksie maak!

Die feite:

Enjin399 cc parallel twee
Gewig (Nat)168 kg
Kraglewering33,4 kW/45 pk. @ 10 000 r.p.m.
Wringkrag38 Nm @ 8 000 r.p.m.
Tenkkapasiteit14 ℓ
Saalhoogte785 mm
PrysR104 995

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.