Kawasaki Z 650 Ninja – bekostigbare sportfiets

(Foto: Brian Cheyne)

Sedert 2015 het een fiets die wêreldsuperfietsreeks oorheers: die Kawasaki ZX10 Ninja. Net die Ninja-naam alleen is legendaries. Natuurlik, as ’n fiets op die baan oorheers, beteken dit dat mense ook so ʼn fiets wil ry. Ongelukkig is die ZX10 noord van R300 000, so dit is nie binne almal se bereik nie. Gelukkig het Kawasaki twee kleiner modelle wat meer bekostigbaar is, maar op ’n haar lyk soos die groter fiets. Daar is die Ninja 400, en die Ninja 650. Beide hierdie fietse is onlangs opgeknap en ek kon weer tyd met die 650 deurbring.

(Foto: Brian Cheyne)

Die 2021 Ninja 650 verskil nie veel van die vorige model nie. Trouens, die 650 is al sedert 2006 feitlik onveranderd. Die enjin is ’n tweesilindereenheid wat 68 perdekrag lewer. Die enjin lewer die meeste van sy krag op laer toere. Hierdie is nie ’n baanwapen nie. Tog beweer Kawasaki dat die Ninja 650 ’n topspoed van meer as 200 km/h kan bereik. Die Ninja is egter meer gemik op alledaagse gebruik. Die enjin is ook uiters ekonomies en betroubaar. Dit is wat ek hou van Japanse fietse. Die klem is op betroubaarheid, so die fiets het nie allerhande tierlantyntjies bygekry wat kan skeefloop nie.

(Foto: Brian Cheyne)

So, wat is nuut vir 2021? Die hoofligte is LED-eenhede en sit nou in ’n skerper neus wat die fiets laat lyk soos die groter ZX10. Die windskerm is ook herontwerp en vorm ’n eenheid met die voorste bakpanele. Daar is ook splinternuwe kleurskemas wat die 2021-model sal onderskei van vorige modelle.

Die groot opgradering is egter met die nuwe volkleur TFT-skerm. Die eerste keer wat ek hierdie skerm gesien het, was op die Z H2 en dit het ’n baie eenvoudige ontwerp. Jy is nie heeltyd besig om te soek na inligting nie. Alles is logies uitgelê, en die skerm kan deur middel van Bluetooth koppel aan Kawasaki se Rideology-toepassing.

Die uitlaatpyp op die 650 is ’n kort, kompakte eenheid wat beter lyk as wat hy klink. Die fiets se luier klink blikkerig, maar as jy die krane oopdraai, is daar ’n klein verbetering. Die fiets is baie lig en hantering is baie goed. Ywerige ryers sal hulself gate uit geniet op hierdie Ninja.

Die Kawasaki Z650 Ninja se verbeteringe is bloot kosmeties en tog laat dit die fiets nuut en modern lyk. Hy het aandag getrek waar ook al ek gestop het. As jy ’n intreevlaksportfiets soek wat kan diens doen as ’n pendelfiets ook, is die Ninja 650 ideaal. As ’n bonus het die fiets se prys onveranderd gebly sedert 2017!

Spesifikasies :

Enjin649cc twee silinders
Gewig ( Nat )193 kg
Maksimum kraglewering50kw / 68pk
Saalhoogte79cm
Tenkkapasiteit15ℓ
PrysR 124 995

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.