Kawasaki Z400 – Lemmetjiegroen bruistablet

Die Kawasaki Z400. Foto: Brian Cheyne

Die sangeres Lizandra Winter se dogtertjie druk een oggend haar hele hand in ’n glas waar ’n bruistablet besig is om op te los. “Mamma, ek wil graag vóél hoe dit smaak voor ek dit drink.”

Dit was my eerste indruk van die nuwe Kawasaki Z400. Ek het skaars ’n blok ver met die fiets gery voor ek my hand in sy enjintjie wou druk om te vóél wat so borrel. Genugtig, die Z400 is ’n vergestalting van ’n bruistablet!

Kawasaki het die gewoonte om ’n Ninja met vol bakpanele uit te bring, en dan so rukkie later die Z-weergawe, oftewel die kaalfiets. Die Ninja 400 het laasjaar die lig gesien en het reeds baie sukses op die renbaan behaal. Die het ook vir Ana Carrasco die titel van “eerste vroulike wêreldkampioen” besorg in die SSP300‑klas van die World SBK‑reeks. Die Z‑weergawe is aan die einde van laasjaar bekend gestel en is uiteindelik plaaslik beskikbaar.

Die Kawasaki Z400. Foto: Brian Cheyne

Waar die meeste fietse in hierdie klas ’n enkelsilinderenjin het, spog dié klein Kawasaki met ’n 399 cc parallel tweesilinderenjin. Dit is dalk waar hy sy borrel wegsteek. Waar die sportiewe Ninja reg is vir baangebruik, is die Z meer ontspanne. Die Z is bedoel om ’n pendelfiets te wees, dus sit jy meer regop op die fiets. Kawasaki het die vering ook verstel om meer toegewend te wees.

Die instrumentasie is ’n vloeikristal‑eenheid en is geleen van Kawasaki se 650 reeks fietse. Dit kruip agter ’n baie klein skermpie weg. Die skermpie is bloot vir afwerking, en doen niks om die wind van jou af te hou nie. Sy enigste doel is seker om die bedrading weg te steek.

Die fiets is toegerus met ’n enkele skyf voor en agter en sluitwering is standaard. Die koppelaar is eenvoudig van die ligste wat ek nog ooit op ’n fiets teëgekom het. Ek onthou die Versys 300 se koppelaar was ook so veerlig. Dit maak die hele ry ervaring net makliker.

Die Kawasaki Z400. Foto: Brian Cheyne

Die klein afmetings van die Z400 het my laat wonder hoe ek sou regkom met my lengte, maar ek het ruim plek gehad vir my bene. Die brandstoftenk is so gevorm dat ek met gemak my knieë teen die tenk kon rus. Die enigste kritiek was dat my regtervoet op die uitlaatpyp te ruste gekom het. Maar ek moet erken, dit is darem nie die fiets se skuld dat my voete so groot is nie.

Kawasaki het die as-afstand van die Z400 verklein om die fiets nog meer beweeglik te maak. Om van rigting te verander op die Z400 verg minimale insette op die handvatsels. Om draaie het die beweegruimte op die fiets in sy guns getel en jy kan maklik jou gewig verskuif. Die fietsie het ook verbasend baie krag en ek het nie verwag om so klein fietsie in sesde rat te kon hou op die snelweg nie.

Die toere loop egter baie hoog en dit vat nogal tyd om daaraan gewoond te raak, want jy voel heeltyd jy is in derde rat. Die enjintjie lewer sy maksimum krag teen ’n fenomenale 10 000 rpm, so die Z het baie reserwes oor teen 120 km/h. Jy voel wel ’n effense vibrasie op spoed, maar dit is nie so merkbaar soos op ’n enkelsilinderfiets nie.

Die Kawasaki Z400. Foto: Brian Cheyne

Ek kon bitter min kritiek teen die fiets kry. As ’n pakket, in sy klas, werk hy net. Vir ’n eerste fiets of ’n pendel iets sal hy ewe goed werk. Hy is nie intimiderend nie en behoort lank te kan diens doen voordat jy sal voel jy het iets groters nodig. So as jy wil weet hoe dit voel om ’n bruistablet te ry, gaan loer maar in by Kawasaki. Hulle sal binnekort in vertoonlokale wees! Die prys in nog nie bevestig nie, maar behoort so by die R80 000‑merk te draai.

Die feite:

Enjin399 cc parallel twee
Gewig (Nat)167 kg
Kraglewering33.4 kW @ 10 000 rpm
Wringkrag38 Nm @ 8 000 rpm
Tenkkapasiteit14 ℓ
Saalhoogte785 mm

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anton ·

Nog altyd gehou van Kawasaki se groen kleur/e.
Dit is so kenmerkend van Kawasaki.
Het n lig groen KLR 650 gehad wat vir my besonders was.
Tog so jammer dat Japan nooit daai fietse later wou brandstofinspiuting gee nie.

boerboel ·

Baie Mooi fiets, ek dink ek moet maar kyk om een te kry met die brandstof prys wat so styg maand na maand.
Ek glo sy behoort so by 26km per liter te kan gee.
Stem saam Anton die groen is baie mooi, net Kawa wat so mooi groen het. Ek verlang nou weer na my ZX 10, was ook so groen. Sorry vir die Engels “Let the good times Rolls”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.