Kia kry ʼn sitplek aan die tafel met nuwe Sorento

Kia het onlangs die Carnival en die splinternuwe Sorento bekendgestel.

Die Sorento is al ʼn geruime tyd ʼn lekker opsie, veral toe die maatskappy ʼn paar jaar terug die nuwe 2.2-viersilinderturbodieselenjin en 8-spoed-ratkas bekendgestel het. Die materiale en funksionaliteit van die vorige Sorento het nie vir my in die betrokke prysklas gepas nie, maar met die nuwe Sorento is dit beslis nie die geval nie.

Die nuwe Sorento het ʼn pragtige, nuwe ontwerp. Dit voel vir my asof die ontwerp op die Amerikaanse mark geteiken is. Sodra mens die binneruim betree, word jy begroet deur mooi, luukse materiale en uitmuntende bougehalte. Die aluminium-afwerking op die deurkaarte en óm die lugopenings is werklik pragtig. Sodra dit donker word, sien mens ook die dinamiese beligting in die binneruim wat die luukse gevoel verder verhoog.

Die spesifikasievlak aan die binneruim beïndruk werklik met funksionaliteit soos verhitte én verkoelde sitplekke. Die digitale instrumente vertoon ook jou blindekol sodra jy jou rigtingwyser aanskakel – baie slim. Die klimaatbeheerstelsel werk fantasties.

Onder die kap sit Kia se fantastiese nuwe 2.2-viersilinderturbodieselenjin. Hy bied ʼn sterk 148 kW en 440 Nm. Dít, gepaard met Kia se seepgladde 8-spoed-outo, bied ʼn kragtige ervaring.

Dit is egter in die Outeniekwapas waar die Sorento al sy mededingers uitstof. Sportnutsvoertuie se stuur kan soms vaag en onakkuraat wees. Mens moet dan ʼn paar keer deur ʼn lang draai jou stuurinsette aanpas en verander. Nie in ʼn Sorento nie. Sy padhouvermoë is fantasties. Jy mik vir die kruin van ʼn draai, en die Sorento tref hom, elke keer trap hy perfek in sy spoor. Wat verder beïndruk, is die feit dat die padhouvermoë nie ten koste van ritgehalte goed is nie. Die Sorento bied steeds ʼn fantastiese rit.

Die Sorento bied ʼn magdom lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer – die lot. Aan die aktiewe kant is daar Kia se nuwe suite van veiligheidstelsels soos baanhulp, botsingwaarskuwing, agter-kruisverkeerwaarskuwing, blindekolwaarskuwing en só hou die lys aan.

Hoe som mens die Sorento op? Dit is ʼn groot sportnutsvoertuig met sewe sitplekke en ʼn magdom luukshede. Sy enjin is lekker sterk, én hy is werklik lig op brandstof, maar dit is daai akkurate stuur en padhouvermoë wat hom as ʼn ware bestuurdersmotor klassifiseer.

Daar is min sportnutse, en beslis geen in dié prysklas, wat mens deur ʼn bergpas kan jaag en geniet nie. Kia se markleidende waarborg en omvattende instandhoudingsplan op die Sorento wys die vervaardiger se vertroue in dié produk. Hy is ʼn wenner – gaan toetsbestuur een, jy sal verbaas wees.

Die reeks lyk só:

Kia Sorento 2.2 CRDi EX+ 2WD outoR809 995
Kia Sorento 2.2 CRDi EX+ AWD outoR849 995
Kia Sorento 2.2 CRDi SX AWD outoR914 995
Kia Sorento 2.2 CRDi SXL AWD outoR988 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 6 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die Sorento deurbring en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Hoe het tye verander. Nou dink ons R809 995 is ‘n wonderlike prys!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.