Kia pak die sedanmark met nuwe Pegas

Die Kia Pegas. (Foto: Verskaf)

Deesdae gebeur dit selde dat ʼn nuwe sedanmotor bekendgestel word. Sportnutsvoertuie en luikrûe is mos die in ding. Ja, daar is steeds heelwat luukse sedans op die plaaslike mark beskikbaar, maar bekostigbare kleiner rygoed met ʼn kattebak is yl gesaai. Daar is omtrent net die Volkswagen Polo‑ en Ford Figo‑sedan, die Suzuki D’zire, die Honda Amaze en die Nissan Almera

Kia het vroeër hierdie maand die A/B-segment van die mark betree met die Pegas en die Koreaanse vervaardiger is vas oortuig dat dié nuweling ʼn groot leemte in die mark gaan vul. Kia glo daar is steeds ʼn vraag na kleiner sedanmotors, maar dat verkope gekortwiek word deur ʼn tekort aan gepaste opsies. Die redenasie is dat die Pegas reg in die kraal sal pas van diegene wat ʼn eerste motor wil koop, maar moontlik reeds ʼn familie het en dus iets groter as ʼn luikrug nodig het. Die veiligheid wat ʼn afsonderlike kattebak bied, is uiteraard ook ʼn oorweging.

Die Kia Pegas. (Foto: Verskaf)

Intreevlak‑sedanmotors is nie altyd van die mooiste nie, maar tipies Kia is die stilering van die Pegas glad nie sleg nie. Die vooraansig is baie aantreklik, maar na my mening stel die agterkant ʼn bietjie teleur. Dit lyk vir my asof die ontwerper se idees of inspirasie halfpad deur sy taak opgeraak het.

Die Pegas maak egter op ander gebiede op vir sy plat boude.

Met ʼn lengte van 4 300 mm is die Pegas een van die grootste voertuie in die A/B‑segment, maar tog nog klein genoeg om maklik deur stadsverkeer te woel. Boonop sorg die 2 570 mm‑asafstand dat daar oorgenoeg ruimte in die kajuit is. Anders as wat die geval met baie luikrugmodelle is, sal selfs die agterste passasiers gemaklik kan sit. En natuurlik is die indrukwekkende 475 liter‑kapasiteit van die kattebak ook nie te versmaai nie.

Wanneer mens na die lys van standaardtoebehore kyk, is dit moeilik om te glo dat die Pegas as ʼn intreevlakmodel bemark word. Alle variante van die Pegas het ʼn 7-duim‑raakskem wat die inligting-/vermaakstelsel beheer, ʼn trukamera, Bluetooth‑konnektiwiteit, ʼn USB-punt en Apple CarPlay sowel as Android Auto. Daar is satellietkontroles vir al hierdie speelgoed op die stuurwiel en die pakket sluit ook elektriese kantspieëls en vensters in.

Die binneruim van die Kia Pegas. (Foto: Verskaf)

Die Pegas is in twee spesifikasievlakke beskikbaar. Die intreevlak LX het 14 duim‑staalwiele en lapbekleedsel vir die sitplekke. Die EX‑modelle spog met 14 duim‑allooiwiele en kunsleer-insetsels op die sitplekke, sowel as leerafwerking vir die stuurwiel, hoogteverstelling vir die bestuurdersitplek, spoedbeheer en misligte.

Sluitweerremme met EBD, lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, en Isofix-monteerpunte vir ʼn babastoeltjie is die vernaamste veiligheidsitems.

Onder die enjinkap van die Pegas is ʼn 1.4 liter‑petrolenjin wat 69 kW en 132 Nm uitskop. Die enjin dryf die voorwiele aan en is gekoppel aan ʼn vyfspoed-handratkas of ʼn vierspoed‑ outomatiese ratkas.

Die binneruim van die Kia Pegas. (Foto: Verskaf)

Ons het tydens die mediabekendstelling slegs die geleentheid gehad om die handratmodel te bestuur. Ek was gretig om te sien hoe die ryding hom op die pad gedra en het vanaf Melrose in die noorde van Johannesburg op die snelweg koers gekies Pretoria toe. Die Pegas gaan geen snelheidsrekords opstel nie, maar hy het meer as genoeg krag en spoed om by te hou in die verkeer. Ek het naby Centurion gaan draai en toe sommer die Pegas in stadsverkeer op die proef gestel. Stop en wegtrek is glad, die stuur is lig en ratskakeling is sonder moeite.

Kortom, na ongeveer twee ure agter die stuur van die Pegas was ek heel beïndruk.

Enigiemand wat in die mark is vir ʼn gemaklike kompakte sedanmotor met genoeg spasie en al die belangrikste foefies ten opsigte van vermaak, konnektiwiteit en veiligheid, behoort die Pegas ernstig te oorweeg. Hy is boonop bekostigbaar ook. Hou ook in gedagte dat die Pegas gedek word deur Kia se indrukwekkende waarborg van vyf jaar en onbeperkte kilometers, wat ook padbystand insluit. ʼn Vier jaar/60 000 km-diensplan is ook standaard.

Die Kia Pegas-reeks sien só daaruit:

Model                          Prys
Pegas 1.4 LX ManualR225,995
Pegas 1.4 EX ManualR236,995
Pegas 1.4 EX AutoR251,995

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonkprop ·

So hierdie is basies die nuwe Kia Rio sedan onder ‘n nuwe naam?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.