Kia se Sonet sing ʼn heel nuwe deuntjie

Deur Liana Reiners

Die Engelse woord “sonnet” beskryf ʼn eeue-oue digvorm wat oor die algemeen met liefdesverklarings verband hou. Dit word wel effens anders gespel, maar Kia se Sonet – wat verlede week plaaslik bekendgestel is – gaan waarskynlik ook kopers laat swymel voor sy sjarme.

Kia se nuwe ryding is ʼn kompakte sportnutsvoertuig en ding mee in die uiters kompeterende B-segment van die plaaslike mark waar rygoed soos die Toyota Urban Cruiser, Suzuki se Brezza, die Hyundai Venue en die Honda WR-V tans spook om die Ford EcoSport te onttroon. Om dus enige noemenswaardige indruk te maak, sal die Sonet behoorlik moet uithaal en wys.

Een aspek waarvoor die Sonet al klaar ʼn klomp punte sal kry, is stilering. Die Koreaanse vervaardiger ken sy storie as dit by ontwerp kom, want die Sonet is regtig ʼn mooi voertuig en party van sy mededingers steek lelik af. Die ontwerp is taamlik aggressief, met die hoër grondvryhoogte, bultende wielboë, dakrelings en prominente sierrooster wat die Sonet ʼn definitiewe sportiewe karakter gee.

Wat die binneruim betref, is daar, tipies Kia, min fout te vind. Daar word slim gebruik gemaak van verskillende teksture vir die plastiekafwerking om die uitleg van die instrumente en middelkonsole aan te vul.

Kontroles is logies uitgelê en eenvoudig om te gebruik, terwyl satellietkontroles op die stuurwiel sorg dat die bestuurder se oë op die pad gefokus bly. ʼn Agt duim hoë definisie-inligting-en-vermaakstelsel is standaard en bied onder meer stemkontrole en Bluetooth-verbinding. Boonop is dit versoenbaar met Apple CarPlay asook Android Auto.

Goeie nuus vir die insittendes is dat daar oorgenoeg been-, kop- en skouerruimte is. Boonop kan twee volwassenes gemaklik agter sit. Die bagasieruim het ʼn heel skaflike kapasiteit van 392 l, wat min of meer in ooreenstemming is met ander rygoed in hierdie marksegment.

Uiteraard is veiligheid ook hoog op die lys van prioriteite. Dus spog die Sonet met allerhande innoverende veiligheidstelsels wat elektroniese stabiliteitsbeheer, sluitweerremme, lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier en ISOFIX-monteringspunte vir ʼn babastoeltjie insluit.

Onder die enjinkap van die Sonet is ʼn 1.5 l-petrolenjin wat 85 kW teen 6 300 r/min en 144 Nm teen 4 500 r/min uitskop. Kopers het ʼn keuse tussen ʼn sesspoedhandratkas of ʼn sogenaamde palwisseltransmissie (CVT). Ek was nog nooit juis ʼn groot liefhebber van palwisseltransmissie-ratkaste nie, maar ek was heel beïndruk met hoe die Sonet s’n hom van sy taak gekwyt het – selfs teen opdraandes en oor Sir Lowryspas. Dit was nie eens nodig om die radio harder te stel om die irriterende geteem waarmee ʼn CVT dikwels ratte soek, uit te doof nie!

Die nuwe Sonet is in twee spesifikasievlakke beskikbaar: LX en EX.

Die LX-model spog onder meer met sentrale sluitbeheer, lugversorging, elektriese vensters, elektriese verstelling vir die buitespieëls, outomatiese kopligte, ʼn truratkamera en sitplekke wat in ʼn kombinasie van fopleer en lap afgewerk is.

Die EX het dit alles en nog meer. Hierdie pakket sluit dan ook 16″-allooiwiele, misligte voor, en leerafwerking vir die stuurwiel en rathefboom in.

Ons toetsrit het ons vanuit die Kaapse middestad na Hermanus geneem en afgesien van hoofweg- en dorpsverkeer, het die roete ook ʼn stuk grondpad ingesluit. Op teer is rygerief en padhouvermoë uit die boonste rakke. Op die grondpad was die Sonet egter effens senuweeagtig. Ek moet darem bysê dat motorjoernaliste voertuie gewoonlik baie harder laat werk as die gewone bestuurder, so Jan Alleman sal moontlik met my stry oor die Sonet se stofdansery. Boonop vermoed ek in elk geval dat die meeste van sy kompetisiegenote dieselfde sal reageer, so dit sal onregverdig wees om die Kia net daaroor te penaliseer.

Alles in ag genome, is die Sonet ʼn heel skaflike pakket. Daar is nie eintlik enigiets in sy arsenaal wat hom kop en skouers bo sy mededingers laat uitstaan nie, maar hy doen alles goed genoeg om ʼn waardige teenstander te wees. Na my mening is hy wel die aantreklikste opsie in sy segment.

Natuurlik is daar Kia se indrukwekkende waarborg van vyf jaar en onbeperkte kilometers wat ook ʼn rol sal speel by menige kopers se besluit en dit maak die Sonet nog aantrekliker. Dit sluit ook padbystand en ʼn vier-jaar/60 000 km-diensplan in.

Ons toetsrit met die Sonet was skaars 400 km, maar dit was meer as genoeg om my te oortuig dat hierdie Kia nog baie vriende gaan maak. Hy ry lekker, is goed toegerus, lyk alte parmantig en kos nie ʼn plaas se prys nie.

Ons het ʼn voëltjie hoor fluit dat die reeks voor die einde van die jaar verder uitgebrei gaan word, maar die huidige reeks sien só daaruit:

Model                          Prys
Sonet 1.5 LX ManualR264,995
Sonet 1.5 LX CVTR285,995
Sonet 1.5 EX ManualR284,995
Sonet 1.5 EX CVTR305,995

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ᛄᚪᚾ ·

Bevestig my siening oor alle Kias; Goeie waarde vir geld, doen niks verkeerd nie. Maar genade, die goed is vervelend, ek het al kaas toebroodjies gesien wat meer opwindend is

JohanR ·

Stem saam. Lanklaas ‘n motor gesien wat my hart laat vinniger klop. Verstaan motors moet amper almal deesdae die selfde wees omdat reels oor veiligheidskenmerke. Maar daar is een motor wat my hart laat vinniger klop het en dit is die Maserati Ghibli – https://www.youtube.com/watch?v=ITdgl-oTJ6Y

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.