Kies só tussen dié topdrie bakkies

Isuzu Arctic Truck (Foto: Verskaf)

Die bakkiewêreld word deur drie spelers oorheers – die Hilux, dan die Ranger, en dán die D-Max. Daar is baie ander rolspelers, maar hulle kom nie naby die verkoopsyfers van die topdrie nie. Ons het ʼn wyle terug tyd met drie spesiale bakkies deurgebring – een van elke handelsmerk. Kom ons kyk hoe vergelyk hulle met mekaar.

Ontwerp:

Ford Raptor *****Isuzu Arctic Truck ****Toyota Hilux GR ***

Ford Raptor (Foto: Verskaf)

As mens kyk na ʼn opgedolliede ryding, dan staan die Raptor kop en skouers bó die ander twee uit. Die Isuzu wend ʼn goeie poging aan met sy groot wiele en hoë vering – maar die Raptor se kenmerkende afwerkings, op ʼn egte Raptor, is fantasties. Die Hilux trek ongelukkig hier aan die agterspeen. Dit lyk ongelukkig eenvoudig soos ʼn Hilux met ʼn paar plakkers op, en groot TOYOTA op die sierrooster geskryf.

Binneruim:

Ford Raptor *****Toyota Hilux GR ****Isuzu Arctic Truck ***

Toyota Hilux GR (Foto: Verskaf)

Uit die bestuurdersitplek is die Raptor weereens die lekkerste bakkie vir my. Die sportsitplekke is lieflik gemaklik en die standaardtoerusting indrukwekkend. Die Toyota kwyt hom beter van sy taak as die Isuzu, maar afgesien van die beperkteweergawe-nommertjie in die middelkonsole is daar nie veel wat dié Hilux van ʼn ander een skei nie. Die Isuzu se binneruim is goed genoeg vir ʼn werkperd – maar beslis nie vir ʼn meer as driekwartmiljoen luukse dubbelkajuitbakkie nie.

Enjin, ratkas & dryfstelsel:

Ford Raptor *****Toyota Hilux GR ****Isuzu Arctic Truck ****

Isuzu Arctic Truck (Foto: Verskaf)

Indien ek nie onlangs met ʼn 2.0- BiTurbo Ford in die Laeveld gery het nie, sou die Hilux en Isuzu hier gewen het. Die Toyota se enjin-en-ratkaskombinasie pas perfek in die bakkie. Hoewel die 2.0- BiTurbo Ford lui kan voel met sy 10-spoedratkas hier bó op die platorand, in die Laeveld trek hy dat die stof staan. Die Isuzu het my voorwaar verbaas. Sy 3.0-turbodiesel is gewoonlik bitter styf, maar die Arctic Truck waarmee ek gery het, het al 40 000 km op gehad. Hy trek nou voorwaar bitter sterk, en met sy nuwer 6-spoedouto en sy lang sesde rat, toer hy op die snelweg maklik 140 km/h teen 1 900 r/min. Dit maak hom indrukwekkend lig op brandstof – mét daai reusebande en al.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Ford Raptor *****Toyota Hilux GR ****Isuzu Arctic Truck ***

Toyota Hilux GR (Foto: Verskaf)

Al het die Hilux ʼn indrukwekkende sewe lugsakke, soos die Raptor teenoor die Isuzu se ses – het die Raptor ʼn troefkaart wat die ander twee in die stof laat. Die Ford Raptor het radarbeheerde spoedkontrole met botsingswaarskuwing. Dit is nuwer stelsels wat mens waarsku as die verkeer doodstop, en so meer. Dié stelsels – sou jy nie vinnig genoeg reageer nie, sal self optree en rem aanslaan om ʼn ongeluk te probeer verhoed.

Die Raptor se ritgehalte en padhouvermoë met die onderstel en kompetisiegraad-Fox-skokbrekers is ongeëwenaar. Mens kan dinge met ʼn Raptor doen wat geen ander bakkie kan nie. Die vering gepaard met die pasgemaakte BF Goodrich-bande maak ʼn fantastiese pakket.

Die Isuzu sal uitblink in duine te danke aan sy enorme bande en slim Fox-skokbrekers, maar die ritgehalte stel teleur. Die bakkie het verskriklik harde vering agter, wat na my mening onnodig is op ʼn bakkie wat nie as werkesel gebruik gaan word nie. Dalk kan mens reël dat die Fox-skokbreker gestel word.

Opsomming:

Ford Raptor *****Toyota Hilux GR ****Isuzu Arctic Truck ***

Ford Raptor (Foto: Verskaf)

Daar is eenvoudig niks fout met die Raptor nie. As ek moet krap, sal ek graag ʼn 3.0-V6-dieselenjin in hom wou gehad het. Die Hilux GR is ʼn lekker bakkie waaroor geharde Hilux-liefhebbers gaande sal wees. Dit bied ongelukkig nie vir my genoeg méér as ʼn Legend 50 om die prys te regverdig nie, al is die vering effe beter op ʼn grondpad. Die Isuzu AT35 is ʼn lekker speelding – maar die prys is ongelukkig in ʼn gedeelte van die mark waar daar lekkerder speelgoed is.

Die drie vergelyk só:

Ford Ranger 2.0Bi-Turbo 4×4 RaptorToyota Hilux 2.8GD=6 4×4 GR SportIsuzu D-Max 3.0TD 4×4 AT35
Krag157 kW/500 Nm130 kW/450 Nm130 kW/380 Nm
Kapasiteit2.0-viersilinderturbo-diesel2.8-viersilinderturbo-diesel3.0-viersilinderturbo-diesel
Brandstofverbruik8.3 ℓ/100 km8.6 ℓ/100 km8.5 ℓ/100 km
Diensplan & waarborg4 jaar/120 000 km- waarborg

6 jaar/90 000 km- diensplan

3 jaar/100 000 km- waarborg

9-dienstediensplan

5 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

Bandgrootte285/70/17265/65/1735×12.5 R17LT
Grondvryhoogte283 mm286 mm268 mm
Sleepkapasiteit2 500 kg3 500 kg2 900 kg
PrysR849 900R750 800R822 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Die izusu het n nuwe weergawe wat eers 2021 in sa sal wees ek glo hy gaan hillux en ford se alie skop

Scalla ·

Hou ook net die herverkoop waarde in ag voor die besluit geneem word.

Karlahari ·

As ek moes kies op voorkoms defnitief die Isuzu (Engelse praat van “presence on the road”).
As ek moes kies op hantering op rowwe terrein die Ford.
En as ek moes kies op betroubaarheid en herverkoop waarde die Toyota. Sal net daai lelike strepe aftrek….
Maar dan……die nuwe Triton tiek al die boksies….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.