Klein karretjie met ‘n groot persoonlikheid

Ons het onlangs die bekendstelling van die Fiat 500 bygewoon en meeste van die motorjoernaliste was aangenaam verras.

Die Fiat 500 kom in vier nuwe afwerkingsvlakke – die intreevlak Cult, die Connect, die Sport en die reeksvoorloper Dolcevita.

Ek het nie die Sport-model tydens die bekendstelling op die proef gestel nie. Teen R274 900 is hy waarskynlik die beste model in die reeks. Nie die beste waarde vir geld nie, maar die mooiste een, met die lekkerste spesifikasievlak.

Die binneruim van die Fiat 500 is fantasties. Met swart leer en rooi stiksels kry mens die meer sportiewe gevoel wat Fiat met die Sport wil oordra terwyl die Dolcevita se paneelbord wit is.

Die binneruim is volgeprop met alles wat jy nodig het – elektriese vensters, klimaatbeheer, spoedkontrole en ʼn raakskerminligtingstelsel wat CarPlay en Android Auto bied. Daar is ook ander luukshede soos outomatiese ligte en -ruitveërs.

Onder die kap skuil ʼn 2-silinder turboaangejaagde enjin wat 875cc verplaas en 63 kW en 145 Nm lewer. Indrukwekkende verrigting van 0 – 100 km/h in 11 sek en 173 km/h voluit is een kant van die muntstuk, terwyl brandstofverbruik so laag as 3,6 l/ 100 km is.

Die ou denkwyse dat piepklein motortjies onveilig kan wees, is bog. Die 500 spog met ʼn klastoonaangewende sewe lugsakke, sluitweerremme, vastrapbeheer, elektroniese remkragverspreiding – die lot. Dit is ook op die pad waar die Fiat 500 die meeste beïndruk. Al is die 500 klein, voel hy lekker stabiel op die pad, selfs tydens ‘n groot donderbui. Op pad terug van die lughawe af op die R21 het ek besluit om vas te stel hoe lank die 500 se bene is – ver bó die spoedgrens is al wat ek sal sê.

Dit is bitter maklik om die Fiat 500 op te som. Dit is ʼn luukse, gemaklike karretjie met ʼn pragtige ontwerp in ʼn piepklein pakket. Indien jy ʼn klein voertuig soek, gaan toetsbestuur beslis een.

Die reeks lyk só:

Fiat 500 CultR219 900
Fiat 500 ConnectR260 900
Fiat 500 SportR274 900
Fiat 500 Dolcevita outoR279 900
Fiat 500 Sport cabrioletR324 900
Fiat 500 Dolcevita cabrioletR329 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km-waarborg.

Die kompetisie lyk só:

Kia Picanto 1.2 X-Line61 kW/ 122 Nm5 l/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

2 jaa/ 30 000 km diensplan

R239 995
MINI One hatch75 kW/ 190 Nm5,3 l/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

3 jaar/ 75 000 km omvattende instandhoudingsplan

R401 050

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.