Klein, maar getrain

(Foto: Brian Cheyne)

Tydens verlede jaar se bekendstelling van die groot V-Stom 1050 DE in Suid-Afrika, het Suzuki ook sy klein 250 SX daar gehad. Ek het heel eerste op die SX geklim, want ek wou voel of hierdie klein fietsie enigsins waardig is om die V-Strom-benaming te dra. Hy mag dalk klein wees, maar hy sal jou verbaas met sy vermoëns.

Die naam V-Strom kom van Suzuki se V-enjins wat diens gedoen het in hulle 650 cc- en 1 000 cc-avontuurfietse. Die naam het egter sinoniem geword met dubbeldoelfietse, so selfs al het die nuwe 800 Suzuki ’n tweesilinderenjin en die 250 SX ’n enkelsilinderenjin, staan die reeks steeds bekend as V-Strom.

(Foto: Brian Cheyne)

Suzuki het drie 250 cc-modelle in hulle reeks, die Gixxer, die Gixxer SF en dan die SX. Die Gixxer word grotendeels vir afleweringsfietse gekoop. Die SF-weergawe het vol bakpanele en lyk soos ’n sportfiets. In my oë maak die SX egter die meeste sin. Dit het dieselfde verrigting as die ander twee met die bonus eienskap dat hy nie sy neus sal optrek as hy homself skielik op ’n grondpaadjie bevind nie. Die ryposisie is ook meer ontspanne.

Die hart van die SX is ’n 249 cc-enkelsilinderenjin met olieverkoeling. Die 250 V-Strom was voorheen in Suid-Afrika beskikbaar met ’n tweesilinderenjin, maar hierdie enjin het nie juis geskitter as dit by verrigting kom nie. Alhoewel die nuwer enjin net ’n rapsie meer krag gee, help die brandstofinspuiting om die nuwe fiets verbasend lewendiger te laat voel. Die enjin lewer 26 pk, en met net 167 kg om rond te beweeg, is dit meer as genoeg.

Die klein V-Strom lyk alles behalwe klein. Hy vertoon groot, en het selfs ’n snawel soos dit ’n avontuurfiets betaam. Die grondvryhoogte is ’n skaflike 205 mm en hy het selfs ’n pensplaat van soliede staal. Die fiets lyk asof hy ernstige terrein sal kan aanpak mits jy jou gesonde verstand inspan en nie te veel van die fiets verwag nie. ’n Vriend van my was met sy SX tot diep in Botswana, so as jy geduld het, kan jy op ’n baie sielverrykende avontuur gaan. Die een goeie ding van so klein fiets is die gewig, of eerder die gebrek daaraan. Dit maak die fiets maklik om te hanteer, en sou jy dalk omval, het jy nie ’n hyskraan of ’n rugbyspan nodig om hom weer regop te kry nie.

Alhoewel die saal 835 mm hoog is, is die fiets so smal dat selfs korter ryers gemaklik behoort te wees op die SX. Vir my lengte het die handvatsels laag gevoel, maar dit is iets wat jy maklik kan regstel. Die instrumentepaneel is ’n eenvoudige vloeikristal-eenheid en daar is ’n USB-sok aan die linkerkant van die paneel.

Die klein V-Strom is ’n plesier om te ry, en die verrigting is genoeg om jou vinnig onder die verkeer uit te kry. Om by te bly op die snelweg is ook glad nie ’n probleem vir hierdie fietsie nie. Maar ek het nog nie eers by sy beste twee eienskappe gekom nie: sy prys en brandstofverbruik. Ek weet nie hoe Suzuki dit regkry om hierdie fiets vir slegs R59 750 te verkoop nie. Vir wat dit is, is die prys amper te goed om waar te wees. Die fiets gebruik ook amper geen brandstof nie. Ek het begin dink dat as die brandstofliggie aankom, jy net naby ’n vulstasie moet verby ry, dan gaan hy weer af. Om 40 km per liter te kry is glad nie abnormaal nie. Trouens, dieselfde vriend van my kry op sy daaglikse pendel tot soveel as 45 km/ℓ. So, met sy 12 ℓ-brandstoftenk in ag genome, is 550 km op een tenk glad nie onmoontlik nie.

As jy dus ’n groot sin vir avontuur en hope geduld het, is die V-Strom 250 SX meer as genoeg fiets om jou op jou volgende avontuur te neem!

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.