Klein maar getrein

Die Peugeot 108. Foto: Verskaf

Die A-segment is piepklein, maar daar is ʼn magdom motors om van te kies.

In ʼn segment waar mens ʼn Renault Kwid kan koop vir so min as R140 000, óf ʼn VW up! vir R200 000 moet mens liefs versigtig wees. Die goedkoopstes het tot onlangs nog nie ABS gehad nie, en slegs een lugsak. Die nuwes het net twee.

Die Peugeot 108 het egter ABS én ses lugsakke. Ses! Ek weet nie waar hulle almal gesit het in so klein buksie nie. Die ontwerp van die 108 is oulik. Die voorkant is vir my meer volwasse as die spelerige agterkant. Die kantprofiel lyk baie soos sy voorganger. Vier deure en wiele, en ʼn wit buksie in die middel.

Die Peugeot 108. Foto: Verskaf

Die binneruim voel nie so klein soos ʼn mens sou dink nie. Die paneelbord is oulik, maar pas nie noodwendig vir my by die mooi voorkant se ontwerptaal nie. Maar – en dit is een van die groot pluspunte vir die Peugeot – die sitplekke is van ʼn fantastiese gehalte. Ek is nie lig in die broek nie en die 108 se sitplekke bied puik steun en gevoel – iets wat sy goedkoper mededingers beslis nie regkry nie. Die 108 het ʼn lekker inligtingstelsel wat CarPlay en Android Auto bied sowel as Bluetooth. Die klankgehalte is indrukwekkend vir so klein tjor.

Die Peugeot 108. Foto: Verskaf

Die enjin is waaroor ek en my kollegas hierdie kant toe en daardie kant toe gepraat het. Ek het van die vrouens in die nuuskantoor ingespan om hul opinie te gee. Die inhoudsredakteur ry self ʼn groot Mazda-bakkie. Sy was aanvanklik in haar skik met die ratse grootte van die tjor – maar het later na die krag van haar groot diesel-bakkie verlang. Die nuusredakteur ry self ʼn Polo en sy was heel in haar noppies met die enjin – maar die grootte van die tjor is ʼn probleem vir enige iemand wat dink aan ʼn gesin. Toe vra ek vir een van die jonger joernaliste om te kyk. Sy sê toe ook die ontwerp is oulik, maar die enjin kom nie die mas op nie. Ek sal wel byvoeg dat die koppelaar en versneller se kalibrasie baie goed is. Die 108 trek weg en wissel lieflik ratte sonder ʼn geruk en pluk.

Die Peugeot 108. Foto: Verskaf

Ek gaan ry toe weer en kom agter die lugreëling het ʼn tamaai uitwerking op die enjin. As die pomp aankom dan ruk die motor sommer daarvan. Die ander ding is dat hulle nie die 108 hard genoeg ry nie. Daar is liggies wat vir ʼn mens wys wanneer om ratte te wissel. As jy daai liggies volg, gaan jy nooit êrens kom nie. Ek vat toe die inhoudsredakteur en wys haar – die krag lê heel bó in die toerestrek, en dít gepaard met lang ratverhoudings stel die 108 in staat om 110 km/h in tweede rat te doen! Ja, geen mens sal hul eie 108 só ry nie, maar sy enjin trek lekker sterk hier by 70 km/h in tweede.

Die ritgehalte is heel in die kol vir dié grootte buksie. Die padhouvermoë is ook beter as sy goedkoper mededingers, want die 108 het behoorlike grootte wiele op.

Om die 108 op te som is eintlik moeilik, want vier mense het hul onderskeie menings gelug. Die ontwerp is oulik en die ergonomie goed. Die veiligheid is klasleidend en ek dink die enjin se kraglewering is lekker egalig, al lê die krag bó in die toerestrek. Die lugreëlingpomp se kalibrasie moet nagegaan word en geprogrammeer word om af te skakel indien die versneller plat getrap word.

Die reeks lyk só:

Peugeot 108 Active53 kW/93 Nm4,3 ℓ/100kmR184 900

Die 108 word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-diensplan. Dit is ongeëwenaar in dié segment.

Die kompetisie lyk só:

Hyundai Atos 1.1 Motion50 kW/99 Nm5,7 ℓ/100 km2 lugsakke5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

1 jaar/15 000 km-diensplan

R159 900
Suzuki Celerio 1.0 GL50 kW/90 Nm4,7 ℓ/100 km2 lugsakke5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R162 900
VW up! take up! 5 deur 1.055 kW/95 Nm4,6 ℓ/100 km4 lugsakke3 jaar/120 00 km-waarborg

Geen diensplan

R180 900
Toyota Aygo 1.0 X-Clusiv53 kW/93 Nm4,3 ℓ/100 km4 lugsakke3 jaar/100 000 km-waarborg

Geen diensplan

R181 400
Nissan Micra Active 1.2 Visia56 kW/104 Nm5,2 ℓ/ 100 km2 lugsakke6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R187 000
Kia Picanto 1.0 Style49 kW/95 Nm5,0 ℓ/100 km2 lugsakke5 jaar/onbeperkte km waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R189 995
Renault Sandero 66kW turbo Expression66 kW/135 Nm5,2 ℓ/100 km2 lugsakke5 jaar/ 150 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R194 900
Ford Figo 1.5 Ambiente88 kW/150 Nm5,7 ℓ/100 km2 lugsakke4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R195 200

Tussen dié mededingers is die Peugeot se diensplan en lugsakke ongeëwenaar teen sy prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gato ·

Die Ford Figo is wel die duurste maar dit lyk na die beste waarde vir geld as mens die enjin se kraglewering en die diensplan in ag neem.

Jannie van Niekerk ·

Die twee Peugeots wat ek besit het naamlik die 307HDI en die 1007 was die heel beste voertuie met die beste na verkope diens wat ek ooit gehad het. Indien ek ooit eendag weer die vermoë het om ‘n voertuig te kan koop, sal Peugeot bslis my eerste keuse wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.