Kleiner nie noodwendig ’n slegte ding

(Foto: Verskaf)

Ducati Suid-Afrika het pas sy tweede Mystery Ride aangebied waar ons omtrent 2 300 km in vier dae afgelê het. Hieroor sal ek breedvoerig uitbrei in ’n aparte artikel, maar laat my toe om eers te gesels oor die fiets waarmee ek oor die vier dae gery het: die Multistrada 950. Die toer het net weer vir my bevestig watter ongelooflike fiets die 950 is. Ons obsessie met die “grootste” veroorsaak dat ons fietse soos dié heeltemal miskyk.

Die Multistrada-reeks is Ducati se interpretasie van ’n dubbeldoelfiets en natuurlik is die Ducati-rengene diep verweef in die fiets. Op die oog af is daar nie veel visuele verskille tussen die 950 en die groter 1260 nie. Selfs die splinternuwe V4 Multistrada wyk nie veel van die resep af nie. Ek moet sê die stilering is nie na almal se smaak nie. Daar is egter iets baie spesiaal aan die naamplaatjie wat hy dra.

Die hartklop van die 950 is sy 937 cc- Testastretta L-twee-enjin. Die enjin lewer 113 pk wat oorgenoeg is vir enige aanwending waaraan jy kan dink. Die fiets weeg net oor die 200 kg wat ook in sy guns tel as die pad begin tegnies raak. Die 950 is egter nie net ’n sportfiets wat hulle opgedollie het nie. Die 19″-voorwiel en hoë grondvryhoogte maak die Multistrada regtig ’n fiets vir alle paaie. As jy een van daardie ryers is wat baie ver die boendoes in wil ry, dan kan jy ook die 950 spesifiseer met speekwiele.

As jy op die Multistrada klim, is die sagte saal baie verwelkomend. As jy egter ’n 200 km-stuk ry, dan kan selfs dié saal nie veel doen om die lamheid in jou agterstewe te verlig nie. Die handvatsels is hoog en breed, so om te staan en ’n strekoefening of twee te doen is heel gemaklik. Persoonlik het die voetruste vir my aan die kort kant gevoel, maar ander ryers op soortgelyke fietse het net my groot voete blameer.

Die instrumentasie is ’n groot vloeikristaleenheid en bevat uiters volledige inligting. Dit is ook maklik leesbaar. Daar is ’n 12 V-sok naby om jou GPS of foon te laai en die skerm is verstelbaar vir hoogte. Die meganisme is eenvoudig en kan met een hand verstel word in die ry.

Daar is egter so ’n paar dinge wat my pla. Die eerste is die gebrek aan spoedbeheer. Dit is tog ’n toerfiets dié en dit sou welkom gewees het op ons pas afgelope toer. Die ander weglating is verhitte grepe. Weereens, vir die doel waarvoor hierdie fiets gemaak is, moes dit eerder op die lys van standaardtoerusting gewees het.

As jy die aansitter druk en die 950 wakker maak, hoor jy die unieke klank wat dié fietse so spesiaal maak. Die koppelaar is lig en die rit is moeiteloos. Die 950 het nie snelskakeling nie, maar ek het dit nie gemis nie. Selfs in sesde rat kan jy net die krane oopdraai en die fiets sal met ywer reageer. Die 950 hoef glad nie terug te staan vir fietse met groter kapasiteit nie. Die versnelling gaan gepaard met ’n heerlike diep grom, en dit bly maar een van die lewe se klein plesiertjies om een van hierdie fietse hard te ry. In die draaie beweeg jy net jou bolyf en die 950 volg die gekose lyn. Die Multistrada het ’n hele lang lys van elektroniese vangnette en het baie vertroue by my ingeboesem.

Die Multistrada 950 is ’n ongelooflik bekwame toerfiets op enige pad, enige afstand. Ek het nou al by twee geleenthede langer as drie dae getoer met ’n 950 Multistrada en dit bly vir my een van die gemaklikste fietse om op te ry. En dan bly die vraag: het jy regtig meer as dit nodig?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dubbelloop ·

Brian, dankie vir die berig hierbo. Jou opinie, hoe weeg die Ducati op teenoor die BMW S1000 XR. Ek ry nie een vd twee nie maar is ń groot BMW fan. My laaste was die R1200RT

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.