Koebaai Stormtrak, ons sal jou mis

Ford het vir ons ’n Ranger Stormtrak vir ses maande geleen en ons het in dié tyd meer as 16 000 km met hom afgelê. Hy het die Kaap twee keer met sloertoere gaan besoek, een keer die hof in Pofadder, ʼn gholftoer meegemaak, klomp tuinvullis weggery, kinders heen en weer skool toe karwei en ʼn bietjie gaan 4×4.

Dit is ongelukkig daar waar nie nét ons geliefde Stormtrak seergekry het nie, maar ook my ego. Ek moes seker nie die hindernis by Hennops aangedurf het nie, dalk ʼn raps te dapper gewees weens ons laaste toertogte met die Raptors in Lesotho – maar, helaas ons Ranger is beskadig. ʼn Duik regs agter en die inklimtrappie aan die linkerkant is beskadig.

So tussen my skuldgevoelens deur dink ek terug aan ons tyd met die Ranger. Daar is niks wat iemand hom gevra het wat hy geweier het nie – oukei, behalwe daai laaste hindernis. Die enigste foefie is dalk die elektriese rolluik wat nie meer mooi oop‑ en toemaak nie wat aandag kort.

Die ontwerp is netjies en die binneruim luuks. Die leersitplekke met hul verwarmers is lieflik gemaklik. Die Ford Sync3‑inligtingstelsel werk puik en bied Apple CarPlay sowel as Android Auto. Dít, saam met die Ford Pass‑app op jou foon, bied puik slim tegnologieë wat in dié segment ongehoord is.

Die 2.0‑dubbelturbodieselenjin bied ʼn lekker 157 kW en 500 Nm. Saam met Ford se 10-spoed‑outo maak die Ranger lekker in die dorpsverkeer, óf die oop pad. Ons het 9,4 ℓ/100 km gehandhaaf oor ons 16 000 km met die Ranger – nie te versmaai nie.

Ons het al berig oor die aanleg hier in Silverton wat tans Rangers bou teen ʼn puik 11 foute per 1 000 – waar dit ʼn paar jaar gelede oor die 400 was. Dit wys hoe betroubaar die Ranger nou is, en afgesien van wielsporing, het ons Ranger niks aandag gekort nie. Die wielsporing is seker vanweë die afskuwelike toestand van ons land se paaie.

Ford maak intussen gereed om later vanjaar sy nuwe Ranger bekend te stel. Ek self kan nie wag om die voertuig in lewende lywe te sien nie. Ons sal sy bekendstelling aan die einde van die jaar bywoon. Tot dan… koebaai Ranger, jy was fantasties.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.