Koelste bakkie nóg?

Suid-Afrikaners is mal oor bakkies en as jy nou die knuppel in die hoenderhok wil gooi moet jy die Ford vs. Toyota-debat aan die gang kry.

Daar is ʼn paar kategorieë – klein halftonbakkies soos Nissan se NP200, werkesels, langasafstandbakkies, 4×4 of 4×2, lekker leefstyldubbelkajuitbakkies en dan is daar ʼn klein kategorie gespesialiseerde bakkies. Tot nou was daar net die Cruiser en Raptor in dié klas. Die Raptor sorg vir die jaagduiwels, en die Cruiser vir die oorlandontdekkingsreisigers waar absolute betroubaarheid nodig is.

Toe kom Jeep met sy Gladiator. Dink aan ʼn Jeep Wrangler Rubicon Unlimited, met ʼn bak agter aan. Ek sal nou nie lieg nie – die proporsies is effens vreemd van sekere hoeke. Hy is baie lank maar dit is onmiskenbaar ʼn Jeep.

Die binneruim is pure Wrangler net ʼn bietjie meer ruimte. Die Gladiator is die gemaklikste Wrangler waarin ek al gery het, nie net in terme van spasie nie, maar ritgehalte ook. Daar is gemaklike sitplekke, ʼn duursame paneelbord met klimaatbeheer en ʼn lekker groot raakskerm wat Android Auto en Apple CarPlay bied. Die klankstelsel is lekker sterk. Onder die agtersitplekke is oulike stoorplekke wat kan sluit. Die gereedskap waarmee ʼn mens die dak en deure afhaal word daarin gebêre en daar is ʼn Bluetooth-luidspreker wat uitgehaal kan word vir ʼn bietjie musiek langs die kampvuur.

Onder die kap, wat steeds met twee slotjies oopmaak, sit Jeep se uiters gewilde 3,6 V6 Pentastar-enjin. Hy bied 209 kW en 347 Nm. Die enjin is gepaard aan ʼn puik 8-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas en dít is hoekom die nuwe Jeep baie beter is by die brandstofpomp is as die Wranglers van ouds.

Die Gladiator spog met goeie ritgehalte, gedeeltelik te danke aan die lang asafstand en tweedens die kronkelvere agter en die Fox-skokbrekers. Daai manne weet hoe om skokbrekers te vervaardig.

Die Gladiator is Trail Rated. ʼn Trail Rated Jeep het 4×4-vernuf wat meeste mededingers lag-lag uitstof. Die Gladiator wat ons hier in Suid-Afrika kry, het nie nét die Rubicon-suite 4×4-speelgoed nie, maar die dak en deure kan afhaal en daar is twee sulke spore in die bak wat wys waar jou motorfiets moet staan. Deel van die standaardtoerusting is swaardiens rotsglystawe én 32” BF Goodrich-bande. Dit is eenvoudig ʼn koel ryding wat geen verskonings maak oor wie en presies wat hy is nie. Hy kan ook 2,7 ton sleep!

Ek hoor baie mense mor oor die prys maar in dié kategorie, is dit wat dié tipe speelgoed kos en vir die wat die geld het gaan eenvoudig nie twee keer dink nie. Die moeilikste besluit gaan wees om die kleur te kies en watter speelgoed ingesluit moet wees. Ek soek die dowwe grys een, asseblief.

Die Gladiator lyk só:

Jeep Gladiator 3.6 Rubicon209 kW/347 Nm12,2 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 259 900

Ons sal weer tyd met die Gladiator deurbring en sien hoe maklik dit is om met hom in die daaglikse roetine saam te leef. Ons wil ook beslis met hom karavaan sleep! Ons sal ná die volgende ontmoeting die Gladiator met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek wil graag weet waarom hulle in die VSA by R550 000 begin maar hier by R1.2m? Invoer belasting en BTW laai net ‘n verdere R250 000 op, so dit bring ons by R800 000 te staan. Waar kom die ander R400 000 vandaan?

VaalDonkie ·

Ek meen, ek sal hou van so bakkie. Vriende van my het ‘n Rubicon en dis ‘n great motor. Maar ek gaan wragtig nie R1.2m betaal nie (al kon ek ook).

Brendon Staniforth ·

Dagsê VaalDonkie

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons model is gelykstaande aan die Mojave model in die VSA. Hy is so $67 000. Dit is R1 068 000 sonder die regering se 43% belasting, BTW en dies meer. Ek dink Jeep Suid-Afrika het werklik ‘n haas uit die hoed geruk met die Gladiator se prys.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Martin ·

Ja, koelste bakkie ooit tot jy garage toe ry om vinnig te gaan petrol ingooi…

JohanR ·

Wat gaan die ministers nou maak? Hulle kry net R700000, maar darem al hulle petol en diesel vry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.