Kom wind, kom weer – Stormtrak sal als trotseer

Ford se Ranger Stormtrak is gemaak vir die lang pad en maak elke afdraai ʼn avontuur.

Ek, vroulief en ons 18 maande oue dogtertjie het in Desember die lang pad Nature’s Valley toe gevat. Mense met kinders sal weet ʼn twee weke lange seevakansie verg goeie beplanning en beteken ook ʼn stewige vrag bagasie. Die elektriese rolluik wat met die druk van ʼn knoppie, op die afstandbeheerder of in die kajuit, oop- en toemaak en die magdom ruimte het korte mette met die pakkery gemaak.

Die kampkot, tasse, speelgoed en alle ander goed het perfek ingepas en met die karstoeltjie wat moeiteloos en vinnig op die agterste sitplek vasheg danksy Isofix, was ons gereed om die Stormtrak se neus in die Tuinroete se rigting in te slaan.

Die kajuit se gehalte is uit die boonste rakke. Die sitplekke, met swart leerbekleedsel en rooi stikwerk, is uiters gemaklik – selfs vir vroulief wat al ver swanger was. Die sitplekke is elektries verstelbaar wat beteken mens kan vinnig jou sit kry met ure op die langpad wat nie die boude lam maak nie. Daar is ook ʼn magdom beenruimte voor en agter.

Die talle hulpfunksies soos die selfstopfunksie in stadstoestande, die baandwaalfunksie, die wakkerbly-gonser, aanpasbare spoedbeheer, botsingwaarskuwing en noodremfunksie verseker dat die kilometers vinnig en veilig verbyrol. Die 157 kW/2.0 -biturbo-viersilinderdieselenjin gaan gepaard met ʼn tienspoed-outoratkas en lewer naatlose ratverwisseling.

Ford se Sync3-inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto werk puik en met jou foon gekoppel, kan jy moeiteloos tussen die navigasie en jou gunsteling-langpadspeellys beweeg.

Ons het vir groot dele in swaar reën gery en die Stormtrak het hom puik gedra en verseker dat almal heelpad veilig gevoel het. Die elektriese rolluik is uiters gerieflik, veral wanneer jy vinnig iets agter wil uithaal wanneer jy stilhou om brandstof in te gooi. Gepraat van brandstof – ons gemiddelde brandstofverbruik was 9,7 per 100 km. Die laaibakverdeler verseker dat bagasie nie in die bak rondval nie, so jy kry alles waar jy dit gelos het en die laaibak sluit ook outomaties as jy die bakkie sluit.

Die Stormtrak is regtig ʼn mooi bakkie. Die LED-kopligte, swart roostermaas met rooi insetsels, swart plakkers op die enjinkap en deure, swart dakrelings en die glansswart 18″-allooiwiele laat behoorlik die koppe draai. Die bakkie kom in vier kleure – blou, wit, grys en rooi.

Ons het oor twee dae Nature’s Valley toe gery en het die aand in Middelburg in die Oos-Kaap oorgeslaap waarna ons die volgende oggend die oorblywende sowat 450 km aangedurf het.

Op die R62 sê die GPS ons moet op die R339-Avontuurpad afdraai en dis toe dat die sports begin – 80 km grondpad wat eindig by die N2. Die kronkelende grondpad loop op en af deur die Prins Alfredpas oor die Outeniekwaberge deur digte inheemse woud. Daar is poele, watervalle, bruggies en die mooiste uitsigte.

Plek-plek is die landskap in ʼn digte miskombers toegevou en dis stadig-om-die draaie af voor jy weer skerp klim. Wanneer ons weer by die teer kom, slaak ek en vroulief ʼn sug van verligting aangesien daar maar ʼn paar benoude oomblikke was, sowat 1 050 m bo seespieël, maar ook weens dankbaarheid dat ons dit in ʼn bakkie soos die Stormtrak kon aandurf.

Nature’s Valley is seker een van die mooiste plekke in ons land. Die ruie natuurskoon en stilte betower. ʼn Woud langs die see – wat meer wil mens hê!

Ons het besluit om op pad huis toe nie weer oor te slaap nie en die meer as 1 200 km in een rit aan te pak. Ons is vroegoggend uit Nature’s Valley weg en het ná 20:00 eers in Pretoria aangekom. Die Stormtrak het hom uitstekend van sy taak gekwyt en verseker dat ons ondanks die baie lang rit heeltyd gemaklik en veilig was. Ons is in ʼn stadium selfs deur ʼn paar sprinkaanplae en afgesien van die sprinkaanslagting in die roostermaas, wat ʼn petroljoggie met groot moeite uitgesorteer het, is ons ongeskonde daardeur.

Die Stormtrak is ʼn fantastiese gesinsvoertuig wat enige terrein moeiteloos en stylvol aanpak en keer op keer ʼn glimlag op jou gesig plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.