Kommer oor veiligheid van intreevlakmotors

Die Automobiel-Assosiasie (AA) en die globale nuwemotor-evaluasieprogram (Global NCAP) het Donderdag die uitslae van sy jongste #SaferCarsForAfrica-veldtog bekend gemaak.

Botsingtoetse word gedoen op intreevlakvoertuie wat in Suid-Afrika beskikbaar is en klem word geplaas op die behoefte vir veiliger voertuie, veral in die intreesegment waar klante deur oulike finansieringskemas gelok word om voertuie te koop – wat moontlik nie op standaard is nie.

Die toetse word sedert 2017 gedoen en dui die aantal lugsakke van elke motor aan en ’n stergradering (uit vyf) word gegee vir volwassene-beskerming en kinderpassasierbeskerming.

Die resultate van 2017 tot 2020 lyk só:

Die drie voertuie wat vanjaar getoets is, is die Great Wall Steed 5, die Renault Kwid en die Haval H1. Volgens die verslag is daar ernstige kommer oor die veiligheid wat al drie voertuie vir volwassenes en kinders bied in die geval van ’n botsing. (Video’s volg onderaan die berig).

Daar was onlangs ʼn herrie in die media oor die Indiese toets op die Suzuki S-Presso. Die probleem met plaaslike media wat hul beriggewing grond op internasionale toetse, is dat die Suid-Afrikaanse S-Presso-model grootliks verskil van die Indiese model. Die plaaslike model het twee lugsakke en die gordels neem vooraf spanning op in ʼn botsing wat die resultate heeltemal sal verander.

Ontleding

Die AA voel sterk oor hul boodskap dat ʼn goeie tweedehandse voertuig ʼn beter oplossing is as ʼn substandaard nuwe voertuig. Ek stem nie heeltemal saam met hulle nie om die eenvoudige rede dat ʼn splinternuwe voertuig met ʼn goeie waarborg verkoop word. Daardie voertuig is splinternuut, met nuwe bande, en word as padwaardig verklaar. Ek sou argumenteer dat die drie jaar oue “beter” voertuig binne so min as ʼn jaar moontlik onderhoud of herstelwerk nodig sal hê wat die eienaar nie kan bekostig nie – en só begin die toestand van die voertuig agteruit gaan. Dit is vir my gevaarliker as die nuwe voertuig wat vir die eerste paar jaar gereeld sy handelaar sal sien te danke aan diensplanne en om die waarborg in stand te hou.

Nog ʼn rede hoekom ek die nuwe voertuig sou aanbeveel, is dat drie van die nuwelinge, selfs die Kwid wat hier getoets word – vir die eerste jaar komplimentêre versekering het. Daar is nóg ʼn dimensie aan die toetse wat ek voel die staat ook voor moet pa staan. Twee dinge, eintlik. Ons betaal reusebelasting op ʼn voertuig. Dit saam met BTW, in die omgewing van 44% op ʼn nuwe voertuig. Dit is miljarde wat die staat elke jaar verdien. Sou hulle vervaardigers beloon vir veiliger voertuie met belastingkortings, sou vervaardigers elke denkbare veiligheidstelsel in ʼn voertuig sit – want dan kon hulle steeds mededingend wees in die mark.

Die tweede ding is die opleiding van ons bestuurders. Dit is angswekkend om deesdae op ons paaie, veral snelweë, te ry en die klein buksies met rooi L’e in die ruit te sien teen 80 km/h in die regterbaan. Wat maak hulle daar? Wat het geword van die wetgewing – hou links, gaan regs verby? Wat het gebeur met die minimumspoedgrens van 80 km/h op ʼn snelweg? ʼn Voorbeeld van hoekom dit só belangrik is, is as ʼn mens na Duitsland kyk. Die Autobahn het twee bane… en in dele is daar geen spoedgrens nie. Duitsers reis op en af op die Autobahn teen 300 km/h elke dag, veilig… Hoekom? Hul bestuurders word oor ʼn lang tydperk deeglik opgelei. Motors is almal 100% padwaardig of dit word deur die polisie geskut. En een van die dinge wat hulle met alle mag polisieer, is hul wet van hou regs, gaan links verby. Niemand skuif tensy hulle moet nie, en ook nie tot hulle baie mooi gekyk het nie.

Dít alles dra by tot ʼn padnetwerk waar hulle redelik veilig reis, ten spyte van die een ding wat die res van die wêreld sê die grootse sondebok is… spoed. Ek glo vas dat dit nie waar is nie. Hier is ons probleem onopgeleide mense, onpadwaardige motors en ʼn blatante minagting van die padreëls.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Puik berig, dit wys duidelik die oorsake van die probleme op ons paaie uit. Van die voertuig invoerders maak hulle self skuldig deur onveilige goedkoop modelle op die mark te stort. So sal dit aanhou totdat daar ‘n proef hofsaak voorkom waar ‘n vervaardiger skudig bevind word daaraan om passasiers doelbewus in ‘n onveilige situasie te plaas. Van die goekoper modelle sal eerder duur radios en ander nie noodsaaklike toerusting kry om kopers te lok. Dit gaan eerder oor geld as die veiligheid van passasiers.
Lekker ry!

Andre ·

Dit is voorwaar ‘n probleem. Maar dit is vir my skrikwekkend hoeveel kop-aan-kop ongelukke voorkom. Ek dink eerder die probleem lê by bestuurder gedrag en weinig wetstoepassing op die paaie. Dis baie makliker om geld in te samel met verkeerskameras en padblokades. Veilige voertuie in Suid Afrika bly vir my daardie wat nie langs die pad onklaar raak nie.

tweeling ·

Wel ek weet nie waater van die data ek moet glo nie, maar die data mbt lugsakke vir die Chery QQ is verkeerd. Ek het ‘n TXE gery en dit het 2 lugsakke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.