Kompakte sportnuts met sewe sitplekke

Kompakte sportnutse is tans uiters gewild. Dit is die nuwe sedanmotor met ʼn groot voordeel – sommige het ʼn derde ry sitplekke. Já, daai sitplekke is gewoonlik klein en beknop, maar wanneer ʼn mens hulle nodig het, is hulle daar.

In hierdie geval praat ons van Mercedes-Benz se nuwe GLB. Hul GL-reeks begin met GLA, GLB, GLC, GLE en GLS, van klein na groot. Die GLA in sy nuutste weergawe lyk meer soos ʼn MPV-mammabuksie. Die GLB is lekker vierkantig, met ʼn uiters moderne ontwerp.

Die binneruim is slim en ruim, terwyl hy steeds Mercedes-Benz se huidige ontwerptaal praat. Die truuk met die GLB is sy derde ry sitplekke. Die meganismes werk maklik, en dit bring ʼn ander dimensie aan dié klein sportnuts.

 

Die GLB bly ʼn luukse Mercedes-Benz. Daar is sewe lugsakke, met twee wat opsioneel ekstra is. Daar is ʼn reusesondak, klimaatbeheer, aanpasbare spoedkontrole met al die aktiewe veiligheidstelsels soos baanbeheer, botsingwaarskuwing en noodremhulp.

Onder die kap skuil Mercedes se 2.0-viersilinderturbopetrolenjin wat 165 kW en 350 Nm bied. Die enjin is gepaard aan Mercedes se 8-spoed-dubbelkoppelaarouto-ratkas. Ek persoonlik verkies hul gewone wringkragomsitter outo. As ʼn mens 165 kW aan die voorwiele stoot, kan dit aan die stuur trek, wat onaangenaam is en nie gepas is vir dié tipe voertuig nie.

Op die pad toer die GLB heel lekker. Hy lei egter aan dieselfde siekte as die meeste moderne Merc’s … en dis sy harde vering. Na my mening kan die rit beslis baie meer soepel wees. Padhouvermoë is beter as wat nodig is in dié segment – maar ek neem aan die vering moet lekker sterk wees agter indien die GLB sewe passasiers dra.

Dit bring my by die opsomming van die GLB 250. Ek persoonlik dink die GLB 220d 4Matic is ʼn beter opsie, vir twee redes. ʼn Mens het nie die 165 kW nodig nie en vir dieselfde geld bied die diesel vierwielaandrywing. Indien jy en jou gesin die GLB dus wil gebruik om ʼn bietjie van die teerpad af te wandel, dan het jy altyd die gemoedsrus van die 4Matic-vierwielaandrywingstelsel. Die diesel sal ook beter brandstofverbruik bied as die petrolweergawe.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLB250165 kW/350 Nm7,4 l/100 kmR839 760
Mercedes-Benz GLB220d 4Matic140 kW/400 Nm5,5 l/ 100 kmR846 880
Mercedes-Benz GLB250 AMG Line165 kW/350 Nm7,4 l/100 kmR891 860
Mercedes-Benz GLB220d 4Matic AMG Line140 kW/400 Nm5,5 l/100 kmR898 980

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS123 kW/222 Nm8,2 l/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R539 995
Nissan X-Trail 2.5 4×4 Tekna126 kW/233 Nm8,3 l/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R611 900
Peugeot 5008 1.6T GT Line121 kW/240 Nm7 l/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en diensplanR658 900
Volkswagen Tiguan Allspace 2.0TSI 4Motion Highline162 kW/350 Nm9 l/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R727 100
Land Rover Discovery Sport D200147 kW/430 Nm5,5 l/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR872 862

Tussen dié mededingers is die Mitsubishi, Nissan, Volkswagen en Land Rover almal met vierwielaandrywing toegerus. Die Nissan is nie só luuks soos die ander nie. As geld nie ʼn probleem is nie, sou ek na die Land Rover en Mercedes-Benz kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.