Kos dié motortjie regtig net R150 per maand?

Die Bajaj Qute. (Foto: https://africabajaj.com/)

Die Bajaj Qute, ʼn piepklein motortjie, is besig om ʼn groot opskudding te veroorsaak.

Maar waaroor gaan die bohaai? Iemand het op sosiale media beweer die motortjie kos net R4 500 en sal jou R150 per maand uit die sak jaag. Dit is egter nie waar nie.

Volgens Bajaj is die Qute nou beskikbaar teen die winskoopprys van R65 000. Hy kos gewoonlik R75 000. Sou ʼn mens dit vandag deur ʼn bank finansier met ʼn 10% deposito oor 72 maande teen ʼn 8% rentekoers sal jy kyk na ʼn maandelikse paaiement van R763. Bajaj voer egter op sy Facebook-blad aan dat daar ʼn minimum paaiement van R2 000 sal wees.

Die Qute val in dieselfde kategorie as ʼn vierwielmotorfiets. Daarmee saam kom daar ʼn paar regulasies. Die Bajaj sal wetlik nie op ʼn snelweg in Suid-Afrika toegelaat word nie, omdat hy nie die minimum spoed van 80 km/h kan haal nie.

Die Bajaj Qute. (Foto: https://africabajaj.com/)

Die Qute is 2,7 m lank, 1,3 m breed en weeg minder as 500 kg. Die voordeel wat ʼn mens uit dié piepklein dimensies en gewig kry is fantastiese brandstofverbruik van omtrent 35 km/ℓ. Daar is plek vir vier mense en sy topspoed is 70 km/h. Hy het ‘n 216 cc-enjin wat 8,08 kW en 18,9 Nm opwek.

In Indië, waar die Qute vervaardig word, ry almal op motorfietse en sonder valhelms. Vir hulle is ʼn Qute veiliger as die alternatief. In Suid-Afrika waar daar groter afstande afgelê word en hoër spoedbeperkings geld, kan dit dalk ietwat skrikwekkend wees om in die verkeer met die Qute rond te rits.

Maroela Media hoop om binnekort ʼn Qute onder hande te kry om te sien waaroor die bohaai gaan en om hom op die proef te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ONTPS ·

Ek dink dit sal ‘n fantastiese tjor wees om mee in die stad te ry, gegewe die petrolprys wat net aanhou styg. 35km/l klink amper te goed om waar te wees!

Cecilia ·

Oulik. Veiliger as motorfietse. Veral in Nelspruit. Maar o genade wat vd potholes. D klein fraaie dingetjie gaan verdwyn in vd potholes. LOL

Wielspore ·

Ek glo daar is ‘n toekoms vir hierdie goetertjies in ons stede en platteland maar teen R65000 is dit nie gemik op bekostigbareheid vir wat jy koop. Hierdie is ‘n basiese voertuig met min toerusting en min gerief en ek glo dit kan teen ‘n beter prys verkoop word.
Hierdie is nog old school tegnologie indien jy die brieke te hard trap gaan jy op die pad gly soos op sneeu in die Alpe. As jy te skerp draai teen spoed gaan jy omval soos ‘n Rus wat te veel Vodka gedrink het. Gerief gaan daar beslis nie wees, maak reg vir ‘n rit gelykstaande aan ‘n Ossewa.
Lekker ry!

E ·

Ek stem ek koop liewer enige tweedehandse VW as die ding. Want hy gaan vrek onveilig wees. In SA jaag mense deur stopstrate, robotte en alles. jou lewe gaan nie veilig wees in die motor (?) nie. Dalk vir baie kort afstande of in baie klein dorpies met min erge verkeer. Suid Afrikaners is maniakke op die pad.

Rob ·

Wag vir die eerste Malkop om ‘n 600 of 1000cc motorfiets enjin in daai outjie in te bou…

Ronel ·

Met vandag se onveilige paaie dink ek nie ek sal so ‘n klein karretjie koop nie. Eerste slaggat en dan het jy groot moeilikheid.

Danie ·

Nee wat hy sal nie lank in SA loop met n 216cc enjin nie. Die manne sal hom gou gou toerus met n 1300 hyabusa enjin dan gallop hy sommer lekker

andre ·

35km/l met n ligte persoon in seker .Die motortjie gaan volgelaai normale verkeer se spoed afbring en baie ongelukke veroorsaak.Sommige sal probeer om 8 mense in te laai . Goeie tweedehandse motors is n beter opsie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.