Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, maar luuksheid en krag loop gewoonlik hand aan hand in ʼn voertuig. Die luuksste motors is gewoonlik met ʼn lieflike, groot vuurvretende enjin toegerus. Ek kan egter aan een spesifieke voertuig uit my kinderjare dink wat ʼn pragtige voertuig was en soos ʼn pantserwa gebou was en tog nie ʼn allemintige V8-enjin gehad het nie – dit was Mercedes-Benz se W124 reeks 230E.
Jaguar het onlangs ʼn F-Pace by my afgelaai. Ek sien D200 agterop en dink by myself: “Sjoe, ʼn tweeliterdiesel, vir dié kat!?” Dit het my egter vinnig opgeval dat dié F-Pace steeds ʼn R-Dynamic HSE is. Elke moontlike luuksheid is in die kajuit ingeprop. Pragtige leer, panoramiese sondak, elektries verstelbare sitplekke wat kan warm of koud én masseer. Al die belangrikste inligting word op die voorruit geprojekteer en die nuwe geboë raakskerm is pragtig.
Die redelike hoë skouerlyn agter voel aanvanklik vreemd as jy agter sit. Die venster is baie hoog, maar ʼn mens raak dit vinnig gewoond en dan voel jy veilig, asof jy in ʼn kokonnetjie toegevou is. Aanvanklik lyk die kattebak effens klein, maar die oomblik wat jy besef daar rus ʼn volgrootte spaarwiel onder daai vloer, dan vergewe jy Jaguar dit.
Onder die kap sit ʼn doodgewone 2.0‑viersilinderturbodieselenjin as ʼn mens Jaguar se Ingenium-enjins gewoon kan noem. Hy bied 150 kW en 430 Nm. Die enjin stoot die krag aan al vier wiele deur ʼn 8-spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas. Van 0 tot 100 km/h vat net agt sekondes en hy kan 210 km/h voluit hol. Jaguar se beweerde brandstofverbruik van 5,2 ℓ/100 km om die gekombineerde siklus, is net so indrukwekkend hoewel ons 7,8 ℓ/100 km tydens ons toets gehandhaaf het.
Op die pad wys die F-Pace sy staal. Dit is ʼn redelike groot sportnutsvoertuig, maar agter die stuur voel dit meer soos ’n sportmotor as ʼn lomp sportnuts. Dan vat mens die langpad en besef waaroor die F-Pace gaan. Dit is ʼn über luukse langpadgenoot. Hy toer lieflik stil en hoewel sy vering nie sag is nie, is sy skokbrekers goed gekalibreer om die stampe en stote plat te stryk. Die effe stywer vering bied weer puik padhouvermoë.
Die Jag beskik oor ʼn baie sterk spesifikasievlak. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer – alles aan die passiewe kant. Tussen die aktiewe stelsels is daar blindekolwaarskuwing, baanbeheer, wegtrekhulp en botsingwaarskuwing met noodremhulp.
Ek het aanvanklik gesukkel om vatplek aan die Jag te kry. Dit is darem baie geld vir ʼn tweeliter. Toe val dit my by – ʼn enorme V8 is nie almal se smaak nie, veral met vandag se skrikwekkende brandstofpryse. Dié prysklas is nie vir almal beskore nie, maar indien jy in die mark is vir só tipe ryding gaan kyk gerus.
Die reeks lyk só:
Jaguar F-Pace D200 AWD S | 150 kW/430 Nm | 5,2 ℓ/100 km | R1 164 618 |
Jaguar F-Pace D200 AWD R-Dynamic SE | 150 kW/430 Nm | 5,2 ℓ/100 km | R1 234 618 |
Jaguar F-Pace P250 AWD S | 184 kW/365 Nm | 7,3 ℓ/100 km | R1 261 940 |
Jaguar F-Pace D300 AWD S | 221 kW/650 Nm | 6,9 ℓ/100 km | R1 282 344 |
Jaguar F-Pace D200 AWD R-Dynamic HSE | 150 kW/430 Nm | 5,2 ℓ/100 km | R1 321 418 |
Jaguar F-Pace P250 AWD R-Dynamic SE | 184 kW/365 Nm | 7,3 ℓ/100 km | R1 331 940 |
Jaguar F-Pace D300 AWD R-Dynamic SE | 221 kW/650 Nm | 6,9 ℓ/100 km | R1 352 144 |
Jaguar F-Pace P250 AWD R-Dynamic HSE | 184 kW/365 Nm | 7,3 ℓ/100 km | R1 418 740 |
Jaguar F-Pace D300 AWD R-Dynamic HSE | 221 kW/650 Nm | 6,9 ℓ/100 km | R1 436 644 |
Jaguar F-Pace P400e AWD S | 297 kW/640 Nm | 2,4 ℓ/100 km | R1 658 400 |
Jaguar F-Pace P400e AWD R-Dynamic SE | 297 kW/640 Nm | 2,4 ℓ/100 km | R1 722 900 |
Jaguar F-Pace P400e AWD R-Dynamic HSE | 297 kW/640 Nm | 2,4 ℓ/100 km | R1 795 400 |
Jaguar F-Pace SVR | 405 kW/700 Nm | 12,2 ℓ/100 km | R1 915 226 |
Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk só:
Volvo XC60 B5 AWD Inscription | 183 kW/350 Nm | 7,3 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R944 598 |
Porsche Macan | 185 kW/400 Nm | 8,8 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg 3 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan | R1 050 000 |
Mercedes-Benz GLC220d Coupé 4Matic AMG Line | 143 kW/400 Nm | 5,5 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan | R1 107 142 |
BMW X4 xDrive 20d M Sport | 140 kW/400 Nm | 5,6 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan | R1 137 176 |
Alfa Romeo Stelvio 2.0T Super Q4 | 206 kW/400 Nm | 7 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R1 188 900 |
Lexus RX350 F Sport | 221 kW/370 Nm | 9,6 ℓ/100 km | 7 jaar/105 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R1 284 500 |
Hier is ʼn klomp mededingers. Die F-Pace is meer soos ʼn koepee gestileer, soos die X4 en GLC Coupé, en hy pas tussen ʼn C- en D-segment‑sportnuts – so die Porsche Macan is effens kleiner as die F-Pace, maar bied dieselfde vyf sitplekke en ʼn beter kattebak. Tussen dié mededingers is dit waarskynlik die Porsche Macan of Lexus RX vir my – maar die Jag is ʼn pragtige voertuig; gaan toetsbestuur hom gerus.
‘n Klomp wringkrag laag in die toere af is baie lekker in ‘n luukse motor. Dit beteken jy hoef minder werk te doen om aan die gang te kom en dit laat jou ontspan. My kar het omtrent dieselfde wringkrag as hierdie kar en dis so lekker om net voet neer te sit as jy iemand wil verbysteek sonder om bekommerd te wees oor of jy vinning genoeg kan spoed optel. Ek het gewoonlik nie eens nodig om uit 5de terug 4de toe te gaan nie. Dis vir my ook deel van “luuks”.
Wed jou daar is ‘n minister wat so kyk en lees, en jammer voel hy of sy se R700000 val soe bietjie kort! Maar die Jag is LEKKER!