Kry die beste werkverrigting (en bly veilig) op die pad

Killian Dell

Die vraag is al baie gevra. Hoekom versnel sommige hoëprestasiemotors tot by 100 km/h vinniger as wat jy kan sê “roekelose bestuur- oortreding”, en het ʼn topspoed vinniger as SpaceX se vuurpyle met hanteringsvermoë gelykstaande aan resiesmotors, as dit onveilig en onwettig is om ten volle daarvan gebruik te maak op openbare paaie?

Killian Dell, Jaguar-hoofinstrukteur by die Jaguar Land Rover Experience, werp ʼn bietjie lig op die onderwerp.

ʼn Mens kan nie ontken dat sommige motors, veral in die moderne hoëprestasie-era, tot ongelooflike en soms omstrede dinge in staat is nie. Dit laat die vraag ontstaan: Hoe kan bestuurders uiting gee aan hul innerlike Max Verstappen sonder om onnodig aandag te trek by die owerhede? En natuurlik, sonder om hulself of ander padgebruikers in gevaar te stel.

Oor die algemeen word dié voertuie bemark as ʼn geleentheidswerktuig op die renbaan en die bemarking sluit gewoonlik beeldmateriaal in waar die hoeke gesny word en die motor sydelings sleep met ervare kenners agter die stuur.

Maar kom ons wees eerlik: meeste van dié renmotors sal selde indien ooit ʼn werklike renbaan besoek en die kliënte wat dit koop het waarskynlik nie luukse valhelms of veiligheidstoerusting nie en ook nie die bestuursvaardighede om die prestasievermoë te benut wat dié motors bied nie.

Daar is egter maniere om (veilig) voordeel te trek uit die tallose ure wat ingenieurs bestee het aan die suspensie-verstellings, ratkas-instellings, remvermoë en kraguitsette.

Die volgende keer wanneer jy aanboord-beeldmateriaal sien van Max wat om ʼn wêreldbekende renbaan jaag, kyk hoe ontspanne is hy. Hy kan elke greintjie van sy motor se vermoë optimaal benut deur middel van noukeurige tydsberekening wanneer hy voor ʼn draai rem, wanneer hy in die draai in leun en weer ná die draai versnel.

Pas nou ook dié konsep toe wanneer jy op die pad bestuur. Ons het almal daai stukkie teerpad waaroor jy dol is – of dit nou ʼn bergpas is met honderde draaitjies of ʼn eenvoudige rits draaie op jou daaglikse pendelroete. Spoed gaan oor presisie, nie hoeveel rook uit jou bande borrel of hoe aggressief jy oor die stuurwiel kyk nie.

ʼn Mens kan groot bevrediging kry deur drie perfek-berekende ratkas-verwisselings tesame met die presiese rempunt voor ʼn draai. Draai die stuurwiel gemaklik in die draai, fokus op ʼn gladde oorgang van rem na versneller en versnel al hoe vinniger soos wat die draai weer ʼn gelyke pad word.

Jou ratkeuse is baie belangrik – veral in moderne motors met agt of soms selfs meer keuses wat jy kan maak. Wanneer ek opleiding gee, sien ek gereeld hoe bestuurders te veel keer na ʼn laer rat oorskakel wanneer hulle ʼn draai nader, gevolg deur ʼn skielike toename en skerp versnelling wat tot ʼn ongebalanseerde voertuig lei. Dit is dalk teenintuïtief, en dit klink dalk nie so dramaties op die uitlaatpyp nie, maar in ʼn motor met hoë wringkrag kan dit vinniger wees om ʼn hoër rat met laer revolusies te kies wanneer jy vanuit ʼn skerp of haarnaalddraai versnel.

As bestuurders sukkel om die regte rat te kies, kan dit tot jou voordeel strek om die motor in outomatiese “Sport”-modus te hou en die ratkas toe te laat om vir jou te dink. Baie toetsure word bestee om die ratkas op ʼn spesifieke manier te stel en mettertyd sal die bestuurder leer watter rat die beste vir enige omstandigheid is deur te voel en te luister na wanneer die motor self van rat verwissel.

Prestasiemotors reageer beter op noukeurige insette en hulle beloon ʼn nie-aggressiewe bestuurstyl. Dit is hoe hulle ontwerp is, en dis moontlik om voordeel te trek uit die meganiese stukkies wat fyn ingestel is terwyl jy by die padreëls hou.

Dit gaan alles oor tydsberekening. Dink daaraan soos ʼn professionele gholfspeler. Voor hulle die bal afslaan, oefen hulle eers ʼn paar ligte swaaie. Hulle is doelbewus op die tydsberekening gefokus – die terugswaai, die oorgang en die afswaai – voor hulle by die bof gaan staan en dit hopelik veilig oor die skoonveld stuur. Dit lyk alles moeiteloos, maar die krag en akkuraatheid deur tydsberekening, ritme en gladde oorgang, werp vrug af.

Deur jou tydsberekening, ritme en gladde oorgang op die pad te oefen, sal jy ook die vrugte pluk op die seldsame geleenthede wanneer jy tog ʼn renbaan kan besoek. En selfs al beplan jy nie om dit ooit te doen nie, is dit goeie bestuursgewoontes om aan te leer. En die beste deel is dat jy nie eers ʼn hoëprestasievoertuig nodig het om dit te oefen nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.