KTM se 1290 Super Adventure S

Dit is dalk net my verbeelding, maar as ek kyk na die bekendstelling van die splinternuwe KTM Super Adventure wil dit vir my voorkom of KTM sy visier nou op die Ducati Multistrada het. Die bekendstellingsvideo begin met die nuwe fiets wat sy staal toon op ’n baan, eerder as êrens in die boendoes.

KTM se openingsverklaring is dat hierdie fiets ’n uitnemende hoëverrigting-avontuurfiets is. Die oorspronklike 1190 Adventure het sy verskyning gemaak in 2013 en is later opgevolg deur die 1290 Super Adventure. Die nuwe fiets beoog om die nuwe maatstaf te word in hierdie uiters mededingende marksegment.

KTM het die raam herontwerp met ’n sterker agterkant wat ook die saalhoogte laer maak. Die saal is opgedeel in twee afsonderlike dele vir ryer en passasier. Dit het tot gevolg dat die nuwe Super Adventure 11 mm laer is as sy voorganger. Dit behoort die fiets meer toeganklik te maak vir ’n wyer spektrum van ryers.

Die vering op die nuwe 1290 is van WP en dit is semi-aktief. Dit beteken dat die vering by die padoppervlak aanpas namate die fiets beweeg. Dit is ten volle verstelbaar vanaf die nuwe 7”-TFT-skerm en knoppies op die handvatsel, selfs terwyl die fiets beweeg.

Nog ’n funksie wat ’n nuutjie is vir KTM is aanpasbare spoedbeheer. Dit laat die ryer toe om op lang afstande die spoedbeheer op ’n sekere volgafstand te stel. Dié stelsel deaktiveer ook nie as jy ratte verwissel, soos konvensionele spoedbeheer, nie.

KTM het al die skakelaars op die handvatsels herontwerp om die ry-ervaring meer intuïtief te maak. Die meeste van die verstellings op die fiets word beheer deur middel van die TFT-skerm. Al die elektroniese hulpmiddels soos tolbeheer en sluitwering is verder verfyn en bied ook ’n Rally-funksie vir ervare ryers.

Die enjin is verfyn om aan Euro5-standaarde te voldoen en lewer 160 pk en 138 Nm wringkrag. Die verkoelingstelsel is ook aangepas om die enjin én die ryer koel te hou. Die verkoelers is nou so geplaas dat die ryer minder hitte op hom sal voel wanneer hy ry.

Op die oog af is die 1290 onmiskenbaar ’n KTM-avontuurfiets, selfs al het hulle die bakpanele en grafika op die fiets verander.

Die KTM 1290 Super Adventure S is steeds ’n volbloed-KTM en met al die nuwe byvoegings behoort dit ’n formidabele fiets te wees. Daar is ’n rits nuwe fietse op pad Suid-Afrika toe, en ek is baie nuuskierig oor hierdie een!

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerkind ·

Gaan ry hom Brian – jy sal aangenaam verras wees. Ek het die 2019 Super Duke R padfiets (180pk) en dit is lekker fietse! Die nuwe V4 Multistrada gaan egter steeds in ‘n ander klas wees!

Brian ·

Ek het al beide die Super Adventure S en R gery. ‘n Groot gedeelte daarvan was in Lesotho ook nog. Hy is ongelooflik op grond. Ek dink net met al die elektroniese hulpmiddels op die nuwe een, vergelyk hy goed met die Multi. My frustrasie is dat ons al hierdie wonderlike persverklarings kry, maar die fietse is nog nie hier nie!

Boerkind ·

Laat weet as jy weer hier deur die Boland (Wes Kaap) kom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.