KTM se 890 Duke bekend gestel   

Die KTM 890 Duke. Foto: Verskaf

Die KTM 790 Duke het as “Die Skalpel” bekend gestaan. Nou hoe maak jy ’n skalpel nog skerper? Dit was wat die ingenieurs by KTM moes antwoord toe hulle met ’n verbeterde weergawe van die 790 Duke vorendag moes kom.

Hulle het die slypsteen nader getrek en die splinternuwe 890 Duke is Dinsdag aan die wêreld gewys. Hoewel die 890 Duke R reeds beskikbaar is, is hierdie 890 die meer bekostigbare alternatief. Die Suid-Afrikaner Riaan Neveling is nou die bemarkingsbestuurder van KTM se padfietse en hy het ’n virtuele aanbieding gelei.

Die KTM 890 Duke. Foto: Verskaf

So wat is nuut? Eerstens, die enjin. Die kapasiteit is vergroot van 799 cc na 889 cc wat 10 perdekrag en 5 Nm meer wringkrag bied. Die rooi lyn is ook verhoog na 10 500 rpm. Tog weeg die nuwe enjin net 500 g meer as die 790 se kragbron. Die koppelaar is ook ligter gemaak en al hierdie besparings bring die gewig van die nuwe 890 op 169 kg te staan. Dit is baie lig vir hierdie kapasiteit fiets.

Natuurlik het KTM ook die elektronika bygewerk met ’n nuwe program vir sluitwering. Hulle noem dit Supermoto ABS. Dit stel entoesiastiese ryers in staat om die agterwiel te laat sluit en die fiets in die draai in te gly.

Die KTM 890 Duke. Foto: Verskaf

Neveling het die funksie gedemonstreer, maar ek sal hulle woord moet vat daarvoor. Daar is nou heelwat sensors op die fiets wat leunhoeke monitor en jy kan die remme maar trek in ’n draai – die sluitwering sal jou bystaan. Snelskakeling is ook beskikbaar.

Met die verhoogde verrigting moes KTM noodwendig ook die vering bywerk. Vering word verskaf deur nuwe WP APEX-vurke voor en ’n ten volle verstelbare skokbreker agter. Die remme is ook toegerus met nuut ontwikkelde remskoene. Daar is selfs nuwe bande op die 890 – hy beskik nou oor Continental ContiRoad-bande.

Die 4,3” TFT-skerm is amper al wat oorgedra is van die 790 en kan natuurlik met jou slimfoon koppel. Ek sien baie uit daarna om hierdie fiets hier op plaaslike bodem te sien en te ry. Ek sal maar net geduldig moet wees.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.