KTM se buksie word groot

(Foto: Brian Cheyne)

Die mark vir fietse kleiner as 500 cc is amper uitsluitlik die mark vir afleweringsfietse en kinders wat geduldig moet wag om 18 te word sodat hulle dan hul 1000 cc-fiets kan aanskaf. Maar, glo my, hier tussen 300 cc en 500 cc is daar heelwat skitterende fietse wat jou van oor tot oor sal laat grynslag sonder om die bank te breek. Een so fiets is die KTM 390 Duke wat ’n vars nuwe baadjie gekry het vir 2024.

Dit is geen geheim dat ek kleiner fietse baie geniet nie. Groot superfietse kan intimiderend wees en die gemiddelde ryer kan nie naasteby die fiets tot sy vermoë ry nie. Ek wens ook dat ons lisensievereistes nog ’n vlak ná 125 cc ingesluit het, net om meer ervare ryers te kweek.

Die 2024 KTM 390 Duke is nie net ’n kosmetiese opgradering nie. Daar is heelwat verander aan die fiets en die klein Duke voel asof hy nou sy kinderskoene ontgroei het. Die fiets het nou skerper lyne, en die hooflig is in lyn met KTM se nuwe ontwerpsfilosofie. Ek is nie gaande oor KTM se nuwe voorlig op die 990 en 1390 Dukes nie. Ek hoor egter dat die foto’s bedrieglik is, so ek sal maar my oordeel reserveer vir wanneer ek die nuwe fietse in lewende lywe sien. Die 390 se hooflig is darem nie so radikaal nie. Die 390 se voorlig sluit dagryliggies in en tesame met die herontwerpte kantpanele lyk hy nou baie meer soos sy groter stalmaats.

Die 15 liter brandstoftenk is amper een en ’n half liter groter as die vorige model en sal help om ʼn beter reikafstad te kry. Die skokbreker is nou meer prominent sigbaar aan die kant van die fiets, en die kort uitlaatpyp laat die fiets heel windmakerig lyk. KTM het ook ontslae geraak van 4 kg se gewig teenoor sy voorganger.

Die vorige 390 se enjin was 373 cc, maar is nou effe vergroot na 398 cc. Dit is steeds ʼn enkelsilinder en lewer 45 pk. Die kraglewering is ook nou baie beter op laer toere. Om die beste uit hierdie eenheid te kry, is die 390 toegerus met snelskakeling. Die klein Duke is toegerus met hoë verrigting WP-vering en is ten volle verstelbaar voor en agter. Dit maak die klein KTM opwindend om te ry.

Dit is egter die onsigbare veranderinge wat hierdie fiets laat uitstyg bo die kompetisie, naamlik die elektronika. Die nuwe 390 het ’n pragtige TFT-skerm, en hier kan jy regtig die fiets opstel soos jy van hom hou. Die fiets het selfs ’n baan-modus met lanseerbeheer. Draai die krane vol oop en los die koppelaar en jy is blitsvinnig uit die blokke. Tolbeheer en sluitwering is natuurlik ook deel van die nuwe pakket. Een vreemde ding is dat die fiets toegerus is met iets wat ek aangeneem het spoedbeheer is. Ek sou dink jy stel die spoed en los dan die versneller dan sal die fiets die gekose spoed hou. Helaas is hierdie letterlik ’n spoedbeperker. Jy sit jou spoed in en dan sal die fiets nie bo die gekose spoed gaan nie. Dit is dalk goed in Europa met hulle streng spoedbeperkings, maar hier maak dit nie veel sin nie.

Na my beskeie opinie is hierdie seker die beste fiets wat jy kan koop in die sub-400 cc klas. Teen R110 000 kos hy ’n klein bietjie meer as die fiets wat hy vervang maar hy is net soveel beter! Hou dus maar jou groot avontuurfiets vir naweekritte en kry vir jou ’n KTM 390 Duke om mee werk toe te ry. Almal sal jaloers wees as jy elke dag in ’n goeie bui by die kantoor instap!

Besoek KTM se webwerf vir meer inligting.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.