Die mark vir groot kapasiteit bromponies, oftewel maxi scooters, is baie klein hier in Suid-Afrika. BMW het die C 650 GT, SYM het die 600 MaxSYM, en Suzuki het die Burgman.
Nou het Kymco ook hul naam in die hoed gegooi met die AK 550. Kymco bemark egter hierdie fiets as ’n toerfiets, eerder as ’n pendelfiets.
Na die Kymco S400i wat ek onlangs gery het, het ek gevoel asof ek uit ekonomiese klas opgeskuif is na besigheidsklas. Daar is net soveel meer beenspasie op die AK 550 en die sitplek bied baie meer beweegruimte en ondersteuning.
Kymco se ontwerpspan moet ook ’n pluimpie kry vir hul elegante ontwerp. Die hoeke en kurwes maak van die AK 550 ’n baie aantreklike fiets. Die flikkerligte is mooi in die ontwerp ingewerk. Die windskerm is verstelbaar, maar na die verspot maklik verstelling op die S400i was my verbasing groot om te sien jy het gereedskap nodig om die AK se skerm te verstel. En nie net ’n skroewedraaier nie. Nee, jy het twee groottes moersleutels en ’n seskant-sleutel nodig!
Voor jou is die gebruiklike twee paneelkissies. Die deksels het tingerig gevoel vir ’n fiets wat hom uitgee as ’n prima produk. Hulle is ook vlak, so ons hedendaagse groot selfone sukkel maar om te pas. Onder die sitplek is dinge ook nie veel beter nie. Alhoewel hierdie ’n groot motorfiets is, het die pakplek onder die sitplek net plek vir een volgrootte valhelm en ’n halwe een. As jou agteroppie ’n volgrootte valhelm het, gaan jy maar daardie een ronddra. Die sitplek self, soos ek gesê het, bied ruim plek vir jou en ’n passasier.
Die AK 550 loop op 15”‑bande en met die lang as-afstand is dit duidelik dat hierdie fiets gemik is op die lang pad. Die omgekeerde voorvurke beteken dat jy nie hoef te skrik vir ’n bergpas of twee nie. Daar is 270 mm‑skywe voor wat Brembo–knypers het. Die remme werk uitstekend en is toegerus met sluitwering.
Daar skuil ’n 550 cc‑enjin onder die bakpanele wat 52 pk. teen 7 500 r.p.m. lewer. Daar is selfs twee ry-programme om die enjin in toom te hou as toestande nie na wense is nie. Sou dit koeler word, het die Kymco ook verhitte handvatsels.
Op die pad is die AK 550 se karakter totaal anders as dié van die S400i. Waar die S400i amper bokspring met die wegtrek, is die AK 550 heelwat statiger. Die kraglewering is liniêr, en dit voel amper nie eers opwindend nie. Moet egter nie dink hierdie fiets is stadig nie. Die verrigting van die AK is heel lewendig.
Die instrumentasie is ook heelwat omvattender. Alles is digitaal en soos met die S400i is die koppeling met jou foon deel van die pakket. Kymco se koppelvlak met jou foon is baie maklik en intuïtief. Satellietnavigasie is ingesluit in die prys en hier is waar die Kymco, in my opinie, die ander vervaardigers troef. Daar is nie ’n peperduur opsielys nie. Die fiets kom standaard met, onder andere, banddruk‑sensors en verhitte grepe.
Die AK 550 is ’n prima produk, gemik op die kieskeurige ryer, en ek sal sonder huiwering ’n lang rit met die AK 550 aanpak. Noudat Kymco deur die Yamaha-groep versprei word, kan jy ook baie meer gerus voel oor landswye ondersteuning.
Die feite
Enjin | 550 cc parallel twee |
Gewig (droog) | 226 kg |
Kraglewering | 39.3 kW @ 7 500 r.p.m. |
Wringkrag | 55.6 Nm @ 5 500 r.p.m. |
Tenkkapasiteit | 15 ℓ |
Saalhoogte | 785 mm |
Prys | R154 950 |
n Scooterkie is baie prakties. Solank hy klein is en goedkoop. Sal liewers n tweede handse Honda NCX 750 koop vir daai tipe geld. Of liewers n klomp 125 scooters. Tweedehanse Japanese fietse is beter opsie as n nuwe fong kong.
Kan ‘n klein karretjie koop vir daai tipe geld. En jy reen nie nat nie.
Maar jy sit wel vas in spitsverkeer, en jou petrolrekening is meer.