Lambretta binnekort in SA beskikbaar

(Foto: Brian Cheyne)

Die storie van die Vespa- en Lambretta-motorfietse is ongelooflik interessant. Die ontwerper van die Vespa het niks van motorfietse gehou nie. Na die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n groot aanvraag na goedkoop vervoer en fabrieke wat items vir die oorlog gebou het, moes ander maniere kry om aan die lewe te bly. ’n Sekere Ferdinando Innocenti het ’n onderneming gehad wat staalpype vervaardig het, en dit is hy wat vir generaal Corradino D’Ascanio genader het om ’n goedkoop motorfiets te ontwerp.

(Foto: Brian Cheyne)

D’Ascanio was ’n ingenieur in lugvaartkunde, en hy het niks van motorfietse gehou nie. Hy het gesê dat motorfietse jou klere vuil maak en daarom het hy ’n motorfiets ontwerp wat bakpanele gehad het om modder van die ryer af te hou. Hy het verder gegaan en die vuil enjin en ketting vervang met ’n enjin met direkte aandrywing op die agterwiel. Selfs die enjin was agter bakpanele weggesteek en alles kon aan die bakwerk vasgeskroef word. Dit het ’n tradisionele pypraam oorbodig gemaak. Die feit dat jy ook nie jou been bo-oor die fiets moes gooi om op te klim nie, het hierdie ontwerp ook baie aantreklik gemaak vir vroue.

(Foto: Brian Cheyne)

Innocenti wou egter steeds sy staalpyp-onderneming aan die gang hou en het aangedring dat die motorfiets ’n pypraam moes hê, maar D’Ascanio wou nie bes gee nie. Hy het toe met sy ontwerp onder die arm oorgestap na Enrico Piaggio, en saam het hulle die Vespa-motorfiets die lig laat sien.

Met D’Ascanio uit die prentjie, het Innocenti twee nuwe ontwerpers aangestel om sy visie ’n werklikheid te maak. Hulle het D’Ascanio se basiese ontwerp geneem en die eerste Lambretta-motorfiets het in 1947 uit die fabriek gery. Die naam Lambretta was die naam van ’n mitiese waterfee wat glo in die rivier Lambro gewoon het. Hierdie rivier het langs die fabriek verby geloop waar die eerste Lambrettas vervaardig is.

(Foto: Brian Cheyne)

Ongelukkig het Lambretta nie die langdurige sukses van Vespa gehad nie, en heelparty motorfietse het die naam Lambretta gedra, maar was allesbehalwe deel van die oorspronklike bloedlyn. In 2017 is die naam weer onder die Innocenti SA groep ingebring en Lambrettas is nou weer oral oor die wêreld beskikbaar, en binnekort ook weer in Suid-Afrika.

Ek het onlangs met Corrie Moolman, die man wat Lambretta gaan invoer, gesels en ek kon ’n naweek deurbring op een van die modelle wat na Suid-Afrika toe kom: die Lambretta V200.

(Foto: Brian Cheyne)

Dit is maklik om Vespa en Lambretta met mekaar te verwar, maar waar die Vespa baie kurwes het met ’n ronde voorlig, is die Lambretta meer hoekig met reguit lyne en ’n reghoekige voorlig. Die V200 dra ook baie van die oorspronklike ontwerpelemente van die vroeëre Lambrettas. So byvoorbeeld is die voorste modderskerm vas aan die fiets, en nie op die voorwiel gemonteer nie. Bokant dit pryk ’n klein inlaat identies aan die eerste Lambrettas. Die fiets wat ek gery het, was afgewerk in die helderste oranje, en staan bekend as Sicilian orange. Die swart aksente laat die fiets stylvol vertoon. Die algehele afwerking is puik, en selfs die brandstoftenk se prop is ’n stukkie kuns.

Die enjin is ’n 169 cc-eenheid en word verskaf deur die Taiwannese maatskappy SYM. Die CVT-ratkas beteken dat die V200 uiters maklik is om te ry. Jy draai net die versneller en jy is weg. Die V200 versnel ywerig tot op 80 km/h, wat meer as genoeg is om jou voor die verkeer te kry. Die hantering is rats en ideaal vir stadsverkeer. Die topspoed is in die omgewing van 100 km/h, so hierdie fiets is eerder tuis in die middestad as op ’n snelweg.

Die instrumentepaneel is die eenvoud vanself. Daar is nog ’n tradisionele analoogspoedmeter met ’n klein vloeikristaleenheid daaronder om die ander inligting soos brandstofvlak en toere te wys. Daar is die tradisionele pakplek onder die saal vir ’n valhelm of brood en melk. Voor die ryer se knieë is daar nog ’n klein sluitbare houer met ’n USB-sok.

Die Lambretta-motorfietse sal binnekort in Suid-Afrika beskikbaar wees en behoort goedkoper te wees as hulle Vespa eweknie, maar met net soveel Italiaanse flair. Hierdie klas fietse is nie gewild onder Suid-Afrikaners nie, maar die groep geesdriftiges wat hulle wel ry, verstaan waaroor dit gaan. Die blote noem van die naam Lambretta het een van my vriende laat glimlag en staaltjies vertel oor hoe hulle met hul oom se Lambretta op die plaas gery het. Hierdie fietse het hope karakter, en jy moet eenvoudig een gaan toetsbestuur.

Die eerste besending Lambrettas is al op pad en sal plaaslik deur Clint’s Scoots versprei word. Hulle werk tans hard aan ’n toegewyde webwerf, maar meer inligting kan op Clint se Facebook-blad gekry word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.