Land Rover se Defender herrys uit die dood  

Die nuwe Land Rover Defender. Foto: Verskaf

Menings verskil oor voertuie. Party mense is ’Cruiser-liefhebbers, ander verkies Jeep – maar daar is ʼn groot aantal mense wie se harte vinniger klop vir ʼn Landy. Dit is in hul bloed. Kingsley Holgate het al miljoene kilometers in verskeie Land Rovers afgelê met sy humanitêre pogings reg om die wêreld.

Ek self hou baie van die ikoniese Defender se ontwerp. Die 90 lyk vir my fantasties – en ek weet hy het fantastiese veldryvermoë. Toe die laaste Defender so ʼn paar jaar terug van die produksielyn afgerol het, was ek hartseer. Ek het gevoel dit is moderne regulasies wat intree en ʼn ou staatmaker tot nuut bring. Gelukkig het Land Rover ander planne gehad.

Die nuwe Land Rover Defender. Foto: Verskaf

Land Rover het albei die 90- en 110-bakstyle herontwerp. Die nuwe modelle dra steeds die ou name wat wys dat die een se asafstand 90 duim lank is, en die ander 110 duim. Slegs die 110 is nou in Suid-Afrika beskikbaar, en die 90 sal vroeg in 2021 sy buiging maak.

Daar is nou drie enjins beskikbaar. ʼn P400 sessilinder petrolweergawe met hibridiese tegnologieë wat 294 kW en 550 Nm bied. Dan kan eienaars kies tussen twee viersilinder weergawes, ʼn turbo petrol met 221 kW en 400 Nm, sy naam is die P300 … óf ʼn D240 tweeling turbo diesel met 177 kW en 430 Nm. Land Rover maak gebruik van ʼn 8-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas.

Die nuwe Land Rover Defender. Foto: Verskaf

Daar is vier spesifikasievlakke beskikbaar – en dan vier opsionele pakkette. Daar is die intree Defender, dan S, SE en HSE. Die vier pakkette is die Explorer Pack, Adventure Pack, Country Pack en Urban Pack. Die verskeie pakkette verpersoonlik jou Landy soos jy hom wil hê.

Aan die 4×4-kant spog die nuwe Defender met permanente allewielaandrywing met ʼn sluitbare middelewenaar, en ʼn opsionele aktiewe sluitbare agterewenaar. 291 mm grondvryhoogte te danke aan die lugvering bied 500 mm vering artikulasie, indrukwekkend. Die Defender kan deur 900 mm diep water loop sonder ʼn probleem.

Ek self kan nie wag om my hande op ʼn nuwe Defender te kry nie. Tot dán – gaan bou jou eie Defender hier.

Die reeks lyk só:

Land Rover Defender 110 D240R1 050 100
Land Rover Defender 110 D240 SR1 096 100
Land Rover Defender 110 D240 SER1 155 600
Land Rover Defender 110 D240 HSER1 259 800
Land Rover Defender 110 D240 First EditionR1 260 600
Land Rover Defender 110 P300R1 050 100
Land Rover Defender 110 P300 SR1 096 100
Land Rover Defender 110 P300 SER1 155 600
Land Rover Defender 110 P300 HSER1 259 800
Land Rover Defender 110 P400R1 187 000
Land Rover Defender 110 P400 SR1 224 200
Land Rover Defender 110 P400 SER1 286 700
Land Rover Defender 110 P400 HSER1 387 900
Land Rover Defender 110 P400 First EditionR1 377 100
Land Rover Defender 110 P400 XR1 574 500

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplan. Diensintervalle is elke 2 jaar/ 34 000 km.

Ons sal nadat ons ʼn tydjie met die Defender deurgebring het hom met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Land Rover was n Land Rover in die army tye met draad en tang in die toolbox, toe daar luxeries bygevoeg word toe het hul die naam oneer aangedoen, met die hemel hoe prysklas sal ek eerder n hele paar oues oorspronklik kan restoreer vir n fraksie van die prys en die yuppies kan uitdaag vir n paar 4×4 roetes, wed jou die helfte van die eienaars weet nie eens hoe om sekere hulpmiddels te gebruik of die doel van dit nie!

Ou Baardbek ·

Scalla, jou kommentaar kan gerus wêreldwyd ten toon gestel word. Die feit is dat dit nie soseer die Landy is wat so danig “beter” is nie; dit is die tjelt wat in b…..ie verander het, en die hedendaagse “4 x 4 entoesiaste” se gemaksugtigheid. Jy is volkome reg; BAIE van die hedendaagse eienaars besit so ‘n vier-trek voertuig bloot as ‘n status simbool. Ekself bedryf nog DAAGLIKS ‘n Landy wat tans 46 jaar oud is. Hy is nog oorspronklik hoor? Die nuwes is bloot duur speelgoed, nie werksvoertuie nie.

Gato ·

Voertuig pryse raak net heeltemal belaglik. Dit is asof die vervaardigers in ‘n wereld van hulle eie leef en glad nie in voeling is met die werklikheid nie.
Dit is hoofsaaklik tenderpreneurs en politieke gomtorre wat sulke voertuie kan bekostig en die naaste wat hulle daaraan kom om 4×4 te ry is om onwettig op die sypaadjie te parkeer in Sandton as hulle ‘n partytjie bywoon. Daar waar die Johnny Walker Blue so lekker vloei.
Watter regdenkende mens sal R1m + betaal vir ‘n voertuig en dan in die veld gaan ry daarmee.
Ek sal maar by my Hilux bly dankie, en dit is nou nie suur druiwe of jaloesie nie net gewone gesonde verstand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.