Die eerste Land Rover Discovery is in 1989 bekendgestel met slegs twee deure, vier sitplekke en die opsie van twee enjins – ʼn viersilinderturbodiesel óf ʼn V8. Vir daai tyd was dit waarskynlik ʼn luukse gesinsmotor.
Die vooraansig van die nuwe Land Rover Discovery is vir my bitter mooi. Die paneelgapings is piepklein en die ontwerp drup van eksklusiwiteit en luuksheid. Die ontwerp word nóg mooier afgerond deur die nuwe LED-hoofligte. Ek is wel steeds nie oortuig deur die ontwerp van die agterkant nie, maar ons kan aanvaar dat dit nie só maklik is om net ʼn voertuig se ontwerp heeltemal te verander nie.
Die eerste Discovery se binneruim was werklik knap, maar dié vyfde generasie is enorm om nie eens te praat van al die luukshede nie. Pragtige leer, ʼn nuwe rathefboompie, ʼn HUD-skerm, sitplekke wat jou masseer en verhit óf verkoel is, asook ʼn asemrowende klankstelsel is net ʼn paar dingetjies wat vinnig by my opduik. O ja, en daar is ʼn pragtige nuwe geboë raakskerm met ʼn fantastiese resolusie.
Die sewe sitplekke is in drie rye gerangskik. Twee voor, drie in die middel en twee agter. Al sewe sitplekke word elektronies verstel en die middel en agterste rye vou outomaties oop en toe met die druk van ʼn knoppie. As mens die kattebak oopsluit, skuif ʼn lekker sitvlak uit waarop mens kan sit. Die sleepstang vou elektries uit en as die Landy nie op die regte hoogte is nie, kan mens die vering laat sak met ʼn knoppie, en weer lig as die sleepwa se haak in die regte plek is vir hom om te skep. Oulik. Dié wa kan ʼn allemintige 3,5 ton sleep.
Onder die kap skuil Land Rover se fantastiese 3.0-sessilinderturbodieselenjin. Die enjin bied 221 kW en 650 Nm. Die krag word aan al vier wiele gestoot deur ʼn 8-spoed- outomatiese ratkas met laestrek. Die dryfstelsel bied ʼn middel- en agterste ewenaarslot. Wat mens verbaas, is die veelsydigheid van die Disco. Hy het indrukwekkende veldryvernuf, maar is heeltemal tuis in die dorp óf op die oop pad en snelweg. Die Disco sal 100 km/h haal in ʼn ratse 6,8 sekondes, en aanhou hol tot 209 km/h.
Die Disco bied elke denkbare veiligheidstelsel, naamlik passiewe stelsels soos ses lugsakke, sluitweerremme, vastrap- en stabiliteitsbeheer met elektroniese remkragverspreiding, en aan die aktiewe kant weer baanhulp, botsingwaarskuwing met noodremhulp, blindekol- en kruisverkeerwaarskuwing … en só hou die lys aan.
Dit is op die pad waar die samehorigheid van die Discovery mens uitboul. Die Landy is nou uiters luuks. Die enjin is ʼn juweel. Die ritgehalte is luuks, hy kan 4×4 én hy sleep soos ʼn baas! Afgesien van Land Rover se reputasie vir twyfelagtige betroubaarheid, en minder as fantastiese waardevermindering, kan ek aan geen ander rede dink hoekom mens nié ʼn Land Rover Discovery ten minste moet toetsbestuur nie.
Die reeks lyk só:
Land Rover Discovery D300 S | 221 kW/650 Nm | 7,8 ℓ/100 km | R1 546 380 |
Land Rover Discovery P360 S | 265 kW/500 Nm | 9,3 ℓ/100 km | R1 548 070 |
Land Rover Discovery D300 R-Dynamic SE | 221 kW/650 Nm | 7,8 ℓ/100 km | R1 664 680 |
Land Rover Discovery P360 R-Dynamic SE | 265 kW/500 Nm | 9,3 ℓ/100 km | R1 666 470 |
Land Rover Discovery D300 R-Dynamic HSE | 221 kW/650 Nm | 7,8 ℓ/100 km | R1 782 980 |
Land Rover Discovery P360 R-Dynamic HSE | 265 kW/500 Nm | 9,3 ℓ/100 km | R1 784 670 |
Die kompetisie lyk só:
Toyota Land Cruiser 300 3.3D ZX | 225 kW/700 Nm | 8,9 ℓ/ 100 km | 3,5 ton sleep | nege lugsakke | 3 jaar/100 000 km-waarborg en 9- dienste-diensplan | R1 797 100 |
BMW X7 xDrive30d M Sport | 195 kW/620 Nm | 7 ℓ/ 100 km | 3,5 ton sleep | sewe lugsakke | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan | R1 914 158 |
Volvo XC90 B6 AWD Inscription | 220 kW/420 Nm | 7,4 ℓ/ 100 km | 2,7 ton sleep | ses lugsakke | 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R1 338 900 |
Die Discovery het nie ʼn magdom mededingers nie. Die naaste is waarskynlik die Land Cruiser 300 omdat albei laestrek-4×4 het. Die BMW en Volvo het nie, maar het albei allewielaandrywing met sewe sitplekke en gelykstaande luukshede. Indien herverkoopwaarde en betroubaarheid hoog op jou lys is, dan is die Toyota die maklike keuse. Indien jy net ʼn voertuig binne waarborg en instandhoudingsplan ry, dan is die Land Rover pragtig. Die Volvo het ʼn pragtige ontwerp, maar begin nou oud word. Volvo se enjins is in werklikheid ook bitter swaar op brandstof.
Hy het ‘n “middelste en agterste ewenaar, seg die skrywer? Nooit, lmga! En wat van die vooras, het hy nie ‘n ewenaar nie???
Die skrywer het óf bedoel “middelste en agterste ewenaarSLOT”, (diff lock), óf die skrywer weet niks, en vertstaan niks, van 4×4 stelsels nie! En, die agterste ewenaarslot is fabrieks-opsie, so terloops…