Langtermyntoets: ʼn Hilux om oor te droom

Die nuwe Toyota Hilux (Foto: Toyota)

Ek is heel bevoorreg om as volwassene nog nooit swaar te gesleep het nie. Ek het al stories gehoor van mense wat iemand ʼn Gypsey 5 met ʼn Golf sien sleep het. Nou kyk, ek is mal oor kamp, in my woonwa. Ek is ook nie bang om te sleep nie. Ek is net te bly dat ek nog nooit in so ʼn knyp was dat ek my Sprite SuperSport met my Citroën C3 1.4 HDI hoef te gesleep het nie. Ek dink as ʼn mens regtig stadig ry sal die dieselenjin se wringkrag genoeg wees, maar sjoe – daardie arme koppelaar … en die feit dat die woonwa twee keer so groot is as die motor. Nee, dankie.

Gelukkig was dit nie ʼn probleem met ons kampvakansie afgelope Desember nie. Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 handrat kan 3,5 ton sleep. So min of meer drie van my woonwaens. Mooi man. My woonwa is maar oud, en sy haakhoogte is uitgedink in die tyd toe ons met Jettas en Corollas gesleep het, nie groot dubbelkajuit bakkies nie. ʼn ‘Drop plate’ gepas – en siedaar, die Sprite loop perfek gelyk agter die Hilux.

Die nuwe Toyota Hilux (Foto: Toyota)

Heeltemal te veel pakkerasies en hout agterop die bak gelaai, want daar’s plek en ons kan, verlaat ons die huis, rigting Mookgophong … of Naboomspruit soos baie van ons dit kan onthou. Iets wat vir my deesdae meer en meer uitstaan is dat ʼn handrat baie beter is as ʼn slegte outomatiese ratkas. Die Hilux se handrat se ratverhoudings is mooi eweredig gespasieer en die 130 kW en 420 Nm van die 2.8 maak kinderspeletjies van my woonwa.

Die Hilux sleep net reg op 120 km/h. Al weet ek dit is effe vinnig voel die Hilux vir my gemaklikste op daardie spoed. Die N1 Noord se teer is netjies en die reusenoodbaan maak dit ʼn maklike snelweg om op te sleep, net nie oor Paasnaweek nie. Mookgophong voel vir my lekker naby in die Hilux. Iets wat vir my uitstaan met die Hilux is hoe stabiel die hele sleepsel voel, al is dit teen 120 km/h. Ja, daar het nie wind gewaai nie, en ek het my Yellowblade-stabiliseerder op gehad.

Brandstofverbruik is so by 12 ℓ/100 km met die swaar vrag en spoed. Dit is effe ligter as die Amarok V6 waarmee ons Juliemaand gesleep het. Die Amarok is tog outomaties met permanente allewielaandrywing, so dit maak heeltemal sin. Die Hilux het homself weer sonder twyfel sy taak baasgeraak. Ons het veilig aangekom by die oord by Naboomspruit.

Die nuwe Toyota Hilux (Foto: Toyota)

Op die vierde dag moes ons weer ʼn draai gaan maak in die dorp, en die buurman vertel vir my van ʼn lekker kortpad dorp toe op die grondpad net langs die oord.

Met bande wat heeltemal te hard is vir grondpad, maar reg is vir karavaan sleep het ons ʼn paar keer die grondpad aangedurf. Die Hilux loop mooi, maar as daar sinkplaat kom wil die harde bande nie mooi saamwerk nie. Ek het die bande afgeblaas na 1,8 bar en toe loop die Hilux asof dit ʼn teerpad is, sonder enige probleme. Ek het egter elke keer die bakkie in 4×4 gesit as ons grondpad ry.

Die bakkie het ʼn paar keer as wildbesigtigingswa ook gedien met die hele “straat” se kinders agter op. Dit is wat my laat smag na ʼn dubbelkajuitbakkie. Só ʼn bakkie kan alles doen, net wanneer jy dit wil hê. Ons is van ons huis, deur Lesotho, oor die Sani-pas, see toe, terug huis toe, kamp toe met woonwa, kinders en al. Die Hilux bly vir my bitter spesiaal vir die herinneringe wat dit vir my en my gesin gegee het.

Odometer begin1 246 km
Odometer nou4 366 km
Afstand afgelê3 120 km
Brandstof ingegooi248.6 ℓ
Brandstof kosteR4 047.30
Brandstof verbruik7.9 ℓ/100 km

Dankie Hilux, jy sal eendag myne wees.

Brendon Staniforth tydens sy reis met die nuwe Toyota Hilux (Foto: Brendon Staniforth)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Snuffels ·

As daar enige iemand dalk een vir my wil skenk, sal dit beslis waardeer word!

Johan78 ·

Die probleem met ‘n hilux is dit kan net ‘n droom word waneer jy wakker word en besef dis weg…

Grens ·

Ek kry my nuwe Hilux oor ‘n week. My ou 2013 met 260 000 km op ry nog elke dag foutloos. Hilux bly maar die beste. Sorry maar vir die wat so gal braak oor hulle, jy sal nie verstaan nie…..

johan II ·

Goed v jou grens…ekt maar iets gekry wat nog lekker ry ook.

Nick ·

Julle kan maar julle Hiluxe hou. ‘n Man wil tog trots wees oor hoe sy bakkie lyk ook. Die nuwe Hilux se neus lyk soos ‘n dik tannie s’n wat haar neus oral in almal se sake druk. Hoekom kon hy nie meer soos die Tpyota Tacoma gelyk het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.