‘La’t wiel’ haal goue mylpaal

Die La’t Wiel-span

Hannes Visser en Waldo van der Waal, die aanbieders van La’t wiel, sal voor die einde van vanjaar met 25 seisoene en 500 episodes van die gewilde Afrikaanse motorprogram spog.

Die span het dié mylpaal Donderdag by die Zwartkops-renbaan gevier, saam met mede-aanbieders Weza Matomane en André Vermeulen. Gaste kon kuier saam met die kampioen-wedrenjaer Michael van Rooyen en ʼn eerste kykie van die Toyota GR Yaris kry.

Sedert 2004 het verskeie gasaanbieders hulle by Hannes en Waldo vir La’t wiel-programme aangesluit. Van die bekende name is Frank Rautenbach, Henry Pretorius, Theunis Nel, Nico Panagio en deesdae is dit die einste Weza met sy spoggerige Afrikaans.

Ek vra vir Waldo om vir my ʼn paar hoogtepunte uit die jare se programme uit te wys. Waldo erken dadelik sy droomkar ná al die jare is steeds die Lamborghini se Urus, ʼn supersportmotor met al die funksionaliteit van ʼn sportnutsvoertuig.

Binnelanders akteur Gerald Steyn, Michael van Rooyen en Hannes Visser

Die mees asemrowende plek waar Waldo hom al bevind het, is in Ysland. Ek druk vir Waldo om vir my te sê waar hy hom nooit weer wil bevind nie, en sonder om ʼn oog te knip, spoeg hy: “Marokko!”

Hannes en Waldo het werklik al die wêreld oor gereis, en ek vra vir Waldo of daar een plek is waar hy oortuig was dat hulle moontlik kon doodgaan. Hy giggel en sê dan: “In Bolivië het ek op iemand se plaas beland, en toe begin die man sommer op my skiet!”

Hannes dink vir ʼn paar oomblikke na en gee sy twee plekke wat uitgestaan het tydens die vervaardiging van die program. “In Lapland het ek op die sneeu gery, en Nieu-Seeland se mooi Suid-eiland. Ek hoef ook nooit weer Bolivië toe te gaan nie,” skerts hy.

kykNET-verteenwoordigers Suzaan Keyter, Desiree Tan asook die La’t Wiel-span (Hannes Visser, Waldo de Waal, Weza Matomane) en Bravo-aanbieder Reynardt Slabbert

Die manne van La’t wiel is werklik veterane in die bedryf. ʼn Mens wonder of die La’t wiel-span ooit werklik tyd kry om behoorlik te slaap, want met soveel seisoene en vars episodes agter die rug, was daar nog nooit ʼn oomblik enigsins ʼn tekort aan nuwe idees vir wat om volgende met motors te doen nie.

Dié span sit byvoorbeeld met ʼn paar rekords – soos die vinnigste wat ʼn bankrower op die agtersitplek van ʼn hibridiese voertuig al gery het en die landspoedrekord met vier mense in ʼn kar. Dit was bó 300 km/h in ʼn Porsche Panamera Turbo op Upington se aanloopbaan, die vierde langste aanloopbaan ter wêreld teen 4,9 km. Alles fantastiese idees om motorliefhebbers op die punte van hul stoele te hou.

Op die volgende 500 episodes, knap gedaan, manne!

  • La’t wiel word Dinsdagaande om 17:30 op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai en die 500ste episode sal in Desember op die kassie wees. Vorige seisoene is op Showmax beskikbaar en die program is ook beskikbaar op Catch-up en die DStv-app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.