Lekker verjaar, ou grote

(Foto:  Cornel van Heerden)

Daar is wêreldwyd ʼn paar dinge wat uiters betroubaar is, onder andere die Duitse of Japannese spoorweë. In Japan, indien die trein meer as veertig sekondes laat is, kry jy ʼn brief om vir jou werkgewer te gee wat verduidelik hoekom jy laat is.

Ek wens alles in Suid-Afrika het só verloop. Verbeel jou dat mens ʼn afspraak kon maak om jou rybewys te hernu en presies op tyd opdaag, tot voor loop, alles afhandel en 10 minute later uitstap met ʼn nuwe rybewys of paspoort of ID‑dokument.

Daar is egter een ding waarop Suid-Afrikaners al vir dekades staatmaak, ten spyte van die tekortkominge wat party mense dink hy het. Dit is ʼn Cruiser!

(Foto: Cornel van Heerden)

Toyota het onlangs vir ons die geleentheid gegee om hul nuutste 70-reeks op die proef te stel. Nee wag, ons het hulle geensins op die proef gestel nie, eintlik maar net ʼn draaitjie gery en ʼn bietjie in die modder en gietende reën gespeel.

Die Toyota Land Cruiser 79 4.5 V8‑enkel- en dubbelkajuit het nou ʼn 70ste herdenkingsmodel bygekry.

Die Cruiser is 70 jaar oud. Hy het in 1951 die mark betree as die Toyota BJ, maar in 1954 sy naam verander na Land Cruiser met Land Rover in hul visier.

(Foto: Cornel van Heerden)

Een van die visuele veranderings op die 70ste herdenkingsmodel is die sierrooster met die TOYOTA‑naam, eerder as die embleem. Aan die binneruim is daar grys sitplekoortreksels met “70th Edition” daarop geborduur, Land Cruiser-vloermatjies en ʼn raakskerminligtingstelsel met navigasie, Bluetooth, Android Auto en Apple CarPlay.

Aan die buitekant is daar die sierrooster, erfenisembleem op die deure, 70th Anniversary-embleem, en staalbuffer agter met ʼn trekstang wat jy kan afhaal. Die laaibak is met rubber gespuit, ʼn staalvoorbuffer met voorbereiding om ʼn wenas te pas. Daar is slegs twee kleure beskikbaar in die 70ste herdenkingsmodel, dis wit en beige.

Ons het ʼn kort tydjie met die Cruiser deurgebring. Sy imposante teenwoordigheid op die pad is fantasties. Ja, sy draaisirkel is pateties, maar dis nie waaroor dit gaan nie. In ʼn see van moderne buksies is ʼn voertuig soos die 70 fantasties én nostalgies. Dit doen ook nie skade nie as mens die rathefboom presies skuif tussen ratte en die gebrul van die agt silinders laat ʼn glimlag oor jou gesig trek, net voor jy die koppelaar trap en die snorkel sy fluitgeluid maak, dan is dit die ene hoendervleis.

Dit is nie die gemaklikste voertuig op aarde nie, maar die lugreëling wat nog met klein hefboompies werk, is fantasties. ʼn Mens moet dit met die hand werk. Alles voel sterk, en taai. Gebou om ʼn ewigheid te hou. Ek hou daarvan. Ek en my rymaat sê: “Só ene, daktent, 270°‑afdak, aluminiumkappie, laaistelsel, yskas” – en skielik is daar nie grense aan die plekke wat jy kan besoek nie. Ek begeer só ʼn Cruiser!

Die reeks lyk só:

Toyota Land Cruiser 79 enkelkajuit 4.5 V8 70th EditionR898 600
Toyota Land Cruiser 79 dubbelkajuit 4.5 V8 70th EditionR952 500

Die reeks word gedek deur ʼn drie jaar/100 000 km-waarborg. Diensplanne is opsioneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wielspore ·

Gedurende 1983 het ek vir 6 maande tussen Pretoria en Venda gery met ‘n ouer weergawe van die Land Cruiser toegerus met ‘n reguit 6 silinder enjin, hy was nogal dieselfde kleur. Hy was baie swaar op petrol, tussen 5.5 tot 6 km op 1 liter petrol. Alhoewel hy sterk gebou was, was dit ‘n ongemaklike voertuig om mee te ry. Na my mening is dieselfde nog steeds van toepassing en is dit nie ‘n waarde vir geld voertuig, eerder ‘n status simbool.

Grens ·

Net soos hulle se, “jy kan na enige plek in Afrika gaan, maar as jy wil terug kom, moet jy ‘n Cruiser he”.

krodedil ·

Nee, as jy wil terugkom moet jy baie geld hê vir BAIE petrol of diesel

Grens ·

As jy 900k vir hom kan betaal pla die diesel rekening niks.

Michael ·

Stem saam want Toyota onderdele is nogal vrylik beskikbaar in Afrika. So as hy breek kan jy hom darem herstel en terug kom. Die rede moet sekerlik wees omdat die Toyotas gereeld onklaar raak anders sou onderdele net op die rakke stof opgegaar het en niemand sou dit wou aanhou nie

Jan Seerot ·

My droom. ‘n Cruiser. Soos hierdie een. Gebou vir ‘n man. Soos ek. Niks anders nie. Net ‘n Cruiser.
Ek het vele al gery in Afrika. Vanaf 1984 tot 2020. Diesel en petrol.
Daar kan net èèn wees, en dis ‘n Land Cruiser.

krodedil ·

Jan, ek hoor wat jy sê maar as jy die helfte van jou petrol geld belê in ‘n aftreefonds dan kan jy op 30 jaar aftree. As petrol geld nie van belang is nie kan ‘n cruiser werk.

Anoniem ·

Iemand wat die Cruiser kan bekostig, het sekerlik geld vir brandstof.

Die Goodwoodianer ·

Soek jy ñ soliede dubbelkajuit wat betroubaar is en jaaaaaare sal hou? Kry dan die Cruiser! Of soek jy ñ frommelende blikkie met plastiekbuffers en fieterjasies wat sekerlik nie 30 jaar sal sien nie? Kry dan enige van die ander populêre goed.

Ja, selfs laasgenoemdes verkoop teen R900K en óp… so as jy dan die geld het, waarom nie eerder kwaliteit koop wat jou ñ leeftyd sal hou nie? A-nee-a-magtie!

CA ·

Ek is seker die Land Cruiser is nodig vir enkele situasies, maar regtig…?! Die aardbol trek swaar onder ons verbruik van hulpbronne en energiebronne, so kry jou kop in rat en skaal af…

andre ·

Ek dink die LC gaan 3 keer langer hou as n gewone R700 000 bakkies.Hy gebruik definitief nie dubbeld die hoeveelheid brandstof ,bande en ander slytasieitems nie. Heel moontlik plaas hy baie minder druk op hulp en energiebronne.

FrikkievV ·

Ek ry ‘n ‘ou’ Hilux. Dis gemaklik, vinnig genoeg en redelik op diesel vir wat dit is. Ek hou nie uitermate van Toyota, maar het die Hilux gekoop in 2011 vir goeie prys.

Die voertuig het hoe km’s maar het in 10 jaar nie juis verouder, dis steeds stewig, alles werk, maw radio en lugreeling en vensters ens. en geen meganiese probleme.

Ek het geen rede om te dink dit sal nie nog 10 jaar hou nie, ek sleep gereeld en 4×4 gereeld so die voertuig werk.
My punt is ek kan ‘n Cruiser koop, maar dis totale onnodigheid want ek sal nooit die potensiaal gebruik nie, maar sit met al die negatiewe: stadig, swaar op diesel, ongemaklik.

Punt is ek reken meeste mense wat Cruiser koop, maar nie almal, sal dit ook nooit ten volle benut en kon beter verrigting, beter verbruik en meer veiligheidstoerusting kry in ‘n bakkie. As die bakkie opgepas word kan dit ook solank hou as ‘n Cruiser.

SjN ·

Dit is die enigste eerlike motorvervaardiger wat adverteer dat die cruiser 4,5 km per liter gee. Hul vervaardig nou dubbelkajuite ook, die rede is sodat vier mense gelyk kan voel hoe hard en stamperig n cruiser ry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.